Plaaswerkers skuldig aan moord op Bonnievale-boer

Tool en Liezel Wessels. Foto: Verskaf

Vier burgers van Lesotho is vandeesweek skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Tool Wessels, ʼn boer van Bonnievale in die Wes-Kaap.

Ntabanyane Tlali, Thabiso Ramollo, Moeketsi Hlauli en Keketso Matshabisa het as plaaswerkers op Wessels se plaas Kapteinsdrift gewerk toe hulle hom die aand van 13 Mei 2019 op dié plaas naby Bonnievale doodgeskiet het.

Sy vrou, Liezel, is ernstig beseer en bewusteloos in die plaashuis agtergelaat, maar het die aanval oorleef.

Tlali, Ramollo, Hlauli en Matshabisa is elkeen Donderdag ’n lewenslange vonnis in die rondgaande hooggeregshof in Swellendam opgelê nadat regter Dereck Wille hul op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie skuldig bevind het.

Liezel het die vonnisoplegging bygewoon.

Ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê Tlali, Ramollo, Hlauli en Matshabisa het nie op die dag van die moord vir werk opgedaag nie. Hulle het egter die egpaar daardie aand op die plaas ingewag.

Maroela Media het destyds berig vier mans met klapmusse het die egpaar omstreeks 18:00 oorrompel. Liezel is met ʼn skerp voorwerp in die bors gesteek en op haar rug met kookwater gebrand. Sy het haar bewussyn verloor, maar dit later weer herwin en na ʼn buurplaas gevlug om hulp te ontbied.

Nadat Liezel alarm gemaak het, is ʼn soektog na Tool geloods. Sy liggaam is ʼn paar honderd meter van die plaashuis, by ʼn pompstasie langs die rivier, gevind. Hy was reeds dood.

Swartbooi sê ’n verdagte is ’n dag ná die moord in hegtenis geneem wat speurders na die moordwapen gelei het.

Daar is destyds tydens ondervraging vasgestel dat drie ander verdagtes na Lesotho gevlug het. Die verdagtes is eindelik op 25 Julie verlede jaar uitgelewer en na die Wes-Kaap vervoer om tereg te staan vir die moord op Wessels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Prikkie ·

En lewenslank is hoe lank? Dan is hulle weer terug om voort te gaan met hulle bose dade.

Hulle moet ten minste terug na hulle eie land verban word wanneer hulle (binnekort) vrygelaat word.

piet ·

Lewenslank is lewenslank maar hulle kan in aanmerking kom vir parool na 25 jaar in die tronk. Hulle sal vir die res van hulle lewe aan paroolvoorwaardes gebonde wees as parool toegestaan word wat gewoonlik hul vryheid van beweging sal inperk. Mense, hierdie is nie te moeilik om te verstaan nie…

Goldy ·

Die weskaap kan dit verhoed deur onafhanklikheidsreferendum maar die DA wil nie en dis net nog n bewys dat die DA maar net ANC se ligte weergawe is.

Frikkie ·

Die DA, het my en familie se stem reeds verloor, kom stem dag dan stem ons vir die Referendum Party.

Frikkie ·

Met die verkiesing stem ek en famile vir die Referendum Party, die DA luister nie na die mense van die Wes-Kaap wat n referendum wil he vir afstigting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.