Rand Water se dae lange instandhouding nou klaar

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Rand Water se 58 uur lange instandhoudingswerk aan die Eikenhof-pompstasie is Vrydag afgehandel, maar dit beteken nie dat alle Gautengers weer dadelik toegang tot water gaan hê nie.

Rand Water het Vrydagmiddag bevestig dat die beplande instandhoudingswerk aan die Zwartkopjes-pompstasie, asook die Vereeniging- en Zuikerbosch-waterbehandelingsaanlegte volgens skedule voltooi is nadat dit reeds Dinsdag begin het.

Die waterverskaffer herlaai tans die stelsel en maak stelselmatig die onderskeie reservoirs wat dit bedien weer vol.

“Verbruikers moet egter daarvan kennis neem dat die stelsel tyd sal neem om ten volle te herstel,” het Rand Water gesê.

Mogale City- plaaslike munisipaliteit wat Krugersdorp aan die Wes-Rand bedien, het egter sy inwoners in kennis gestel dat die instandhoudingswerk ʼn agteruitgang in sy waternetwerk beteken.

Die munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê dat sy hele watervoorsieningstelsel drooggeloop het, wat beteken dat die dorp se reservoirs heeltemal leeg is.

“Dit sal dus ʼn paar dae neem voordat die watertoevoer die regte vlakke en optimale waterdruk bereik vir normale watertoevoer om weer te begin,” lui die verklaring.

Die munisipaliteit kan weens die stelsel wat leeggeloop het nie eens watertenks in die gebied verskaf nie. Verskeie munisipale geboue en selfs die landdroshof in Krugersdorp kon vandeesweek nie van hul ablusiegeriewe gebruik maak nie weens die wateronderbreking.

“Inwoners wat nog water het, word versoek om voort te gaan om water spaarsamig te gebruik sodat ons reservoirs die vereiste vlakke kan bereik.”

Rand Water het ook gemaan dat diegene wat in hoogliggende gebiede in en om Johannesburg woon dalk eers oor ʼn paar dae weer water sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Springs sit al die hele week sonder water. Mapleton pomstasie het n elektriese probleem.

Eugene ·

Dit is pure slapgeid om vir 58 ure sonder water te wees. Dit wys my, daars geen instandhouding nie, niemand is bevoeg nie wag tot die probleem daar is. Weereens, ramp-phosa is ook onbevoeg om munisupaliteite vas te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.