Probleme weens watertekorte in Tshwane kring uit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die waterprobleme wat die Tshwane-metrogebied voortdurend teister begin nou uitkring, ook na gesondheidsfasiliteite wat sukkel om weens gebrekkige waterverskaffing die mas op te kom.

Rina Marx, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, sê sommige fasiliteite moes hul deure tydelik sluit omdat die watertekorte dit onmoontlik maak om higiënestandaarde te handhaaf.

Die metro se departement van gesondheid is Maandag gedwing om die Olievenhoutbosch-kliniek te sluit weens die voortslepende watertekorte. Die watertoevoer is eindelik herstel en teen die volgende dag kon die kliniek weer sy bedrywighede hervat.

“Soortgelyk ondervind die Lotus Gardens-kliniek ʼn watertekort. Dié fasiliteit bly vir tyd en wyl nog oop terwyl reëlings getref word om sy rugsteunwatertenk vol te maak,” sê Marx.

Die voortslepende watertekorte raak veral higiënepraktyke by gesondheidsfasiliteite; ʼn gebrek aan water maak dit haas onmoontlik om behoorlik hande te was voor en ná prosedures ingevolge die infeksiebeheerbeleid.

Toilette kan nie gespoel word nie en die toediening van enkeldosis-medikasie is nie moontlik nie aangesien daar nie water vir pasiënte beskikbaar is nie.

“Higiëne kan nie by ons 24 primêre gesondheidsfasiliteite in die gedrang gebring word nie. Daarom is dit noodsaaklik dat die watertoevoer herstel word om te verhoed dat meer klinieke hul deure moet sluit,” sê sy.

Groot dele van die stad was die afgelope week sonder water, glo omdat kragonderbrekings Rand Water se vermoë om water aan die metro te verskaf, belemmer.

Rand Water beperk sedert die naweek die verskaffing van water aan verskillende reservoirs in ʼn poging om sy eie watervlakke te stabiliseer.

Die Tshwane-metro is afhanklik van Rand Water vir meer as 70% van die water wat aan inwoners verskaf word.

Net enkele maande gelede het talle buurte in die ooste van Pretoria ook dae lank sonder water gesit en sedert Desember is verskeie soortgelyke gevalle – waar Rand Water se watervoorsiening aan Tshwane en ander munisipaliteite sonder waarskuwing onderbreek is – ondervind.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, het reeds gesê hy gaan regsadviseurs en waterkenners raadpleeg om vas te stel wat Tshwane kan doen om meer weerbaar teen die probleme by Rand Water te wees.

Marx sê sy is verheug dat die metro stappe doen om Rand Water te raadpleeg oor moontlike oplossings vir die waterprobleme.

“Die departement sal gemeenskappe op hoogte hou van die stand van sake en as die nood druk om enige gesondheidsfasiliteite toe te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Tshwane Metro moet na sy eie waterbronne kyk en ‘n alternatief he vir Rand Water.

Danie ·

Dit is n onmoonlike taak.Boorgate kan nie onbepaald water voorsien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.