Min in hegtenis vir plaasmoorde

Johan Nortjé, navorser by AfriForum. (Foto: Verskaf)

Uit al die plaasmoorde wat verlede jaar aangemeld is, is verdagtes in slegs ʼn derde van die gevalle in hegtenis gemeem.

AfriForum het Dinsdag sy jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde bekendgestel.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het tydens die bekendstelling gesê in net 33% van die voorvalle is verdagtes in hegtenis geneem. Dit is egter onduidelik hoeveel aangekla en uiteindelik skuldig bevind is.

Dit is ʼn drastiese afname van die 47% wat AfriForum in 2020 bevind het in hegtenis geneem word ná ʼn plaasmoord.

Die getal inhegtenisnemings verlede jaar spruit uit altesaam 333 bevestigde plaasaanvalle en 50 plaasmoorde wat in 2022 plaasgevind het. Luidens die verslag het die getal plaasaanvalle die afgelope jaar afgeneem in vergelyking met die 415 aanvalle en 55 moorde in 2021.

“Ongelukkig is dit nie duidelik of die aantal plaasaanvalle wel werklik afgeneem het nie omdat daar toenemend gevalle is wat nooit by die polisie aangemeld word nie,” sê hy.

“In hierdie stadium is die publiek se vertroue in die polisie boonop uiters laag.”

Soortgelyk aan vorige jare was byna 40% van alle moordslagoffers die boer en eienaar van die plaas tussen die ouderdom van 50 en 79 jaar. Net soos in 2021 was byna twee derdes van al die slagoffers mans.

Die meeste plaasmoorde (10) is in Julie verlede jaar gepleeg, terwyl April meer aanvalle (45) gehad het, gevolg deur November (37) en Julie (34).

Johan Nortjé, navorser by AfriForum, voer in die navorsing aan dat die getal inhegtenisnemings vir plaasaanvalle en -moorde uiters power is. Sommige provinsies het wel beter as ander gevaar.

Die Wes-Kaap het ʼn 100% inhegtenisnemingskoers in 2022 aangeteken, nadat twee verdagtes wat by die enigste twee moordvoorvalle in die provinsie betrokke was, in hegtenis geneem is.

Die Noord-Kaap het ʼn 60% inhegtenisnemingskoers, met drie uit die vyf verdagtes wat eindelik in hegtenis geneem is. Owerhede in Limpopo het verlede jaar daarin geslaag om altesame 11 uit die 19 verdagtes vas te trek.

In KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes is minder as helfte van die getal verdagtes wat by plaasmoorde in die provinsies betrokke was in hegtenis geneem. In KwaZulu-Natal is altesame nege van die 20 verdagtes wat verdink word van moord in hegtenis geneem, in die Vrystaat is drie van die sewe verdagtes vasgetrek en in Noordwes is twee van die 15 verdagtes in hegtenis geneem.

“Wat veral kommerwekkend is, is dat geen plaasmoordverdagtes in die Oos-Kaap, Gauteng of Mpumalanga in hegtenis geneem is nie,” sê Nortjé.

In dié drie provinsies was onderskeidelik drie, tien en 11 verdagtes by plaasmoorde betrokke.

Infografika oor plaasmoorde. (Foto: Verskaf)

Volgens Nortjé is dit wel bemoedigend om te sien dat wanneer verdagtes wel in hegtenis geneem word vir plaasmoorde, dit dikwels in minder as 48-uur ná die voorval of nadat die slagoffer se liggaam gevind is, plaasvind. In meeste van hierdie gevalle het lede van die publiek boonop die polisie met die inhegtenisnemings bygestaan.

“Die langste tydsverloop tussen die datum van ʼn moord en die tyd van inhegtenisneming was 17 weke,” sê hy.

“In hierdie spesifieke geval is die liggaam van die slagoffer in Mei verlede jaar in ʼn suikerrietplantasie aangetref. Die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid in KwaZulu-Natal het eers in September ʼn deurbraak gemaak toe hy drie verdagtes in verband met die moord in hegtenis geneem het.”

AfriForum maan boere en die publiek in die algemeen om hul eie veiligheidstrukture op die been te bring en aktief by die beveiliging van hul eie gemeenskappe betrokke te raak. AfriForum het 160 buurtwagstrukture landwyd en bied ook veiligheidsopleiding vir boere aan.

“Die minister van polisie, Bheki Cele, het self onlangs erken dat die polisie nie in staat is om sy pligte uit te voer sonder hulp van die betrokke gemeenskappe nie, en vir eens stem ek met hom saam,” sê Broodryk.

“AfriForum is ook besig om regsopsies te ondersoek om vir plaas- en buurtwagte meer mag daar te stel om hul take doeltreffend uit te voer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Plaasmoorde is nie ‘n preoriteit nie want die ” feite” soos die regering en die media dit gee is aanvallers en slagoffers pleks om dit te beskryf soos dit is, voorheen benaadeeldes is in 99% verantwoordelik vir die aanvalle en huidige benaadeelde minderhede is in die meeste gevalle die slagoffers.Die probleem is ook daar is nie meer regte joernaliste wat die waarheid gee soos dit is nie.

WILLEM ·

Plaasmoorde is meestal net op wit boere – geen poging word aangewend om die moordenaars te vang nie. HOEKOM???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.