‘Politiek, Eskom, lewenskoste oorskadu erns van plaasmoorde’

(Argieffoto)

Dit wil voorkom of die erns van plaasmoorde en -aanvalle toenemend oorskadu word deur ander kwessies wat die land lamlê. Dit sluit in korrupte politici, omstrede regeringsbesluite, die voortslepende kragkrisis en selfs stygende lewenskoste en brandstofprysverhogings.

AfriForum het die afgelope week sy jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde bekendgestel. Daarvolgens was daar 333 bevestigde plaasaanvalle en 50 plaasmoorde in 2022. Dít in vergelyking met die 415 aanvalle en 55 moorde in 2021.

Uit die syfers lyk dit dus of die getal voorvalle afneem, maar AfriForum sê dit is nie noodwendig die geval nie. Die organisasie sê “daar is toenemend gevalle wat nooit by die polisie aangemeld word nie” terwyl daar in die media ook nie meer deeglik oor gevalle verslag gedoen word nie.

AfriForum is deels afhanklik van beriggewing oor plaasaanvalle en -moorde om ʼn omvattende beeld van dié soort misdaad in Suid-Afrika te skep.

Volgens dr. Ernst Roets, bestuurshoof vir strategie by AfriForum, lig die media eerder ander kwessies uit.

“Dit is ongelukkig so dat dit nie nuuswaardig is as ʼn persoon op ʼn plaas aangeval word en nie vermoor word nie,” het hy by die aankondiging van die navorsingsverslag gesê.

“Die hartseer ironie daarvan is dat daar nie eens oor die moorde berig word nie.”

Gawie Lötter, veiligheidsbestuurder by TLU SA, beaam dit en sê daar is ʼn morele verpligting op die media om die land bewus te maak van plaasmoorde en -aanvalle.

“Op nuuskanale en hoofstroommedia word daar weinig berig oor plaasmoorde, terwyl ander insidente baie aandag geniet. Die minister van polisie doen selfs moeite om ander misdaadtonele te besoek en die families van die oorledenes by te staan, maar as dit by plaasmoorde en -aanvalle kom, is daar geen sprake van nie,” sê hy.

“Ander aangeleenthede oorskadu dit ook: die kragkrisis, styging in brandstofpryse, politieke rompslomp en so meer. Hierdie soort kwessies kry daaglikse dekking, terwyl die bedreiging teen boere en voedselsekerheid skynbaar nie ʼn prioriteit is nie – nie vir die media of die politici nie.”

Roets sê dit is ook moeilik om ʼn geheelbeeld van die probleem te kry wanneer slagoffers nie alle voorvalle by die polisie aanmeld nie.

“Ek het al by verskeie geleenthede met mense gesels wat slagoffers van plaasaanvalle was, maar besluit het om nie dit te rapporteer nie,” sê hy.

“Sommige van hulle het geen vertroue in die polisie se vermoë om die verdagtes vas te trek nie en ander dink dat die polisie in elk geval niks aan die situasie gaan doen nie.”

Lötter meen dit is waarskynlik eerder die geval wanneer slagoffers minder ernstig van die aanvalle afgekom het.

“Dit wil voorkom asof daar min vertroue in die polisiemag is en waarom sal enigiemand glo dat die polisie só ʼn saak sal ondersoek as hulle nie vertrou word nie.”

Groter paraatheid

(Argieffoto)

Volgens Lötter het die tekort aan vertroue in die polisie boere egter aangespoor om self al hoe meer verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem.

Buurtwagte is in byna elke landelike gebied gestig, terwyl boere hande met private veiligheidsmaatskappye gevat het om plaasaanvalle te help bekamp.

“Boere het die gemeenskap se veiligheid op hulself geneem en dit begin al hoe meer vrugte afwerp. Daar is al by verskeie geleenthede beplande aanvalle afgeweer danksy boere se proaktiewe benadering.”

Luidens TLU SA se voortgesette navorsing oor plaasaanvalle en -moorde word daar geraam dat daar oor die afgelope 20 jaar byna 5 000 plaasaanvalle was. Meer as 1 500 boere is in die aanvalle vermoor.

Johan Nortjé, navorser by AfriForum, sê die brutaliteit van die aanvalle word ook nie minder nie, ongeag of daar meer of minder aanvalle en moorde is.

“Mense word wreedaardig vermoor, met gevalle waar hulle doodgeslaan of verwurg is, of soos in een geval waar ʼn egpaar op ʼn plaas doodgebrand is. Daar was nog ʼn geval die afgelope jaar waarin ʼn voorman voor sy werker, wat hom te hulp wou snel, doodgekap is,” sê hy.

“Meer dikwels as nie is daar boonop altyd meer as twee aanvallers en dan staan mense ʼn baie kleiner kans om lewend daarvan af te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Plaasmoorde en sal nóóit as prioriteitsmisdaad erken word nie, want SAPS lede is te lui om hul werk te doen. Oral gang hulle bedag rond en lyk besig. Mens sien dit daagliks.

TruthDealer ·

Dit is so dat hierdie hool baie baie ernstige probleme het. Maar sonder kos sterf jy, en oorledenes kan Geen probleem oplos nie. Nie blanke of swart oorledenes nie.
In die dae voor elektrisiteit kon mense oor die weg kom en aan die lewe bly solank hul water en KOS gehad het.
So ja, die uithaaĺ van diegene wat die nasie van kos voorsien, en die voorkoming van die verlies van diegene wat die bevolking letterlik aan die lewe hou – Moet een van die absoluut top prioriteite te wees. Wel, vir enigiemand met common sense.

Yvonne ·

Die dag dat daar nie meer kos in hulle bakke is nie gaan kom…en dan ?????

TruthDealer ·

Dan is dit Apartheid se skuld, blankes se skuld, die Paashaas en die Tandemuis se skuld, daar sal miljoene redes gevind word, en miljoene oorsake. Alles BEHALWE die een korrekte rede: Dat die ANC dit geignoreer het dat die bevolking eendag gaan sterf van hongersnood omdat die voorsieners van die land se kos Of vermoor is, of opgegee het en ophou boer het uit wanhoop en stres en eindelose obstruksies.

annie ·

Wanneer het plaasmoorde dan voorrang geniet? Nog nooit. Ons leef in ‘n Marxistiese staat wat moorddadigheid ‘vir ‘n goeie rede’ voorstaan. Die erge probleem gaan nooit deur die ANC aangespreek word nie. Ons mense moet dit besef en proaktiewe planne vir oorlewing smee. Boere moet besef hulle word gehaat en is ‘n bedreigde spesie.

Papsak ·

Ja alle word net erger en beste van als plaasmoorde tel nie word nie eens op televisie gewys nie laat buiteland kan sien hoe val en hoe wreed word ons boere gemartel in SA nie waar is daai een wat se doodstraf moet heel weg want sy beskerm haar boeties teen doodstraf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.