Polisieduiker veg om lewe ná aanval by dam

AO Jannie van der Westhuizen (Foto: Boere Krisis Aksie BKA, Facebook)

AO Jannie van der Westhuizen veg tans om sy lewe in die hospitaal ná hy Maandag deur drie vermeende stropers by die Jozinidam in KwaZulu-Natal geskiet is.

Van der Westhuizen – ʼn ervare duiker wat verbonde is aan die waterpolisie in Richardsbaai – het help soek na Maxwell Nyawo (36), die bemanningslid wat vermis geraak het toe ʼn luukse huisboot, Shayamanzi I, Saterdag in die Jozinidam aan die brand geslaan het.

Van der Westhuizen en sy kollegas het Maandagoggend die dam gepatrolleer toe hulle drie vermeende stropers teëgekom het. Een van die mans het ʼn skoot op die beamptes afgevuur en die koeël het Van der Westhuizen in die kakebeen getref.

Volgens ʼn familielid van Van der Westhuizen, wat op voorwaarde van anonimiteit gesels het, het Van der Westhuizen se kollegas noodhulp op hom begin toepas.

“Die koeël het van agter sy kakebeen deur sy mond getrek. Jannie se neus is ook gebreek en hy het van sy tande verloor,” sê die familielid.

“Bloed het by sy keel afgedruk wat sy asemhaling beïnvloed het, maar steeds het Jannie deurgedruk en vir ʼn hele ent tot by die boot geloop.”

Van der Westhuizen is per helikopter na Netcare The Bay-hospitaal in Richardsbaai geneem. Hy is daar gestabiliseer voordat hy na Netcare St. Augustine-hospitaal in Berea oorgeplaas is.

“Hy is tans onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel. Sodra die swelling gesak het, gaan hy ʼn operasie ondergaan om sy kakebeen te heg.”

Lt.kol. Kobus Olivier, ʼn kollega van Van der Westhuizen, het aan Maroela Media vertel Van der Westhuizen is al vir die afgelope 30 jaar ʼn lid van die polisiediens.

“Hy is die watereenheid se mees ervare duiker met nagenoeg 20 jaar lange duikervaring. Hy is ook die dienende diepseevaartuigskipper en het oneindig baie kennis van die maritieme omgewing,” het Olivier vertel.

“Ons almal by die werk ken Jannie as die sterkste en taaiste mens. Elke oggend as ons vroeg by die werk kom, is hy al aan die oefen.”

Volgens Olivier het Van der Westhuizen ʼn groot invloed in die gemeenskap en op sy kollegas.

“Jannie het reeds diep spore tussen sy kollegas en die gemeenskap getrap. Ek glo dat God hom nog gaan gebruik om verder die gemeenskap te dien.”

Volgens kapt. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, word die drie vermeende stropers nog gesoek.

Maroela Media het vroeër berig altesaam nege mense, onder wie passasiers en bemanningslede, was Saterdag genoop om oorboord te spring toe die huisboot, Shayamanzi I, in vlamme was.

Michael Mirschel (64), ʼn toeris van Duitsland, en Michael Phiri (51), wat as kok op die boot gewerk het, het in die proses verdrink.

Die polisie soek sedert Saterdag na Nyawo, maar daar is nog geen teken van hom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Wakkerslaper ·

Wonder wie is die oorsaak van hierdie geweld, korrupsie, verval ens. As iemand net dit wil uitwys….

Toy ·

Hoe kan jy so iets aan iemand doen wat besig is om sy werk te doen en dink dit sal met jou goed gaan. Ek bid en vra die Here om jou te beskerm en jou gesond te maak. Baie sterkte.

Martie Smartie ·

Sal maar eerder nie se wat dink ek v hierdie Afrika uitvaagsels nie

LA ·

Ongelukkig stroop hulle die damme leeg met hulle gillnette. Dit word dagliks verwyder deur Ezemvelo KZNW, maar nuwes word gespan. Die stropers raak boos oor die werk wat Ezemvelo KZN se Anti-Poaching eenhede doen om die ekostelsel te beskerm en daarom word polisie, Ezemvelo werkers ens geteiken in hierdie areas

Sandra ·

Sterkte aan die dapper A/O van der Westhuizen. Dis op goeie dae nie maklik, glo ek, om ‘n polisieman te wees in die land nie. Voorspoed met die operasie.

JohanR ·

Dit hou net nie op nie! In die 70’s is my 17 jaar niggie alleen siek by die huis deur die tuinier, sy maat en ‘n jeug wat hulle deur die kombuis venster gestuur het doodgemaak. Die twee volwassenes is galg toe en die jeug is verbeterings skool toe. Miskien is die galg nie die antwoord nie maar party keer gee die afsluiting…..dink nou aan al die plaas moorde in SA. Sterkte aan die man en sy familie en hoop hy herstel volkome. Net ‘n vraag….. is daai KZN nou die gevaarlikste plek in SA?

Casper ·

Skuim van die aarde felliw s a.Skiet ‘n man wat besig is om na een van hulle te soek.Hulle is lankal terug in Swaziland Sterkte Jannie ek weet jy sal oorleef,God sê so.

Di ·

Al oplossing is dat die doodstraf terug gebring word. Hierdie onsinnige moorde gaan nooit stop voordat dit nie weer ingestel word nie. Die wat nou so so vasskop om dit weer te implimenteer, sal dalk nog self ‘n duur les geleer word hieruit.

Dup ·

n Lewe in SA is maar min werd.Die kriminele skiet voor die voet en gee nie ñ duit om nie.Geen wonder SA het een van die hoogste misdaadsyfers ter wêreld nie.Die wat kan vat maar die pad oorsee.Sterkte vir die beseerde en mag die kriminele gou gevang word.

LA ·

Vis stropery is groot in KZN, so jammer dat ‘n man wat sy werk doen, geteiken moet word deur stropers. Alhoewel die anti-poaching eenheid groot is en baie fantastiese werk doen om en in Richardsbaai, bly die skurke heeltyd een voet voor. Van pangas tot vuurwapens. Niemand kan meer hulle werk en passies uitleef nie.

Harley Davidson ·

Ek sien die arme man het al 20 jaar diens en nou word hy aangeval terwyl hy sy werk doen.

Jack ·

Nog iets wat bheki en ramaphosa op hul cv s kan aanbring. Hulle sal maklik werk in nigerie kry by die terroriste daar. Die land val uitmekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.