Pta-sakekamer verheug oor privatisering van Wonderboom-lughawe

Wonderboom-lughawe Foto: My Broadband

Die Pretoria Sakekamer sê hy is verheug oor ʼn besluit van die Tshwane-metro om die Wonderboom-lughawe onder privaatbestuur te plaas.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, sê hoewel die amptelike proses nog in die beginstadium is, is die Tshwane-metro se besluit “wind onder die vlerke” wat samewerking tussen die metro en die privaatsektor aanmoedig.

Maroela Media het vroeër berig die Wonderboom-lughawe is ʼn belangrike en strategiese bate vir die stad, maar dit is dekades lank nie tot sy volle potensiaal bedryf en ontwikkel nie.

“Vir te lank is die lughawe sonder ʼn behoorlik werkbare plan en deur onbevoegde strukture bestuur wat nie in die lugvaartbedryf spesialiseer nie.

“Die lughawe is al vir ʼn geruime tyd ʼn bodemlose put van finansiële verlies vir die stad en dit is duidelik dat die Tshwane-metro nou besef het dat ʼn bate onder sy bestuur nie noodwendig winsgewend is nie,” sê Ferguson.

Hy sê hy het reeds verlede jaar gesprekke met private ondernemings gevoer wat in lugvaart spesialiseer om ʼn werkbare bestuursplan en model vir die lughawe te ontwikkel.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, ’n internasionaal-erkende strategiese besigheidsontwikkelaar- en afrigter

“Dit is duidelik volgens die voorlegging deur die privaatsektor dat die lughawe suksesvol en winsgewend bedryf kan word.

“Deursigtigheid van die hele proses is van uiterste belang. Ons stel voor dat die tegniese span gereeld terugvoer oor vordering, prosedures, uitkomste en teikendatums aan alle belanghebbendes verskaf.”

Ferguson meen privaatvennootskappe met die sakesektor, soos beoog word met die Rooiwal- en Pretoria Wes-kragstasie, is die beste manier om kapitaal effektief aan te wend en die vereiste vaardighede te verseker.

“Die Wonderboom-lughawe kan met so ʼn vennootskap die enorme verlies wat die Tshwane-metro maandeliks ly in ʼn waardevolle bate met ʼn goeie langtermynopbrengs omskakel.

“Ons navorsing oor die ekonomiese vermenigvuldiger van hierdie inisiatief toon dat verskillende industrieë soos lugvaartopleiding, infrastruktuurontwikkeling, logistieke dienste, werkverskaffing en ekonomiese groei hierby sal baat.

“Ons plan om Pretoria teen 2050 ʼn wêreldklas sakesentrum te maak, gaan ʼn groot bydrae lewer om beleggings en maatskappye na Pretoria te lok.”

Ferguson sê die Pretoria Sakekamer staan gereed om hulp en ondersteuning te bied om te verseker dat hierdie projek ʼn sukses vir die stad en sy inwoners is, asook vir die entrepreneurs wat die risiko neem om hierby betrokke te raak.

“Ons sien uit na die tegniese komitee se aanbevole tydlyne en maatreëls om korrupsie en onregmatige bevoordeling hok te slaan en deurlopende professionele bestuur toe te pas.

“Besoek gerus die Pretoria Sakekamer se webwerf en word ʼn lid vir ondersteuning en bystand om Pretoria tot ʼn wêreldklas sakesentrum te help herbou,” sê Ferguson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Baie geluk aan die sakekamer,privaatsektor wat met reuse spronge onwikkel. n groot geleent tot arbeidskepping met meriete keuring

Heila Isabella ·

Bly die sakesektor raak betrokke hoop net dat daar nie ook kaderontplooing gaan wees nie en hoop alle bedrog word in die nek geslaan nog altyd gewonder hoekom die lughawe nie tot sy volle potensiaal gebruik kan word nie dit sal vir die pupliek in die onmiddelike omgewing meer gemaklik wees indien pryse nie die hoogte in skiet nie

Casper ·

Rooiwal en Pretoria-Wes kragstasies moet nou net realiseer dan kan die stad baie geld spaar,elektrisiteit bekostigbaar maak en onafhanklik van eskom funksioneer.

Adri ·

“onbevoegde strukture”! Nuwe beskrywing. Ek hou daarvan. Kom ons vertrou bevoegde strukture gaan die lughawe red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.