Ramaphosa moet sê presies waarvoor rampgeld gaan

(Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die nasionale ramptoestand wat in reaksie op grootskaalse oorstromings in KwaZulu-Natal ingestel is, word grotendeels verwelkom. Kommer heers egter dat die geskiedenis hom gaan herhaal en dat hulpbronne wat vir vloedslagoffers bedoel is, eerder in gulsige kaders se hande sal beland. Daarom vra verskeie partye nou vir meer besonderhede oor hoe dié geld aangewend gaan word.

Dít ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa se edele woorde Maandagaand dat daar “geen ruimte vir korrupsie, wanbestuur of bedrog van enige aard” sal wees nie.

“Daar is verskeie maniere hoe die geld geplunder kan word en die VF Plus sal daarom wil weet presies wat die maatreëls om korrupsie te voorkom, behels,” sê Pieter Groenewald, leier van dié party.

Ramaphosa het tydens die aankondiging gisteraand gesê die nasionale tesourie sal ʼn aanvanklike bedrag van R1 miljard onmiddellik beskikbaar stel om te reageer op die humanitêre en ekonomiese krisis wat deur vloede veroorsaak is. Die regering se Solidarity Fund, waardeur geld vir slagoffers van die Covid-19-pandemie geskenk is, sal ook ’n afsonderlike bankrekening opstel wat Suid-Afrikaners kan gebruik om geld vir vloedslagoffers te skenk.

Daar word egter beraam dat die skade miljarde rande beloop.

Ramaphosa sal na verwagting volgende week ’n gesamentlike sitting van die parlement versoek om te verseker dat verkose verteenwoordigers direk betrokke kan wees en toesig kan hou oor die werk wat nodig is om verligting in die geraakte gebiede te verskaf.

“Ons het uit ervaring met die Covid-19-pandemie geleer en sal ​​verskeie belanghebbendes by ʼn oorsigstruktuur betrek om te verseker dat alle fondse wat uitbetaal word om op hierdie ramp te reageer, op verantwoordbare wyse bestee word en dat die staat waarde vir geld kry.”

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Ramaphosa het gesê dié belanghebbendes sal bestaan uit lede van die kantoor van die ouditeur-generaal, gemeenskapsgebaseerde organisasies en professionele liggame soos ingenieurs en rekenmeesters.

“Ons is vasbeslote dat daar deursigtigheid en aanspreeklikheid moet wees namate die projekte bereken en geïmplementeer word, asook hoe hulpbronne van die begin af aangewend word.”

Nóg die VF Plus nóg die DA is egter oortuig.

“Hy sê die ouditeur-generaal en nasionale tesourie sal betrek word by die aanwending van die fondse, maar dit is presies wat hy met die Covid-19-fondse gesê het,” wys Groenewald daarop.

“Hierbenewens noem hy ‘ander rolspelers’, onder meer staatsdepartemente. Dit is juis die probleem. Hy maak sodoende die deur wyd oop vir moontlike korrupsie.”

Groenewald verwys spesifiek na ’n beoogde koopbewysstelsel wat die regering aan geraakte inwoners wil beskikbaar stel sodat hulle huise wat gedeeltelik beskadig is, kan herbou.

“Daar is nie beswaar teen die beginsel nie, maar die vraag is hoe dit toegepas gaan word,” verduidelik Groenewald.

“Dit kan vergelyk word met die kospakkies wat gedurende Covid-19 versprei is. Amptenare het dit misbruik om hulself te verryk en moes in sommige gevalle omgekoop word om kospakkies uit te deel. Die vraag is daarom wie hierdie koepons gaan beheer en beskikbaar stel.

“Regulasies wat ingevolge die ramptoestand uitgevaardig word, moet van só aard wees dat die slagoffers van die ramp doeltreffend bygestaan gaan word en verligting gebring word.”

Cilliers Brink, DA-LP, sê die amptelike opposisieparty sal spesifieke voorstelle aan die speaker van die Nasionale Vergadering doen oor hoe om die toesighoudende magte van die parlement te versterk en die misbruik van mag en openbare geld onder ’n nasionale ramptoestand te voorkom.

“Wat nou nodig is, is ’n duidelike plan van hoe basiese infrastruktuur herstel gaan word, en hoe ramphulp intussen bestuur sal word. Ongelukkig het die president se toespraak gisteraand niks van hierdie besonderhede ingesluit nie,” meen Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Di ·

Stem saam! Moenie vir wolf skaapwagter maak nie, ons het dit al BAIE sien gebeur

Henry ·

Ja baie van die geld sal weer in mense se sakke gaan wat nie skade gely het nie

JM ·

“Same old story” en dan lag die plunderaars in hul mou. Hierdie hele land is ‘n ramp.

Bertie ·

Die kaders lek reeds hulle lippe af vir al die geld wat hulle in hulle sakke gaan steek. En die arme slagoffers gaan maar weer vir die ANC stem.

Nie Verbaas ·

Hoe kan Ramaphosa nou sê dat die rampgeld direk in plunderende kaders se sakke gaan?

Susann ·

Ongeag al die kommentare – en ongeag die Regering se leë woorde van beloftes – dit is nou meer as 7 dae gelede dat KZN weggespoel het – en dit word nou eers ‘n rampgebied verklaar. Die regering en partye kom eers volgende week saam om konkrete planne te beraam – wat korrupt-bestand moet wees. Sê my – het alle slagoffers wat niks meer oorhet – het hulle die afgelope 7 dae elke dag kos ontvang? Of besluit die Regering nog oor wie, wat en waar…
KZN is in soveel opsigte dieselfde as New Orleans toe Katrina getref het… Van die Regering tot hoe lank dit die army geneem het om mense te beginne red… tot skoon water en kos voorsiening…
Hoe lank dink julle regtig gaan dit neem om alles te herbou??

melaney ·

Ek het gister in die media gesien hoe our people in KZN met twee bakkies en ‘n trok (almal propvol gepak) wegry met kos ens wat bestem was vir diegene wat dit broodnodig het.

Mariana ·

Wie glo nog als wat die man kwytraak? Ek het ongelukkig geen vertroue in hom nie.

Kobus ·

Nasionale Ramptoestand beteken dis ‘n oop tjekboek. Klaar geteken, die syfers moet net ingevul word. Waaro ‘n belaaide ” kommitee” aanstel ? Waarom stel hulle nie Gift of The Givers aan nie? Gee die geld vir hulle, hulle het meer geloofwaardigheid as wat die hele ANC ooit sal hê.

marius ·

Daar sal kloue ingeslaan word , maak nie saak wie dit hanteer nie . Hier is genoeg aasvoels in die hool om die strand vanf Kosibaai tot Oranjemund toe te sit .

Chris dupreez ·

Die grootste ramp wat suid afrika nog getref het was in 1994 en die land sal nooit herstel nie.

Annelie ·

Ja ongelukkig die persone wat nou aangestel is om beheer toe te pas is net n nuwe spannetjie, uitgekies deur die ANC om hulself te verryk.

Christa ·

En so bly die geskiedenis homself herhaal. Die oorgretigheid klink vir my maar asof die handjies klaar blinkgevryf word. Die ANC kan niks reg doen nie. Nie almal is onder ñ kalkoen uitgebroei nie. Die geld gaan soos al die ander fondse sommer in die niet verdwyn. Kul jou hier en kul jou daar en siedaar!

Jannie van Niekerk ·

Neewat. Nog elke keer as die ANC fondsinsamelings vir ramptoestande aangekondig het, het daar duisende ANC lede miljarders geword uit daardie fondse. Dit gaan beslis hier ook gebeur.

maruis ·

mense dit sal nie help hy probeer verduidelik waarheen die geld gaan nie, want lieg sal hy lieg soos altyd – is daar nog Suid-Afrikaners wat hom vertrou?

Estelle ·

Ek hoop almal wat kla oor hierdie land en regering het gestem TEEN die Nasionale gesondheidswet wat hul nou wil deurvoer. Want as hul nie het nie, gaan ons rede he om lang trane te huil. Kopdoek gaan besluit of jy mediese sorg nodig het en jou sommer ook inboek in n ANC konsentrasiekamp/inrigting. Hierdie korrupte spul gaan alle se he oor jou liggaam. Ons mense is aan die slaap!!

Papsak ·

Ja hulle Kan nie wag Om daai geld in hul sakke te druk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.