Ramaphosa se Zondo-getuienis hervat

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag sy getuienis by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hervat.

Ramaphosa is die laaste getuie voor die kommissie en sal vrae moet beantwoord oor staatskaping terwyl hy adjunkpresident van die land was. Hy sal daarna ook ondervra word in sy hoedanigheid as huidige president.

Ramaphosa is Woensdagoggend oor kaderontplooiing uitgevra. Volgens adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier van die kommissie, is daar tussen 2012 en 2017 nie notules gehou van die vergaderings van die party se ontplooiingskomitee nie. Pretorius het ook gesê dit lyk of die komitee nie net aanbevelings maak nie, maar ook opdrag gee vir aanstellings.

Ramaphosa het in reaksie hierop gesê dit kan lyk asof die benadering wat gevolg word een van besluite en opdragte is rakende aanstellings, maar daar is uiteindelik wel ʼn veiligheidsnet. Die ANC gee ook toe dat daar uiteindelik aan die wetlike proses vir ʼn aanstelling voldoen moet word.

Ramaphosa se getuienis kom net meer as ʼn maand nadat oudpres. Jacob Zuma 15 maande tronkstraf begin uitdien het vir die minagting van ʼn hofbevel om voor die Zondo-kommissie te getuig.

Dit is Ramaphosa se tweede verskyning voor die kommissie. Sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, en DA-leier John Steenhuisen is ook teenwoordig by Woensdag se sitting.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, kom by die kommissie aan. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Ramaphosa het tydens sy eerste verskyning voor die kommissie, as president van die ANC, gesê hoewel die regerende party hom distansieer van diegene in sy geledere wat betrokke was by korrupsie of staatskaping, moet die organisasie – en hy doen dit ook – erken dat hy verduidelikings moet gee vir kwessies wat die kommissie ondersoek.

“Staatskaping het onder ons as regerende party plaasgevind. Ons is vasbeslote en onderneem om saam met alle Suid-Afrikaners te werk om te verseker dat die era van staatskaping tot die geskiedenis behoort en dat die vergrype wat plaasgevind het, nooit, nooit, nooit, ooit weer in die land herhaal mag word nie.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, en ander lede van die kommissie is reeds besig om ʼn verslag en aanbevelings saam te stel. Zondo het in Julie gesê hulle hoop om die verslag op die laaste teen einde September aan Ramaphosa te oorhandig.

Die kommissie het belastingbetalers al reeds amper R1 miljard uit die sak gejaag. Die eerste sitting het in Augustus 2018 plaasgevind en Zondo het reeds aangedui dat omvattende getuienis gelewer is wat op kaping van die staat dui. Die transkripsies van getuienis beslaan reeds meer as 71 000 bladsye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

As adjunk moes hy mos insae gehad het, kan nie glo dat daar nie notules gehou was nie, die kaders beskerm mekaar.

Pieter ·

Ag asb hy lieg net soos al sy ander ANC broers en susters jy kannie n woord glo wat hulle se nie

Genis ·

Groot leunaar, nes sy mede kaders… Hy is die ANC hoof, stel nie die land eerste nie..

marius ·

Waneer gaan julle hulle maak die geld terug betaal ? Hoe lank gaan hulle almal tronk toe ? Dis wat die mense wil weet ou bul . Nie jou gesanik oor nooit weer nie .

Anoniem ·

Ag, die kommissie van ondersoek gaan niks oplewer nie, want indien die werklikheid openbaar word gaan dit beteken dat die ANC onbevoeg is om die land te beheer wat alle regdenkende mense reeds weet. Hul probeer die Buiteland se monde snoer met die Kommissie. Hul mors net verder geld wat daar nie is nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.