Pta’ners gevra om munisipale skuld te vereffen

Argieffoto van Pretoria. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Die Stad Tshwane, wat self kniediep in die skuld is, het Donderdag ’n beroep op Pretorianers gedoen om hul agterstallige munisipale rekeninge te vereffen.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Stad Tshwane, sê die stadsraad het in ’n poging om deursigtigheid te bevorder moeite gedoen om te verseker dat inwoners akkurate munisipale rekeninge ontvang en dat daar geen foute of teenstrydighede in die faktuurproses inglip nie.

Volgens Bokaba het die stadsraad egter nou met kommer daarvan kennis geneem dat daar inwoners is wat nie hul munisipale rekeninge betaal het nie. “Dit belemmer nie net ons vermoë om noodsaaklike dienste te handhaaf en te verbeter nie, maar plaas ook ’n onregverdige las op daardie kliënte wat elke maand hul rekeninge betaal,” sê Bokaba.

Die Stad Tshwane het nou ’n toegewyde span aangestel om kliënte te help om hul geblokkeerde rekeninge weer te aktiveer nadat die munisipaliteit ’n ontvangs van betaling gekry het óf ’n betalingsreëling met die munisipaliteit aangegaan is.

Die stadsraad waarsku intussen dat inwoners met Tshwane-koopkragmeters nie in staat sal wees om elektrisiteit op te laai totdat hul uitstaande skuld vereffen is of ’n betalingsreëling aangegaan is nie.

Bokaba sê indien ’n kliënt ’n rekening het wat agterstallig is en probeer om elektrisiteit aan te koop, sal die transaksie steeds verwerk word. Geen elektrisiteitseenhede sal egter aan die betrokke rekening toegewys word nie.

Die bedrag wat gebruik is om elektrisiteit aan te koop, sal eerder direk aan die Stad gaan om die uitstaande skuld te vereffen.

“Ons verstaan ​​die uitdagende ekonomiese omstandighede waarmee baie mense en gesinne te kampe het, maar vir die stad om voort te gaan met die ononderbroke voorsiening van dienste, moet kliënte hul kant bring en die verantwoordelikheid neem om hul munisipale rekeninge ten volle en betyds te betaal,” sê Bokaba.

Maroela Media het egter vroeër vandeesweek berig Tshwane se uitstaande rekeninge by Eskom beloop ’n bedrag van R3,1 miljard vir Augustus, September en Oktober 2023 met ’n algehele skuld van R4,2 miljard.

’n Huidige rekening van R1,1 miljard is op 28 Desember 2023 betaalbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

So hoe praat julle met die staT gedeelte van die stad om julle geld te kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.