Polisievoertuie brand toe gemeenskap reg in eie hande neem

Twee polisievoertuie en ‘n ambulans is in vlamme gehul na die gemeenskap geregtigheid in eie hande geneem het (Foto: First Help, Twitter)

Twee polisievoertuie en ’n ambulans is Dinsdag in Boikhutso digby Lichtenburg in Noordwes deur lede van die gemeenskap aan die brand gesteek. Dit volg nadat een van die polisievoertuie glo vroeër die middag ʼn agtjarige kind doodgery het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê dié voertuig van die polisie se honde-eenheid het die middag omstreeks 13:00 die kind getref wat oor die straat gehardloop het. Die kind is op die toneel dood verklaar.

Na die voorval het lede van gemeenskap besluit om die reg in eie hande te neem en die polisievoertuig aan die brand gesteek. Nog ʼn polisievoertuig asook ʼn ambulans is ontbied, wat ook aan die brand gesteek is.

“ʼn Plaaslike munisipale verkeersvoertuig is ook met klippe bestook terwyl goedere van een van die plaaslike snoepwinkels geplunder is,” vertel Mokgwabone.

Drie polisiebeamptes en twee paramedici is na afloop van die gebeure na die hospitaal geneem vir ʼn mediese ondersoek.

Twee polisievoertuie en ‘n ambulans is in vlamme gehul na die gemeenskap geregtigheid in eie hande geneem het (Foto: First Help, Twitter)

Daar was ook vroeër die dag ’n ongeluk aangemeld waarin ’n jong meisie gesterf het nadat sy omstreeks 10:20 op die Ottosdal-Lichtenburg-pad naby Blydeville in Noordwes deur ’n Isuzu-bakkie raakgery is.

Mokgwabone sê die polisie ondersoek tans twee afsonderlike sake van strafbare manslag. Die polisie ondersoek ook sake van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris van Noordwes, het sy medelye aan die families van die afgestorwe kinders betuig.

Hy het ook sy misnoeë uitgespreek teenoor die gemeenskap wat die reg in eie hande probeer neem het. “Dit is onaanvaarbaar en kriminele optrede. Sulke misdrywe sal nie ongestraf bly nie,” sê Kwena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eerlik ·

Ek verstaan die feit dat die polisie voertuie aan die brand gesteek is maar hel, die ambulans!!! Nie dat ek soveel vertroue in die polisie se bestuurs vermoe het nie maar hoekom was daai kind op straat tydens afsondering, en waar was die ouers? Aangesien die n K9 eenheid voertuig was hoop ek regtig daar was nie n hond agterin daai voertuig tydens die episode nie, hulle lewens beteken mos niks, nerens in die berig is daar besonderhede oor die hond/e nie.

Willem ·

Dis hartseer oor die kind wat deur polisie raak gery is.
Die mense gaan al moeiliker word orals hulle is honger. Die miljoene wat hy gisteraand van gepraat het sal hulle nie bereik nie. ANC sal die meeste in hul sakke steek

Stefan ·

Wat ook al gebeur, dit eindig in die plundering van winkels.
Hoe mense nog winkels durf bedryf in die gebiede slaat my dronk.

Michael 1 ·

Die anargie moet gestop word en ongelukkig is die polisie nie opgewasse of bevoeg om dit te doen nie,en die honger storie is al holrug gery, as jy nie werk nie kan jy nie eet nie,die zimbabwiërs wat nou in SA werk is n goeie voorbeeld.

Tinus ·

Ek mag nie werk nie want ek is in lockdown, dan mag ek ook nie eet nie?

Fred ·

Wydverspreide honger word alhoemeer n werklikheid en is nie holruggery nie. Waar moet hulle nou werk en kos kry?

Marius ·

Die sad part is dat ons polisie beheer word deur die gemeenskappe. Hoe laat jy sulke dinge toe? Gaan probeer dit in bv. Duitsland? Ons mag het geswik en het geen reg oor enige persoon nie. Ons mense is nie eens bang vir die gereg nie. Dit is i grap, as hier oorlog uitbreek sal die polisie en weermag eerste verslaan wees. Ons het nie beskerming van enige aard nie, punt.

Genis ·

Die polisie kannie eers n suipsessie in n bar reel nie…wat nog van behoorlikke skade beheer…

Warrior ·

Soms, soms is dit beter om net stil te bly. Mense wil nou maar nie luister of gehoor gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.