Drie verdagtes sal na verwagting Maandag in ʼn Kaapstadse landdroshof verskyn nadat byna R2 miljoen se perlemoen in hul besit gevind is.
Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê die mans, onderskeidelik 24, 28 en 39 jaar oud, is Donderdagaand laat in Plumstead in hegtenis geneem.
“Beamptes van die polisie se taktiese reaksie- eenheid en ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy, Combat Force Security, het op inligting gereageer en omstreeks 22:00 ʼn klopjag by ʼn perseel in dié voorstad uitgevoer,” het Rwexana gesê.
“Die perseel is deursoek en altesaam 19 097 stukke perlemoen is gevind en op beslag gelê. Die polisie het ook beslag gelê op toerusting om die perlemoen mee te verwerk.”
Die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle moet binnekort in die Wynberg-landdroshof verskyn.
Die Dieprivier-polisie het die gemeenskap en Combat Force Security bedank vir hul samewerking.
Dit slaan my dronk dat miljoene perlemoen eers gevind word as dit klaar verwerk is. Hoekom kan die stropers wat openlik die goed uithaal, nie op heterdaad betrap word nie? Hoekom moet dit eers verwerk word? Is dit sodat die mense wat dit moet oppas dit makliker verkoop kan kry???
Stem volkome saam.
Omdat dit reeds bewys is dat van die DAFF en SAPS manne betrokke is… en natuurlik is daar ook die “backhand” geld wat mense blind maak….
Ek verstaan ook nie hoekom die regering hierdie bedryf nie kan hokslaan nie. Weereens bewys van hulle totale onvermoee om enigiets reg te doen
Ek weet nie eers hoe die goed proe nie :'(
Proe soos smaaklose skoensole…. ?
Dit verbaas my dat daar nooit (selfs nie eens in die “ou dae”) verpligte doodstraf was vir goed soos perlemoenstroping nie.
Weereens n bewys dat wette net die wetsgehoorsame burger benadeel. Die van ons wat al die jare ons kwota soos per ons lisensie uitgehaal het mag nou niks meer uithaal nie, maar dit stop nie die stropers nie.
Het dit al geproe…smaak soos niks en baie taai.
Ek het al boodskappe by Valke, Polisie ensovoorts gelos oor mense in ons area wat perlemoen duik. Maar ja, hulle vee hulle af. Hulle kan ook nie net die uithaal proses hokslaan nie, want daar is sooo baie van hulle. Vanaf Gansbaai tot verby Yzerfontein is daar duisende duikers elke nag in die water. En die grootkoppe kry hulle nooit nie. Die sindikaat het hordes mense wat onder hulle werk. Dit gaan van duik na 1 plek toe waar hulle dit hou, tot iemand anders dit kom haal. Dan spoel en was hulle dit op ‘n ander plek, dan skuif dit weer om gedroog te word en en en…so gaan dit aan.