Publiek gemaan na mortiere in dam gevind word

Een van die mortiere wat by die dam gevind is. Foto: SAPD

Die polisie in Uitenhage in die Oos-Kaap het lede van die publiek gemaan om nie enige vreemde voorwerpe wat hulle in die omgewing van die Strelitziadam vind, op te tel of te hanteer nie.

Dit kom nadat twee mortiere Vrydag by die dam gevind is. Volgens kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het die twee mense wat die mortiere gevind het, dit vervoer sonder om daarvan bewus te wees dat dit noodlottige gevolge kon hê.

“Dit het later aan die lig gekom dat die twee mortiere nog aktief was en dus kon afgaan. Die polisie se bomverwyderingseenheid van Port Elizabeth is ingelig en die mortiere is gedeaktiveer.”

ʼn Derde mortier is intussen Saterdag gevind deur ʼn man wat gehengel het. “Hy het ook onwetend die mortier hanteer, maar gelukkig die polisie in kennis gestel waarna die bomverwyderingseenheid na die toneel is en daarop beslag gelê het.”

Volgens Swart het die dam se vlakke die afgelope paar maande gedaal en dit kan moontlik die rede wees vir die onlangse ontdekkings.

“Die polisie beraadslaag tans met die munisipaliteit om die dam te sluit sodat ʼn deeglike soektog deur die bomverwyderingseenheid gedoen kan word om te verseker dat alle mortiere in die dam gevind is.”

Die polisie het lede van die publiek versoek om die Uitenhage-polisie by 041 996 3434 te kontak indien hulle op ʼn vreemde voorwerp in die omgewing van die dam afkom.

“Indien hierdie mortiere verkeerd hanteer word, kan dit afgaan en noodlottige gevolge hê,” het Swart gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ronel ·

Hoekom “beraadslaag” hulle nog met die munisipaliteit. Sluit die dam en sê dan hoekom. Mense se lewens is basies in gevaar en hulle beraadslaag. Nog n rede vir n “party”…

SjN ·

Laat die skrootwerf eienaars dit koop en sien wat gebeur as hul dit opsny.

Frans C ·

Lyk soos ‘n Twee duim mortier wat peletons sou gebruik.

Henk Ackermann ·

Frans , hoe oud is jy as jy nog in duime praat ? Dit is 60mm mortiere daai . Dalk was dit iemand se soeweniers van die grens oorlog se tyd ?

@Henk ·

Wat maak dit saak dat Frans van praam duim i.p.v. mm en hoe oud hy is? Die ouer mense kan jou baie dinge leer slimjan.

Wat ·

Kry vir FW en Roelfie om te gaan beraadslaag met die munsipaliteit…

Frans C ·

Beste Henk
Oud genoeg om te weet wat ‘n 60mm mortier voorkeen genoem is.

Leon ·

Die ANC moet seker maak dat die serie nommers nie na hulle toe terug kan verwys nie. Dit is dalk van die wat hulle gebruik het in hulle sogenaamde stryd en dit kan dalk ‘n verleentheid wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.