Probleme met watergehalte ‘nasionale krisis’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Verskeie politieke partye het die skuld vir die cholera-uitbreking in Hammanskraal op die DA-geleide koalisie in die Tshwane-metro gepak en voer aan die metro se versuim om ʼn basiese diens te lewer – die verskaffing van drinkbare water – het nou reeds 15 menselewens gekos.

Maroela Media het vroeër berig die uitbreking was geen verrassing vir diegene wat al jare lank waarsku dat Tshwane sy waterveiligheid moet opskerp nie.

Die DA sê egter dit het nou duidelik geword dat die huidige cholera-uitbreking nie ʼn “Tshwane-krisis” is nie, maar meer waarskynlik ʼn landwye probleem.

“Voorvalle van cholera is ook in die Vrystaat en Limpopo aangemeld, wat bevestig dat die uitbreking in Tshwane nie die gevolg is van ʼn verval in dienslewering van ʼn regering wat nog net twee maande aan bewind is nie,” sê Leon Basson, ʼn DA-woordvoerder oor water en sanitasie.

“Dit is die gevolg van jare en jare se nasionale regeringsverwaarlosing en vorige plaaslike regimes wat metro’s bankrot gemaak het tot die punt dat hulle amper onder administrasie geplaas moes word.”

Volgens Basson probeer politici soos Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en die regerende party doelbewus om die publiek met “propaganda” te mislei deur die krisis regstreeks aan die DA-geleide koalisie in Tshwane te koppel.

Hy sê hulle verswyg die geskiedenis van hul eie verwaarlosing.

“Dit kan nie duideliker bewys word nie as ʼn parlementêre antwoord van die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, vandeesmaand wat aan die lig gebring het dat waterinfrastruktuur-agterstande oor tien jaar R89,9 miljard per jaar gaan kos, met 3 698 074 kiloliter water wat daagliks verlore gaan weens infrastruktuurmislukking en -lekkasies.

“Dit kos Suid-Afrika elke jaar R250 miljoen.”

Volgens die DA het die 2014-groendruppelverslag (die jongste beskikbare verslag) getoon dat 84% van die 824 afvalwatersuiweringsaanlegte in die land daagliks 4 200 miljoen liter onbehandelde of onvoldoende behandelde rioolwater onwettig in 82% van die land se riviere stort.

“Dit is verbysterend. Gegewe hierdie situasie, was die huidige cholera-uitbreking onvermydelik.”

Daar was nog gevalle van cholera-uitbrekings in ander munisipaliteite en provinsies, sê Basson. Dit bewys dat swak watergehalte en sanitasie nie uitsluitlik ʼn Tshwane‑probleem is nie, maar een wat die hele land raak.

“As die nasionale regering nie intree om munisipaliteite te help met die opgradering van infrastruktuur om veilige water te verskaf nie, sal baie meer mense sterf.”

Die DA doen ’n beroep op die nasionale regering, en die ANC in Gauteng, “om goedkoop politiek te staak” en eerder dringend ʼn plan te beraam vir die algehele opknapping van die land se infrastruktuur sodat soortgelyke uitbrekings in die toekoms voorkom kan word.

Die DA doen ook ʼn beroep op Mchunu om met die Tshwane-metroraad en die private sektor saam te werk om alle opsies te ondersoek om die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg op te gradeer.

“Die voltooiing van fase 2 van die opgraderings sal die stad R2,5 miljard kos; Tshwane se ganse kapitaalbegroting,” sê Basson.

“Dit is nou belangriker as ooit vir die nasionale regering om saam met die Tshwane-administrasie te werk en hierdie opgraderings dringend af te handel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

skurweberg ·

‘n Nuwe strategie is nodig vir die nuwe senario “to little to late”

Dup ·

Rou riool loop elke dag in riviere en in die see in.Dit is ñ wonderwerk dat meer mense nie siekword of sterf nie.

Althes ·

Die DA het die munisipaliteit van die ANC geërf wat sedert 2010bdie sqnitasie agteruit laat gaan het.

Papsak ·

Klaar te laat want hulle veroorsaak al hierdie ellende maar hulle self sal deur loop onder dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.