Private verskaffers kan ‘kragrevolusie’ veroorsaak

(Argieffoto: Verskaf)

Solidariteit het ʼn beroep op kleinskaalse opwekkers van elektrisiteit gedoen om in hul honderde aansoek te doen vir opwekkingspermitte en sê grootskaalse toetrede deur kleiner verskaffers is nodig om die land se kragkrisis te stuit.

Die organisasie het Donderdag by die bekendstelling van ʼn navorsingsverslag oor die kragkrisis en voorgestelde oplossings daarvoor, ook aangekondig dat hy self beplan om deur die ontwikkelingsmaatskappy Kanton, waarvan hy die grootste aandeelhouer is, by kragopwekking betrokke te raak. Die navorsing is deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gedoen.

Regulasies vir grootskaalse private opwekking is onlangs gewysig en tot 100 MW kan nou sonder ʼn lisensie, maar met ʼn permit, opgewek word.

“As die private sektor hierdie geleentheid aangryp, kan dit ʼn kragrevolusie veroorsaak. As ons ons hoop op Eskom en die staat bly vestig, gaan dit ʼn kragdepressie veroorsaak. Ons doen ʼn beroep op ontwikkelaars, winkelsentrums, groot maatskappye, inwonersverenigings, entrepreneurs, grootboere en ander om aansoek te doen sodat hulle krag kan opwek, versprei en verkoop,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Dit is die regte ding vir die land en is ʼn kommersiële geleentheid. Die nuwe elektrisiteitsektor kan duisende nuwe werksgeleenthede direk en miljoene geleenthede indirek skep.”

Die SNI-verslag wys dat Suid-Afrika van nou tot 2035 byna net soveel krag moet opwek as wat die ganse Eskom nou doen. Suid-Afrika gaan boonop 22 000 MW opwekkingskapasiteit verloor omdat talle steenkoolkragsentrales tussen nou en 2035 hul bedryfsleeftyd gaan bereik.

Connie Mulder, hoof van die SNI, maan dat fase 6-beurtkrag ʼn permanente vooruitsig kan word as die stand van sake voortduur.

Solidariteit gaan nou ʼn hulplyn open waar aansoekers hulp kan kry om vir permitte aansoek te doen en gaan ook ondersoek instel om mense op te lei om kragopwekking en die vervaardiging van komponente vir opwekking te stimuleer.

“Ons is oortuig daarvan dat die damwal vir private opwekking gaan breek. Ons wil daarvoor voorberei deur self op kleinskaal by opwekking betrokke te raak en deur vaardighede te skep. Die private sektor moet nou alle moontlike bottelnekke verwyder. Slegs as daar baie en verskillende soorte aansoeke is, sal al die struikelblokke vir private opwekking verwyder kan word,” sê Hermann.

“Ons glo dat dié krisis ʼn wil vir private opwekking by die regering geskep het. Nersa moet alles moontlik doen om struikelblokke uit die weg te ruim. Die prosesse moet sonder hindernisse wees.”

Hermann sê indien nodig, sal Solidariteit hom tot die howe wend om die proses gladder te laat verloop.

Eskom steeds deel van oplossing

Solidariteit sê ook Eskom kan nie uit die gesprek oor die toekoms van kragopwekking in Suid-Afrika gelaat word nie.

“Ons het alles nodig. Tans sit Eskom met geweldige uitdagings wat korrupsie, vermoë en finansies betref. Eskom moet gestabiliseer word deur die skelms toe te sluit, die slegtes af te dank en die skuld te betaal,” sê Hermann.

Solidariteit gaan steeds voort met sy strafklagte teen vermeende staatskapers en gaan opnuut ʼn lys van vaardige en gewillige ingenieurs aan die regering voorlê wat tydens die krisis kan help.

“Al manier hoe Eskom uit sy finansiële verknorsing kan kom, is as die ekonomie groei en al manier hoe die ekonomie kan groei, is as kragopwekking gedesentraliseer word. Eskom moet ʼn rolspeler in ʼn opwindende en mededingende energiesektor word ten einde terug te keer na winsgewendheid en stabiliteit,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Herman ·

Hoor! Hoor! Ons mag nooit opgee nie. Dankie Solidariteit. Positief gaan ons die toekoms in met ‘n PLAN!

Manie ·

Hoe verduidelik Eskom dat SA onder kragonderbrekings moet gebuk gaan, terwyl hulle krag aan Namibia, Botswana, Zambia, Zimbabwe, Mosambiek, Letotho en Swaziland verkoop?

Christine ·

Want daai lande betaal vir hul krag en betaal salarisse. Enigste lifeline vir Eskom wat oor is.

Nicholaas ·

Ek stem, ons moet bid dat GOD ons help en dan moue oprol en skouer aan die wiel sit.

annie ·

Indien donker magte die siel van die ANC besit, sal geen plan of fondse die logge liggaam van die parassiet tot ander denke dwing nie. Mantashe se denke is vasgesmelt in die 1994-modus operandi van die vryheidshandves wat verwoesting voorstaan. Bogenoemde positiewe planne vir vooruitgang opponeer die sinistere bloudruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.