Rasseklassifikasie: Klag teen onnie teruggetrek

Glen Snyman (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het die aanklag van bedrog laat vaar teen ʼn onderwyser wat op sy CV na homself as ʼn Afrikaan verwys het, eerder as die sogenaamde amptelike klassifisering van bruin.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement, het Donderdag aan Maroela Media gesê die klag teen Glen Snyman is teruggetrek nadat die departement bewus gemaak is daarvan dat Snyman wel as Afrikaan identifiseer.

Vroeër is berig Snyman, ’n onderwyser by die Grootkraal Primary School in Oudtshoorn, het homself as “African” op sy CV geïdentifiseer toe hy in 2017 om ’n pos as skoolhoof aansoek gedoen het.

Snyman het nie die werk gekry nie, maar is verlede maand – sowat drie jaar later – na ’n tugverhoor ontbied.

Die departement het glo aanvanklik aangevoer dat Snyman homself as ’n Afrikaan op sy CV aangedui het om ’n voorsprong in die aansoekproses te kry en op die kortlys van kandidate te beland.

“Aangesien nasionale wetgewing vereis dat daar tydens die werwingsproses aan elke kandidaat ʼn telling gegee moet wat gebaseer is op ras en geslag om aan die doelwitte van diensbillikheid te voldoen, word hierdie inligting op die aansoekaansoekvorms vereis,” sê Hammond.

Volgens Hammond het Snyman homself as “African” op sy CV aangedui, maar as “bruin” op ander aansoeke en dokumente. Die oënskynlike teenstrydigheid op Snyman se dokumente is onder die departement se aandag gebring en hy is gevolglik aangekla aangesien dit as bedrieglik beskou kan word.

“Ons is intussen daarvan bewus gemaak dat Snyman homself as ‘Afrikaan’ identifiseer en dat hy die huidige regering se rasklassifikasiestelsel al ʼn aantal jare beveg. Dit is uiters persoonlik en sensitief. Hoewel ons glo dat ons die ongeregtighede van die verlede moet regstel, het ons die saak hersien en glo ons dat dit nie verdere optrede regverdig nie.”

Die departement sê hy gaan binnekort met Snyman vergader sodat sy persoonlike besonderhede akkuraat aangeteken kan word.

Volgens Hammond het die voorval egter ʼn aantal kwessies geopper oor rasseklassifikasie en identiteit “wat dieper bespreking en besinning verg”.

Onderliggende kwessie

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in reaksie op die voorval gesê die onderliggende probleem is dat Suid-Afrika ʼn streng rasseklassifikasiestelsel het sonder wetgewing wat ras klassifiseer.

“Die Snyman-saak plaas die lig op die gebreke van Suid-Afrika se absurde rasstelsel. Die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassisme (Icerd) het in sy laaste verslag kritiek uitgespreek teen Suid-Afrika se rasseklassifikasie en die regering moet hierdie jaar terugvoer aan die VN gee oor hoe dit getakel gaan word. Suid-Afrika is dus aan die verkeerde kant van ʼn VN-resolusie wat die land geratifiseer het.”

Volgens Hermann het die Snyman-saak gewys dat regstellende aksie niks met regstelling te doen het nie, maar alles met ras.

“Snyman, ’n bruin man, se benadeling word nie beoordeel nie, maar sy ras. Die saak ontbloot die morele bankrotskap van regering se rasideologie. Solank die regering vasklou aan sy rasbeleid sal hierdie tipe absurde uitkomste voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Nie Verbaas ·

Doelwitte van diensbillikheid? Wat n grap. Word op kleur en geslag geevalueer instede van bevoegdheid? Dit is presies hoekom ons land in ekonomiese gemors is maar nee, die kaders moet mos aangestel word al weet hulle niks.

Misky ·

Sjoe en dit was darem baie vinnig en het hulle die saak terug getrek. Vinnig besef hoe dubbeld hulle standaarde is

Dries ·

Seker besef dit kry te veel aandag in die media en hulle dubbele standaarde gaan ontbloot word aan die buiteland. Te laat!

My siening ·

ANC & EFF IS RAS BEHEP en die grootste aanhangers van rassisme en diktatorskap.

modiglianigirl ·

Knap gedaan Mnr. Snyman – Staan vir dit wat reg is! Al is dit moeilik en vreesaanjaend.

Zombie ·

Beskik die persoon wat die klag drie jaar later ingedien het oor die vermoë om rasioneel te dink? Met die Covid-19 se staat van inperking, het mens werklik bewus geword van die hoë voorkoms van lae vlakke van rasionele denke.

Jaco ·

Ek sidder vir die dag wanneer ‘n regstellende aksie aangestelde eskom werker die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk…

J ·

Ons is voortaan almal AFRICAN !

Want dis die WAARHEID!

Afrikaner = African in Engels! … ha … ha …

Zombie ·

Afrikaan = African in Engels.
Afrikaner bly Afrikaner in Engels.
Hahahaha

Dries ·

Ag as hy n Afrikaan wil wees laat hy een wees. Ek ken blankes wat Afrikane wil wees. Net om diskriminasie vry te spring

Robert ·

Lekker een Glen… ons kan sommer ‘n lekker African braai hou!

Cecilia ·

Ons is almal “Africans” sover ek weet. Tensy jy nie in Afrika gebore is nie.
Dis net d ANC wat dit met kleur verwar

Hoekom ·

Hoe lank gaan ons nog na hierdie snert van die “ongeregtighede van die verlede” luister. Dit is bog en hulle bedrieg die wereld daarmee. Die ANC regime is ‘n rassistiese een party diktatorskap wat voordele uitdeel op grond van velkleur en die buiteland knyp hulle oë styf toe…

Talia ·

Dit vra die vraag, as sy ma wit is en sy pa swart, dan is hy bruin. Maar wat as sy ma swart is en sy pa bruin, dan is hy mos 75% swart, waar val hy dan in? Of wat van as hy Cape Malay is en Idian bloed ook het? Die hele rasse klasifikasie is n grap. Wie verdien nou eintlik meer as die andereen, ons land is so gemeng….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.