Polisieminister loof beduidende daling in Wes-Kaapse moordsyfer

Bheki Cele. (Foto: @GovernmentZA/Twitter)

Die minister van polisie, Bheki Cele, sê hy is bemoedig deur die dalende moordkoers en getal inhegtenisnemings wat in die Wes-Kaap gedoen is sedert Operasie Lockdown daar van stapel gestuur is.

Die operasie behels die ontplooiing van die weermag in die provinsie om ekstra steun aan die polisie daar te gee. Die weermag is drie maande gelede in grootliks die Kaapse Vlakte en ander informele nedersettings ingestuur om veral geweldmisdaad te stuit.

Cele en sy adjunk, Cassel Mathale, het vandeesweek ʼn verslag oor die operasionele ingrypings in die provinsie ontvang. Dit sluit in Operasie Thunder, wat in Mei verlede jaar begin is, die teen-bende-eenheid, wat in November verlede jaar met sy werk begin het en uiteindelik Operasie Lockdown, wat in Julie vanjaar van stapel gestuur is en reeds tot Maart aanstaande jaar verleng is.

“Die regering het van verlede jaar tot nou heelwat hulpbronne in die Wes-Kaap belê. Dit is hoofsaaklik gedryf deur die misdaadsyfers wat aangedui het dat meer as 50% van die Top 30-stasies [met die grootste misdaadprobleme] in die Kaapse metropool geleë is. Daar is ook ʼn spesifieke fokus op kontak- en trio-misdade (huisrooftogte, sakerooftogte, kapings),” het Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, gesê.

In Mei vanjaar is ʼn skokkende 73 moorde binne ʼn enkele week aangemeld, gevolg deur 13 moorde wat net ʼn paar weke later binne 48 uur in die provinsie aangemeld is.

Die weeklikse moordsyfer is nou in die 30’s.

“Die minister glo deur behoorlike beplanning, intelligensie en gemeenskaplik voordelige vennootskappe gaan die ingrypings suksesvol wees.”

In sommige gebiede styg trio-misdade egter steeds en veral straatrooftogte en kapings bly ʼn probleem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mm ja nee ·

Die videos wat ek al gesien het van skietery deur die bendes laat my aflei dat daar baie meer as 1,96 rondte per vuurwapen is… Ek wonder maar net

Verward ·

Regso all is well, wanneer word DÌT ook toegepas in die landelike gebied vir ons boere, soos kommandos destyds of word die bg net toe-geïen aan sekere gemeenskappe…

JohanR ·

Die bendes is op vankansie by see….nee nie Kaapstad….miskien Durban, NMB, of Oos Londen. Party is miskien in Namibia of Mauritius in die see. Sodra die troepe of April 1 2020 wegtrek, dan is hulle weer terug van die see. Intussen word hulle geweer getalle aangevil….maar deur wie, en van waar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.