Ramaphosa: ‘Onvoldoende dienste, misdaad skend menseregte’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die versuim deur staatsdienswerkers om voldoende dienste te lewer en die hoë vlakke van geweldsmisdaad in die land kom op ʼn skending van menseregte neer.

Volgens pres. Cyril Ramaphosa het toegang tot water en sanitasie, elektrisiteit, behuising en ander dienste soos afvalverwydering oor die afgelope drie dekades geleidelik toegeneem.

“Tog, ondanks hierdie vordering, is daar steeds baie mense wat nie toegang tot al hierdie dienste het nie. Baie mense woon in informele nedersettings sonder voldoende behuising, water of sanitasie,” het Ramaphosa Dinsdag tydens die nasionale Menseregtedag-viering in De Aar in die Noord-Kaap gesê.

“In sommige munisipaliteite is die verskaffing van hierdie dienste onbetroubaar. Daar is tye wanneer water nie voorsien word nie of van swak gehalte is, of waar vullis nie verwyder word nie. Die versuim om konsekwent voldoende dienste te verskaf is ʼn menseregtekwessie. Daarom werk ons daaraan om die funksionering van plaaslike regering, wat die grootste verantwoordelikheid vir die verskaffing van hierdie dienste dra, te verbeter.”

Die voorsiening van maatskaplike toelaes is volgens Ramaphosa ʼn belangrike ingryping teen armoede, asook die hoofbron van inkomste vir ongeveer ʼn kwart van huishoudings in Suid-Afrika.

“Net meer as 2,5 miljoen mense het in 1999 maatskaplike toelaes ontvang. Vandag ontvang meer as 18 miljoen mense hierdie toelaes.”

Rakende die reg om toegang tot gesondheidsorg te hê, is daar steeds ʼn beduidende ongelykheid. Volgens Ramaphosa het die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering, wat tans voor die parlement dien, ten doel om hierdie toedrag van sake reg te stel.

“Die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal elke Suid-Afrikaner in staat stel om gehaltegesondheidsorg te ontvang ongeag hul vermoë om te betaal.”

Die Handves van Menseregte waarborg die regte van alle mense op lewe, menswaardigheid, vryheid en veiligheid.

“Die hoë vlakke van geweldsmisdaad, waaronder misdaad teen vroue en kinders, is ʼn direkte en brutale skending van hierdie fundamentele regte.”

Volgens Ramaphosa het die samelewing op verskillende maniere byeengekom in die stryd teen geweldsmisdaad.

“Gemeenskappe werk saam met die polisie deur gemeenskapspolisiëringsforums. Ons moet almal in die samelewing mobiliseer as deel van ʼn nasionale poging om geweldsmisdaad te beëindig terwyl ons die teenwoordigheid en sigbaarheid van die polisie verhoog, die Nasionale Vervolgingsgesag versterk en die werking van ons howe verbeter.”

Ramaphosa het gesê dit is van die belangrikste kwessies waaraan aandag gegee moet word indien die land sy menseregtekultuur in die toekoms wil handhaaf.

“Ons kan nie daarop aanspraak maak dat ons ʼn land is wat menseregte respekteer as ons nie alles in ons vermoë en binne ons hulpbronne doen om te verseker dat alle Suid-Afrikaners toegang tot grond, behuising, kos, water, gesondheidsorg en onderwys het nie.

“Ons kan nie daarop aanspraak maak dat ons menseregte respekteer as ons nie alles moontlik doen om te verseker dat alle mense toegang het tot werk en ekonomiese geleenthede, asook om gemaklik en veilig te leef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.