Ramaphosa verdedig nuwe minister, ramptoestand

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag repliek op sy staatsrede. (Foto: GCIS)

Die nuwe minister van elektrisiteit – wat steeds nie aangewys is nie – sal volle verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur van die regering se reaksie op die energiekrisis.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagmiddag in die repliek op sy staatsrede gesê die spesiale minister in die presidensie sal die dryfveer wees van alle optrede deur die Nasionale Energiekrisiskomitee om as ʼn saak van dringendheid ʼn einde aan beurtkrag te maak.

“Sommige het aangevoer dat die aanstelling van die minister verwarring en fragmentasie gaan veroorsaak en dat dit ook kan lei tot twis onder ministers wat verantwoordelik is vir Eskom en energie.

“Dit is nie die geval nie,” het Ramaphosa voet by stuk gehou.

“Die minister van elektrisiteit sal dagin en daguit slegs konsentreer om die beurtkragkrisis te pak, asook saam met die bestuur en raad van Eskom werk. Die minister sal die Nasionale Energiekrisiskomitee lei en in die gees van samewerkende regering met alle ander departemente saamwerk.”

Volgens die president sal die aanstelling verseker daar is ʼn minister wie se uitsluitlike werk dit is om beurtkrag te beëindig en wat saam met alle ander ministers, departemente en instellings sal werk om dit gedoen te kry.

“Dit vereis die onverdeelde aandag van ʼn politieke hoof wat nie sy tyd en energie moet verdeel tussen verskillende belangrike verantwoordelikhede nie.”

Ramaphosa sê die minister van minerale hulpbronne en energie hanteer sake soos energiebeleid en die herstrukturering van die regering sal só gedoen word dat entiteite onder die bestuur van die regte departemente val. Die minister van openbare ondernemings sal op sy beurt voortgaan met die herstrukturering van Eskom en ander staatsbeheerde ondernemings (SBO’s).

“Ons het nie nog ʼn plan nodig nie. Ons moet die inwerkingstelling van die plan wat ons reeds het, versnel,” sê hy.

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners is veerkragtig en hoopvol en dat daar wél rede tot hoop is, maar dat mense “op hoop alleen nie kan oorleef nie”.

Kritiek op ramptoestand

Die president se aankondiging van ʼn ramptoestand om die kragkrisis te pak het tot hewige kritiek – en reeds verskeie hofsake om dit te betwis – aanleiding gegee.

Ramaphosa het Donderdag na dié kritici gekap.

“Verskeie sprekers in dié debat het aangevoer dat die nasionale ramptoestand onnodig is, of dat dit gaan toelaat dat die stelsel misbruik word.

“Dit sluit in sommige leiers van die opposisie, soos die premier van die Wes-Kaap [Alan Winde], wat so onlangs soos verlede maand nog briewe aan my geskryf en mediakonferensies gehou het waarin gevra word dat ʼn ramptoestand afgekondig word.

“Die agbare [Cilliers] Brink het die Wet op Rampbestuur gister ʼn ‘gevaarlike wapen in die hande van onbevoegde ministers’ genoem.

“Dit is dieselfde wet wat ons beslissende, doeltreffende en behendige reaksie op opeenvolgende vlae van Covid-19-infeksies moontlik gemaak het.”

Ramaphosa sê dieselfde wetgewing is gebruik om talle lewens te red en selfs groter lyding te verhoed. Hy sê dit gaan gebruik word om die maatskaplike en ekonomiese uitwerking van beurtkrag te verminder.

Dit gaan ook gebruik word om onnodige burokratiese rompslomp, wat keer dat nog kapasiteit vinnig by die netwerk gevoeg word, uit die weg te ruim.

Verskeie organisasies, waaronder Solidariteit, die DA en die drukgroep Outa, het aangedui dat hulle die geldigheid van die ramptoestand in die hof gaan beveg. Een van die redes hiervoor is omdat bestaande wetgewing reeds voorsiening maak vir al die planne wat die regering deur die ramptoestand in werking wil stel.

Die president het in sy toespraak ook gesê daar moet weggedoen word met die idee dat steenkool nie langer deel van Suid-Afrika se energietoekoms gaan vorm nie. “Steenkoolaangedrewe kragsentrales lewer 80% van ons energie en sal dus voortgaan om die meeste van ons basislading in die toekoms te lewer.”

Suid-Afrika bly verbind tot ʼn energiemengsel wat steenkool, hernubare energie, kernkrag en batteryberging insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Harley Davidson ·

Al wat ek hierin lees is dat ramaposa nie geluister het wat die opposisie partye vir hom gesê het nie en dat soos gewoonlik niks konstruktief hieruit gaan kom nie ,die hele ANC moet skoert.

Groen Ghoen ·

Ai, foeitog! Is daar enigiemand wat nog enige waarde aan hierdie man en sy ewe hopelose meelopers se holruggerydde gebrabbel heg?

Lourens ·

“beslissende, doeltreffende en behendige reaksie op opeenvolgende vlae van Covid-19-infeksie”
Die vent hoort in ‘n hanswors uitrusting.

Anel ·

Op watter planeet bly hy? Volgens hom was die ramptoestand vir virus 19 ‘n sukses nou word daar met die krag ramptoestand daarop voort gebou? Wat rook hy? Wat se sukses? Plaas vat hy sy kaders en vertrek. Daar is genoeg kundiges om sonder enige ramptoestand of nog ‘n minister die probleem op te los. Die probleem is jy, ramaposa, jy en jou anc.

Papsak ·

Hy trek so pary vir die minister van energie ek hoop aRamaphosa gaan hom betaal hy mos miljoener so betaal hom jy wil hom daar he

Johanncb ·

Die nuwe Minister is slegs ‘n plaasvervanger vir André de Ruyter.

Sobymykoolkop ·

KI hier kom Suid Afrika. Die ” people ” se president sê daai minister gaan dag en nag werk, so dit gaan beslis ń robot wees. Wow!! Die president is ons vêr vooruit.

Nettie ·

“Dit is dieselfde wet wat ons beslissende, doeltreffende en behendige reaksie op opeenvolgende vlae van Covid-19…”

In watter paralelle realm is ek? Sekerlik nie dieselfde een as waarin ons president is nie! Want daar was NIKS beslissend, NIKS doeltreffend en ALLERMINS enige iets behendig aan die regering se reaksies op die vlae van die siekte in die realm waarin ek in 2020 en 2021 was.

Herman L ·

Wie in die ANC het al ooit verantwoordelikheid vir enige mislukking aanvaar?

Owlie ·

Net nog n salaris van miljoene wat dit nie regverdig nie. Miskien is dit tyd dat al hierdie ministers vir so 3 maande sonder hul groot salarisse en voordele klaar kom maar hulle moet voortgaan met hul vreeslike baie werk – stoot daardie groot salarisse in die eskom krisis in, ALMAL insluitende ons hoogs betaalde ministers kry loadshedding, water tekort, betaal gewone pryse vir alles- dit sal probleme gou oplos.

57 Chevy ·

My hene ou Rampie ……dis nou vir jou n katarsus . Jy moet ons nie so omkant vang nie jou stouter . Hoe moes ons dit nou geweet het .

Strandloper ·

Die regering se reaksie op die energiekrisis is soos altyd net bek…voeg dade by jou woorde jou lamsak!

Nie Verbaas ·

Bek en aanstellings. Jy gaan nou vyf hê wat die oorspronklike een se werk moet probeer doen.

Katinka ·

Ek was so positief toe ramaphosa oorneem, alles het toe verander in een GROOT ramp.

Yvonne ·

En wie slaan die kitaar….dis waar die berg van probleme le

Johannes ·

Besluite van Julie 2022 is nou nog nie eers mee begin nie. Kan ramaphosa en sy hopelose trawante darem ‘n toilet spoel of neem dit ook meer as 6 maande om te besluit wat om te doen!!!

Johannes ·

Ramp toestand!!! Natuurlik nou kan daar weer geld geplunder word deur die cANCer, die hoof plunderaar het dit bevestig. Lekker ne’!!!!

Nie Verbaas ·

Ruggraatloos sal dit natuurlik verdedig met sy beperkte vermoë. Hoe anders gaan hy die illusie skep dat hy iets wil doen wat nooit gaan gebeur nie?

gatgogga ·

Ramapauser, jy kan nie motiveer of hoop gee nie. Omdat min wat jy beloof ooit realiseer. Jy lieg te veel.

Sê maar net ·

Nog ‘n minister wat aangestel word om baie planne te maak en niks daadwerkliks te doen nie; en dit teen ‘n vet salaris. Daai geld kan beter aangewend word om die infrastruktuur te herstel by kragstasies en dit in stand te HOU.
Daar word ook niks genoem van planne wat tans in werking gestel word deur president Biden van Amerika en Ramaphosa, om Suid Afrika steenkoolvry te kry en van “groen” (skoon) energie te voorsien nie. Hoe kan Ramp- phosa dan sê meer as 80% van ons energie sal by steenkool bly?
Weereens word die wol oor die oë van Suid Afrikaners getrek…….

Jacobus ·

Naïef tot in die ergste graad. Om die COVID storie as motivering te gebruik is ondenkbaar. Die skade wat gedoen is gedurende COVID is onverhaalbaar – hoewel Ramaphosa et al ruimskoots vergoed is vir samewerking met popmeesters.
Luister ‘n slag Cyril – alles draai nié om jou onbevoegde kaders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.