Ramaphosa systap tameletjies in ANC – kenners

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Dit was wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand nié gesê het nie, eerder as die aankondigings wat hy wel gemaak het, wat kommer wek. Só sê politieke ontleders nadat die president terugvoer gegee het oor die regering se reaksie op die Zondo-verslag na staatskaping.

“Daar was belangrike aankondigings wat wys dat optrede kom en hy het ʼn paar konkrete stappe aangekondig, maar die president het dit baie versigtig en redelik vaag gedoen,” sê Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Hy sê onderliggend aan Ramaphosa se aankondigings is die gevoel dat die regering nie meer ʼn keuse het anders as om nou werklike stappe oor staatskaping en korrupsie te doen nie. “Daar is genoeg inligting en bewyse en daar is ʼn bepaalde verpligting op die regering. As die regering nie self gaan begin reageer nie, gaan ander instellings dit doen.”

Henwood sê die ANC as regerende party is deeglik bewus dat Suid-Afrikaners nie die kwessie van staatskapery net gaan laat los nie en Ramaphosa het aangedui dat daar ʼn besef is dat opgetree moet word.

“Daar was egter ʼn klomp goed wat hy kon of moes gesê het en nie gedoen het nie,” sê Henwood.

Een van hierdie kwessies is die aandadigheid van ANC-kaders of stappe teen diegene binne die regerende party wat steeds senior poste in die staat of party beklee.

Ramaphosa het aanvanklik gesê die kommissie se bevindings is nie bindend nie en hy kan dit volledig, gedeeltelik of glad nie aanvaar nie.

“Hy moet openlik sê wat aanvaar word en wat nie aanvaar word nie,” sê Henwood.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-universiteit, stem saam dat Ramaphosa veel duideliker moet uitstippel watter aanbevelings in die Zondo-verslag hy gaan aanvaar.

“Ek hou nie daarvan dat hy sê die aanbevelings van die verslag is nie bindend nie.

“Hy gaan die aanbevelings kies waarby hy wil hou. Dit gaan ʼn probleem wees,” waarsku Breakfast.

Die president het ook nie juis iets oor kaderontplooiing gesê nie, wat beteken die ANC gaan aanhou om sy lojaliste in sleutelposte te ontplooi. “Wanneer mense hulle by hom skaar, is die president geneig om hom blind te hou,” sê Breakfast.

Hy sê die president het vantevore al gesê dat kaderontplooiing ʼn internasionale verskynsel is en dat dit na ʼn verskoning klink, eerder as die aanvaar van verantwoordelikheid.

Volgens Henwood is daar heelwat teenstrydighede in dit wat Ramaphosa sê en dit wat eindelik gebeur. Kaderontplooiing, byvoorbeeld, was “vernietigend”, terwyl die ANC ook nie praat oor die feit dat hy steeds sy meerderheid in die parlement gebruik om sekere beleid deur te druk nie.

Henwood sê hy verwag weerstand uit ANC-geledere oor sekere van die bevindings in die Zondo-verslag en dat die mislukking van die parlement om sy oorsigverantwoordelikheid na te kom, ʼn mislukking van die ANC is.

Dit kan byvoorbeeld gesien word in die Nasionale Vergadering se aanvaarding van die omstrede wysigingswetsontwerp op die Kieswet verlede week, ten spyte van enorme teenkanting daarteen.

Henwood sê “daar is gemengde boodskappe; daar is ondernemings, maar ʼn vermyding van sekere temas”.

Volgens Henwood is hierdie “onderliggende teenstrydighede net te skreiend” en die feit dat sekere tameletjies vermy word, kan ʼn aanduiding van die spanning binne die ANC wees.

Talle van diegene binne die regeringsfeer wat by staatskaping betrek word, beklee steeds invloedryke posisies en Henwood sê daar is te min besonderhede oor die hoe die ANC die moeilike kwessies wat met homself te doen het, gaan hanteer. Boonop is daar diegene in die ANC wat Ramaphosa aktief ondermyn.

Henwood verwys onder meer na oudpres. Jacob Zuma se siedende aanval op Ramaphosa die afgelope naweek toe hy na Ramaphosa as korrup en onbevoeg verwys het.

“Dit wat Zuma gedoen het, was onaanvaarbaar. Praat van verraad…,” sê Henwood.

Breakfast bevraagteken ook die tydsberekening van die aankondiging en sê die president sleep al jare lank voete oor staatskaping. Nou, aan die vooraand van die ANC se nasionale konferensie in Desember, word stappe aangekondig.

Hy sê dit is soos ʼn munisipaliteit wat vrotsige dienste lewer en dan, kort voor ʼn verkiesing, skielik sy sokkies begin optrek.

Breakfast sê Ramaphosa se aankondiging kan gesien word as ʼn manier om sy posisie in die party te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die belastingbetalers het miljoen rande betaal vir eksterne spindokters om met die bogstories vorendag te kom.

domheks ·

Ou Ramaparra soek stemme voor Desember. Net so KORRUP soos die res. Die wette is vir almal nie net vir sekeres nie!

Vincent ·

Ramaphosa het nie ruggraat nie. Hy praat net maar niks gebeur nie.

Nie Verbaas ·

So wat anders het hulle verwag van n ruggraatlose cANCer?

Willem ·

Daar gaan dadels van kom. As hy wou moes hy vandag al sy kabinet leeg gemaak het

PieterJ ·

“baie versigtig en redelik vaag” Dis waarop anc gebou is.

marius ·

Daar sal NIKS in die hool verander nie . Hierdie spul is almal gekoop . Die laaste een .

Kobus ·

Al wat Rampposa kan doen is om ‘n opsomming te gee oor dit wat almal reeds weet maar hy is slinks genoeg om niemand te impliseer nie want hy weet hy staan self agter die deur. Wat ‘n ramp!

Fran ·

Enigste werklike oplossing is selfbeskikking. Ons kan nie langer deur hierdie gemors bestuur word nie.

Watsenaam ·

Nou praat jy. En oor n paar jaar herhaal die geskiednis homself weer. As julle ooit die anemasie prent ANTS te sien kan kry, moet julle dit kyk. Dit is jare terug gemaak maar dit is wat nou in SA gebeur

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is geen ander opsie nie, Fran. Om te glo dat dinge gaan verbeter is gekheid.

Marelize ·

My dierbare minister ons almal weet mos jy is nie die een wat die besluite neem nie. Jy is die window dressing – ANC se skoot hondjie jy moet doen en sê wat die GROOT 6 vir jou sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.