Ramaphosa gaan nie (nou) Phala Phala-verslag betwis nie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa het, vir eers, besluit om nie die artikel 89-paneel se verslag, wat bepaal dat hy moontlik verantwoording moet doen oor die diefstal van Amerikaanse dollar op sy Phala Phala-plaas, te betwis nie.

Die president het vroeër vanjaar sy geleentheid misgeloop om direk toegang te bekom tot die Konstitusionele Hof waar hy die verslag se bevindings wou betwis.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, het Maandag in ʼn verklaring gesê Ramaphosa neem kennis van die besluit van die Konstitusionele Hof op 1 Maart 2023 waar die hof besluit het om nie betrokke te raak by die meriete van die aansoek wat hy ingestel om die verslag van die onafhanklike paneel nietig te verklaar nie.

“In die eerste deel van die president se hersieningsaansoek het hy verlof versoek om die saak direk aan die Konstitusionele Hof voor te lê, omdat dit – volgens die advies wat hy ontvang het – ʼn aangeleentheid was wat binne sy eksklusiewe jurisdiksie val, en in die belang van geregtigheid sou wees. In die tweede deel het hy gevra dat die verslag van die paneel hersien, onwettig verklaar en ter syde gestel word.”

Magwenya sê die besluit van die Konstitusionele Hof was gebaseer op die gronde dat die aansoek nie binne die hof se eksklusiewe jurisdiksie val nie en dat daar geen dwingende rede vir direkte toegang aangevoer is nie. “Die president respekteer die uitspraak van die Konstitusionele Hof.”

Die President is aangeraai – raad wat hy aanvaar het – dat die paneelverslag en alle verwante aangeleenthede daarvan betwisbaar geword het en geen praktiese of regsgevolge het nie, omdat die Nasionale Vergadering op 13 Desember 2022 besluit het om die mosie om die paneelverslag na ʼn komitee om die president in ʼn staat van beskuldiging te plaas, verwerp is.

“Terwyl daardie besluit geldig bly, dra die artikel 89-paneelverslag geen regsgewig nie. Die president is dus aangeraai om – in hierdie stadium – nie regsprosedures voor die Hoë Hof in te stel vir die hersiening en tersydestelling van die paneelverslag nie. President Ramaphosa behou sy reg om sulke prosedures in die gepaste tydperk in te stel indien omstandighede verander.”

Die President handhaaf sy standpunt soos uiteengesit in sy stigtingsverklaring voor die Konstitusionele Hof dat die paneelverslag in die reg hersienbaar is op verskeie gronde, insluitend die misverstand van sy mandaat, ernstige regsfoute, en ongegronde gevolgtrekkings van feite.

Dié paneel se verdoemende verslag is einde verlede jaar bekend gemaak en het Ramaphosa byna sy presidentskap gekos.

Dit nadat daar in die verslag bevind is dat Ramaphosa hom moontlik aan ernstige oortredings en wangedrag skuldig gemaak het toe $4 miljoen in 2020 op sy plaas Phala Phala in Limpopo gesteel is.

Die president word daarvan beskuldig dat hy die diefstal probeer geheim hou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Hoekom is daar altyd ‘n spokesperson of spokesman? Kan hy nie vir homself praat nie?

Johann ·

Ongelooflik! Onverandwoordbaar. Onaantasbaar. En cover sy zir met sy kaders en kamerade. Welkom in die ANC se definisie van demokrasie.

JohanR ·

Sal jy eers ‘n minister van betwis en ‘n 12 persoon komitee moet aanstel teen R30 miljoen ‘n jaar van die belastingbetalers se geld! Die ou her rerig geen meer geloofwaardigheid oor nie.

Elma ·

Ek sou ook nie iets betwis terwyl ek goed weet dat ek in elk geval nie aan die pen sal ry nie. Hy lê vir seker nie wakker in die nag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.