Polisie weier om op te dok vir Mdluli en kie se regskoste

Richard Mdluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie van die polisie. (Foto: NVG/OD-kommunikasie)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens weier om Richard Mdluli, die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie, en sy medebeskuldigdes, Heine Barnard en Solomon Lazarus, se regskoste te betaal. Barnard is ʼn voormalige verkrygingsbestuurder en Lazarus die voormalige finansiële hoof van die misdaadintelligensie-eenheid.

Die mans staan tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en diefstal wat met die plundery van die polisie se geheime geldfonds tussen 2008 en 2012 verband hou.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die saak is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof tot volgende maand uitgestel nadat die beskuldigdes se aansoek om finansiële hulp van die staat afgekeur is.

Mdluli, Barnard en Lazarus sal nou weer op 22 Februarie in die hof moet verskyn wanneer daar op ’n verhoordatum besluit sal word. Die verhoor is al verskeie kere vantevore uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Mdluli het om finansiële hulp by die staat aansoek gedoen aangesien hy meen die oortredings waarvan hy beskuldig word, het plaasgevind terwyl hy nog in diens van die polisie was.

Die aanklagte teen Mdluli en sy medebeskuldigdes hou verband met bewerings van growwe misbruik van die polisie se geheime geldfonds. Dit sluit in betaling vir private reise na China en Singapoer, die private gebruik van huise van staatsgetuies, omskakeling van dié eiendomme vir persoonlike gebruik en die verhuring van Mdluli se private woning aan die staat om sy verband te betaal.

Mdluli dien tans ’n vonnis vir ’n afsonderlike skuldigbevinding uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Dis wat gebeur as ‘n ‘ n krimineel aangestel word as hoof van misdaadintelligensie! Wragtig hierdie tipe dinge gebeur net in SA met die korrupte, patetiese, onbevoegde spul ANC kaders. Skokkend! Besteel die polisiefonds dan het hy nog die vermetelheid om aan te dring dat die staat sy regskostes moet betaal. Wat ‘n arrogante, voorbarige vent! Hoop jy gaan tronk toe, wat ek persoolik nie dink sal gebeur nie, “as usual”

Hennie J ·

Hierdie gewetenlose skurk sal , net soos stortkop, die proses uitrek en vertraag tot in der ewigheid. Is die NVG en die regbank regtig nie by magte om dit te verhoed nie, of is almal net te moeg om te worry!

Swerwer ·

Die 3 is seker nie deel van die ANC Kader nie, dit is hoekom hul regskostes nie gedra word nie.

Johnny ·

Die klomp verstaan nie. Hulle dinkjy is geregtig op regshulp net omdat jy nog op die salarislys is.
Die regshulp is slegs bedoel vir aksies geneem in die uitvoering van jou pligte. Maar beslis NIE vir misdadigheid terwyl jy ‘n staatsamptenaar is nie.

Tanniepetoors ·

Mdluli is onder die indruk dat hy steeds “vriende” in die SAPD het. Sy “vriende” het die trekpas gekry. Daar is nog eerlike en intelligente mense in die SAPD. Meer as wat meeste mense wil erken en toegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.