Raskwotas: 2 uit 3 wittes gaan moet waai  

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Twee uit drie wit werknemers in die boonste vier posvlakke gaan hul poste binne die volgende vyf jaar moet ontruim om die regering se sektorale rasteikens te haal.

So dui die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se voorlopige verslag aan wat kyk wat dié rasteikens, gepubliseer kragtens die nuwe Wet op Diensbillikheid, se impak op die arbeidsmark sal wees indien dit toegepas word.

“Die rasteikens bring ʼn wesenlike vertrouensbreuk teweeg tussen die regering en minderheidsgroepe, wat die ergste deur die wetgewing geteiken word,” meen Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ʼn Slagting op pad

Die sektorale teikens moet ná aanvaarding binne vyf jaar behaal word. Hoe presies?

“Die een opsie is om daarin te groei deur miljoene bykomende poste te skep en dit na aanleiding van die teikens te vul. Dit is hoogs onwaarskynlik gegewe die huidige stand van ekonomiese groei en die werkloosheidsyfer,” verduidelik Mulder.

“Meer realisties is mense wat rondgeskuif moet word totdat die rasprentjie reg lyk.”

Mense van die “verkeerde kleur” gaan volgens Mulder hul poste moet ontruim om plek te maak vir mense van die “regte kleur” in al nege provinsies, oor 18 sektore en op die boonste vier van ses posvlakke.

Volgens die nasionale teikens oor alle sektore beteken dit die volgende. Twee uit drie wit mense, sowat 404 000, gaan volgens die nasionale teikens hul poste moet ontruim. Twee uit drie Indiërs gaan hul poste moet ontruim. Een uit vier bruin mense gaan hul poste moet ontruim. Een uit vier swart mense kry bykomend toegang tot die arbeidsmark.

Die voorlopige verslag kyk ook na die verandering op sektorale vlak. In professionele dienste as voorbeeld moet vier uit vyf wit mense en drie uit vier Indiërs in die boonste vier posvlakke hulle poste ontruim. In landbou spesifiek moet vier uit vyf wit mense en een uit twee bruin mense hulle poste ontruim.

Benewens nasionale teikens is daar ook provinsiale teikens wat in sekere gevalle veel strenger is.

Hoeveelheid werknemersPersentasie verandering
SwartBruinIndiërWitSwartBruinIndiërWit
1. Gauteng258 197-85 179-51 885-219 62031,8%-73,4%-52,8%-58,8%
2. Wes-Kaap24 53233 122-11 629-65 78222,7%26,3%-79,7%-57,7%
3. Noordwes4 985-707-176-11 85114,3%-58,9%-31,2%-84,2%
4. Mpumalanga3 912-997-785-12 8665,5%-80,2%-76,1%-65,9%
5. Vrystaat6 632-860169-9 85640,7%-55,0%59,2%-81,7%
6. Limpopo-9 593-268-65-5 695-9,9%-81,9%-14,8%-69,2%
7. Noord-Kaap2 483-1 383-85-3 13618,9%-13,4%-43,4%-49,1%
8. Oos-Kaap2 294-1 026-513-17 8582,3%-6,3%-30,9%-71,3%
9. KwaZulu-Natal29 774-9 606-41 247-25 74113,1%-74,4%-65,9%-64,7%

“Minderheidsgroepe sal prakties hierdeur uit die arbeidsmark gesluit word. Geen maatskappy gaan hieraan kan voldoen of daarin ingroei nie,” meen Mulder.

Niemand wen werklik nie

Dié wetgewing en gepaardgaande rasteikens hou vir minderheidsgroepe landwyd byna uitsluitlik slegte nuus in.

Hoewel hierdie wetgewing en gepaardgaande teikens wel plek maak vir swart mense in die arbeidsmark, is dit egter net ʼn druppel aan die emmer van die regering se werkloosheidkopseer.

Die jongste werkloosheidsyfers soos vroeër vandeesweek gepubliseer, toon aan daar was in die eerste kwartaal van die jaar steeds 7,2 miljoen werkloses in die swart bevolkingsgroep. Dit sluit nie eers in nie die meer as 13 miljoen ekonomies onaktiewe persone waarvan die meeste ontmoedigde werksoekers is.

Indien elkeen van die 370 399 swart mense volgens die teikens iewers tot die arbeidsmag toegevoeg word, sal daar steeds 6,8 miljoen werklose swart mense wees. ʼn Sprekende bewys dat die regering nie besig is om die probleem op die regte plek te takel nie.

Die kanse is ook nog groot dat dié teikens in die huidige toestand sal aanvaar word.

Oop vir kommentaar, gesluit vir verandering

“Die geskiedenis het ons geleer hierdie tipe wetgewing van die regering is byna uitsluitlik in beginsel oop vir kommentaar. In praktyk word kommentaar – nes vir wetgewing soos nasionale gesondheidsversekering, onteiening sonder vergoeding en BELA – téén die wetgewing eintlik maar net gelees en dan weggegooi,” sê Mulder.

Hierdie is dus hoe die rasteikens waarskynlik gaan lyk, tensy die wetgewing waarop dit staan aangevat word. Die presiese inhoud van die rasteikens is volgens Mulder ook nie die eintlike probleem nie.

“Die feit dat die teikens bestaan, is ʼn uitvloeisel van daardie wet. Hoe hoog die swaard oor ons kop hang, maak nie saak nie, dit maak saak dát ʼn swaard oor ons koppe hang.”

Connie Mulder van Solidariteit (Foto: Solidariteit, Twitter)

Rassewetgewing wortel van die kwaad

“Die bron van die kwaad is nie die teikens self nie, maar eerder die wetgewing wat dit moontlik maak en dít is wat ons wil uitwis met die hofstukke wat Solidariteit reeds beteken het,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Neasa, die VF+ asook die Kaapse Forum sal as vriende van die hof toetree tot Solidariteit se saak. Sakeliga, die DA en die Instituut vir Rasseverhoudinge gaan ook regstappe teen die wetgewing doen.

“Die probleem is dat daar wetgewing aanvaar is wat in die eerste plek hierdie mate van drakoniese magte aan ʼn minister toeken.”

Volgens Hermann het die sentrale bestuur van ʼn land het nog nooit goeie gevolge gehad nie, nie sentrale ekonomiese beplanning of sentrale mense-beplanning nie.

“Die wetgewing trek ʼn streep deur alle grense van billikheid, nasionaal en internasionaal gemeet. Internasionaal bepaal beide die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) asook die konvensie 111 van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) dat die toepassing van diskriminasie moet altyd billik moet wees,” verduidelik Hermann.

Genuanseerde, eerder as rigiede benaderings moet gevolg word, waarvolgens ander faktore oorweeg moet word soos die beskikbare vaardigheidspoel, sosio-ekonomiese werklikhede, die tydelikheid van maatreëls. ʼn Insetgebaseerde benadering, eerder as ʼn uitsetgebaseerde benadering, moet ook volgens hierdie twee liggame gevolg word.

Dr. Dirk Hermann (Foto: Reint Dykema)

“Die wetgewing het niks met regstelling te doen nie, maar stel eerder ʼn samelewing daar waarin ʼn ras-sakrekenaar bepaal waar en in watter sektor jy mag werk – dít is onimplementeerbaar.”

Regulatoriese skuiwergate

Indien die regulasies in werking bly, is die vraag natuurlik of maatskappye daaraan gaan voldoen. Nievoldoening kan met boetes asook die ontneming van regeringskontrakte gestraf word. Wettige regulatoriese skuiwergate sal egter ook in die wetgewing te vind wees, indien dit in die huidige vorm staande bly.

Die betrokke wetgewing en gepaardgaande regulasies vind net toepassing op maatskappye met meer as 50 werknemers. Dit is dus moontlik vir groot maatskappye om só te herstruktureer en ontbondel, maar onderling verbind te bly, dat hulle hiervan vrygespreek word.

“Die oomblik wat jy op soek is na ʼn skuiwergat, struktureer jy jou maatskappy op onnatuurlike wyse.”

Volgens Hermann lê die stryd op hierdie stadium daarby om die wetgewing op plaaslike en internasionale forums te oorwin.

“Indien daardie stryd nie slaag nie, sal ʼn mens maatskappye help om daar rondom te kom. Solidariteit sal maatskappye nooit adviseer oor hoe om aan dié wetgewing te voldoen nie,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joe Olivier ·

Hierdie is maar net weer ‘n erkenning van hul minderwaardigheid en onvermoeë om eerlik ‘n suksesvolle besigheid self op die been te bring. Kom nou minister, julle het die geleentheid gehad tydens die tyd van aparte ontwikkeling om julself te bewys en besighede vir slegs swartes te begin. Julle kon dit nie toe doen en julle kan dit steeds nie doen nie. Julle kan net infiltreer en vernietig.

Schalk ·

Roekelose gesinsbeplanning of eerder ń totale gebrek aan gesinsbeplanning het nou ń voordeel geword vir werkverkryging. So dit sal meen dieselfde roekelose mentaliteit sal die volgende eeu se maatstaf van beplanning word.

JvR ·

Die regering en wie ookal hulle beheer, gaan uit hul pad uit om die ekonomie te ruineer. In my bedryf sorg ons maar dit is familie besigheid. En geen aanstellings nadat laaste staflid weg is.

Conrad ·

Goed soos die laat my wonder hoe ver mens (wettiglik) belasting kan ontduik. Want om geld vir dié staat te gee om snert soos die aan te vang is belaglik. Redes soos die hoekom ek klein en slegs Afrikaanse besighede ondersteun – jul sal verbaas wees hoe ver jy kan kom deur net uitsluitlik besigheid te doen met jou eie mense. Al waar ek vas hak is ‘n ordentlike afrikaanse bank, maar ek vertrou OSK/Orania gaan oor ‘n paar jaar my probleme oplos – al sit ek in Pretoria of die Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.