Polisie volg leidraad op ná 11 moorde in Umlazi

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is gevra om sy ondersoek te verskerp na die onlangse moord op 11 mense tydens twee afsonderlike skietvoorvalle in Umlazi in KwaZulu-Natal.

Ses mense is Sondag in dié informele nedersetting doodgeskiet. Nóg vyf mense is twee dae later in Umlazi doodgeskiet toe drie verdagtes op ’n huis losgebrand het. Drie mense is tydens dié voorval ernstig gewond.

’n 14-jarige seun is onder die oorledenes.

Bheki Cele, minister van polisie, het Donderdag gesê geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak in enige van die twee skietvoorvalle nie.

Volgens die minister volg die polisie wel ’n sterk leidraad in die een voorval op, wat moontlik meer lig op die motief sal kan werp. Die leidraad sal ook moontlik kan bepaal of die skietery met mekaar verband hou al dan nie.

Cele het gesê baie van die slagoffers was bloot “op die verkeerde tyd op die verkeerde plek” hoewel ander met misdadigheid in die omgewing verbind kan word.

’n Profiel is van een van die oorledenes gedoen en dit toon dat hy ’n veroordeelde misdadiger was wat ’n opgeskorte vonnis van 12 jaar opgelê is vir gewapende roof en die besit van ’n onwettige vuurwapen.

“Die polisie moet egter die moordenaars van hierdie 11 mense vind, ongeag wie hulle was en wat hulle gedoen het,” het die minister gesê.

Cele het voorts gesê hy is beïndruk met die polisie se ondersoek na die 36 moorde wat in Julie tydens die grootskaalse oproer en plundering in Phoenix gepleeg is.

Altesame 56 verdagtes is reeds in dié verband in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Moedeloos ·

Meneer GEEN landsburger mag op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees nie. JY moet daarvoor sorg maar is te slaggat.

#013 ·

n Kind van 11 dood geskiet en die verweer is hul was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Dis belaglik. GEEN kind verdien om dood geskiet te word nie.

Persheks Adri ·

Cele, JULLE is veronderstel om ons veilig te hou, maar JULLE is eenvoudig nie in staat nie! Hoeveel moorde nog voor jy regtig wakker skrik? Kry die ongelisensieerde wapens van die straat af!!!

Hannes ·

Bheki Cele, ek dink JY is op verkeerde tyd op verkeerde plek! Ek kan nie glo die nar is ‘n minister nie, wat nog van Polisie.

Nie Verbaas ·

“Cele het voorts gesê hy is beïndruk met die polisie se ondersoek na die 36 moorde wat in Julie tydens die grootskaalse oproer en plundering in Phoenix gepleeg is.” Snaaks hoe hy net op sekere gevalle klem lê? Cele, wat is nou weer die statistiek vir suksesvolle arrestasies en veroordelings op misdaad in geheel?

Grassie ·

Psalm 1 sê gelukkig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie. Diegene wat met misdadigers assosieer verbeur dus hul gelukkigheid en moet maar die pyne vat wat daaruit voortspruit.

Jeffrey ·

Mnr hoedman, ek raai sterk aan jy ruil jou tradisionele hoed in vir een van daai harlekein hoedens met die klokkies aan die punte. Dit sal meer gepas wees.

Anel ·

Pleks doen hy sy werk en los die kommissaris om sy werk te doen. Hy wat Cele is het geen benul van polisiewerk nie. Hoe sê die oumense, skoenmaker hou jou by jou lees. Cele jy kan maar gaan.

Swerwer ·

O ..Hoed, jy mors jou tyd op 11 mense maar jy lig nie ‘n vinger en rep nie ‘n woord oor plaasmoorde nie.
Dus , as jy in jou huis is en jy word aangeval, beroof en vermoor was jy op die verkeerde tyd by jou huis? Skrik wakker Hoed.

Mariana ·

Verkeerde tyd, verkeerde plek….Wow!! En dit maak nou wragtig geen verskil nie. Cele jy is ‘n pateet en hoort nie in daai pos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.