Private maatskappy kry trekpas ná debakel by Mangaung-tronk

Die Mangaung-tronk in Bloemfontein. (Foto: Becker Semela)

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) gaan sy ooreenkoms met die private maatskappy Bloemfontein Correctional Services (BCS) beëindig.

Dié maatskappy bestuur die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis waaruit die veroordeelde misdadiger Thabo Bester verlede jaar ontsnap het.

Die DKD sê die besluit om die kontrak op te skort is geneem nadat die departement ʼn regsmening daaroor ingewin het. Volgens die departement is BCS “nie bevoeg óf geskik” om met die kontrak voort te gaan nie.

Die departement het die private maatskappy ingevolge sy ooreenkoms met BCS 90 dae kennis gegee van die voorneme. “Die kontrak sal daarna nie meer bestaan nie,” sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die DKD.

Die kennisgewing volg minder as twee weke nadat die DKD op 20 April aangekondig het dat hy ʼn  regsmening oor die ooreenkoms gaan inwin.

Nxumalo sê die departement gaan dadelik met die oornameproses begin. Die kontrak stipuleer wel dat ’n spesifieke proses in hierdie verband gevolg moet word.

Thabo Bester (Foto: AFP)

Bester, ’n veroordeelde verkragter en moordenaar, het op 3 Mei verlede jaar uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis ontsnap nadat hy mense laat glo het dat hy in sy sel doodgebrand het.

ʼn Verbrande liggaam is destyds in sel 35 aangetref.

Foto’s van ʼn man wat baie soos Bester lyk, het in Maart vanjaar egter die lig gesien en dit het tot verskeie vrae oor sy sogenaamde dood gelei. DNS-monsters het intussen gewys die oorskot in die sel is nie dié van Bester nie, maar van Katlego Bereng Mpholo, wat vroeër as vermis aangemeld is.

Altesame agt verdagtes is tot dusver in verband met Bester se gewaagde ontsnapping in hegtenis geneem. Dit sluit in Bester, sy vriendin, dr. Nandipha Magudumana, en dié se pa.

  • Lees al Maroela Media se berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

skurweberg ·

As jy nie jou huiswerk gedoen het met die integriteit en bevoegdheid van werknemers voor aanstellings in poste nie, ly die hele samelewing daaronder. Hierdie beginsel geld ook vir alle politieke aanstelling. Stamp maar julle koppe 100x teen dieselfde klip.

Kiepie ·

Darem opvallend hoe vinnig selfs ‘n staatsdepartement kan optree as daar iemand anders is om die skuld te dra! Aan hul eie wanadministrasie en wanbestuur word egter nooit iets gedoen nie.

Uitmykoker ·

Volgens hul webwerf is die G4S maatskappy in London asook Kopenhagen genoteer. Die maatskappy het meer as 500000 werknemers en is aktief in 100 lande (waarvan 29 in Afrika is). Hierdie is dus ‘n maatskappy van internasionale formaat, en ek aanvaar dat die gebeure rondom die Thabo Bester saak skokgolwe deur sy oorseese raadskamers sou gestuur het. Ek vermoed ook dat hierdie gebeure aanlyding sal gee tot ‘n deeglike interne ondersoek. Dit sal interessant wees om insae te kry tot die bevindinge van daardie ondersoek; veral ten opsigte van die aanstelling van personeel binne die raamwerk van die unieke kriteria wat deur Suid Afrikaanse arbeidswetgewing aan maatskappye voorgeskryf word.

Hennie ·

G4S bestuur baie tronke in die VK baie suksesvol. Ongelukkig is BBBEE n werklikheid in SA. Kom ons kyk hoe effektief die DKD dit bestuur …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.