Regering aangevat oor dieselfde grond vir twee boere

(Arggieffoto: Verskaf)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die hof genader om ʼn opkomende boer en hoof tradisionele leier van die grond af skop wat dieselfde departement ʼn dekade gelede aan hom toegeken het.  Dit nadat minister Thoko Didiza dieselfde grond aan ʼn ánder opkomende boer gegee.

’n Regverdige regsproses is nou moontlik vir inkosi (hoof tradisionele leier) Goodman Matomane nadat die hooggeregshof in Durban vroeër die week beveel het dat die aansoek van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling van die rol verwyder moet word. Die departement moet ook die regskoste betaal. AfriForum het Matomane met regshulp bygestaan nadat die departement die hofaansoek teen Matomane gebring het sonder om hofdokumente behoorlik op hom te beteken. Die departement het nou tien dae om gepaste dokumente op Matomane te beteken.

Dié hofsaak hou verband met Matomane se benutting van en verblyf op die plaas Melville Park naby Underberg in KwaZulu-Natal, wat aan die departement behoort. Die departement het vroeër ’n opsienerskap vir dié plaas saam met die plaas Beersheba aan Vuyani Zigana goedgekeur.

Die familieboernetwerk, Saai, het druk op die departement in verband met die saak uitgeoefen, nadat die departement aan Zigana die versekering gegee het dat hy ’n langtermynhuurkontrak vir ’n geskikte plaas met hom sou sluit en dit nie gebeur het nie. By Zigana se aankoms op die plaas Melville Park het hy egter vir Matomane daar aangetref, wat die grond sedert Junie 2012 bewoon en benut ná ingryping deur Gugile Nkwinti, destydse minister van landelike ontwikkeling.

Dr. Theo de Jager van Saai. (Foto: Verskaf)

“Wanneer ’n boer mense van ’n plaas moet verwyder, word daar groot gewag daarvan gemaak as die korrekte proses nie pynlik gevolg word nie. In dié geval het die departement hoegenaamd nie die regte prosedure gevolg of behoorlik op regsdokumente gereageer nie. Dit wil voorkom asof daar totale chaos in die departement heers en dat die departement nie die vermoë het om die grond wat hy besit, te bestuur nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Hoe kan daar enigsins sprake van onteiening sonder vergoeding deur die staat wees as die huidige staatseiendomme nie behoorlik tot voordeel van suksesvolle opkomende boere bestuur kan word nie?”

AfriForum en Saai het in Julie 2022 ’n prokureursbrief aan Didiza gerig om navraag te doen oor die toekenning van opsiener- en langtermynhuurkontrakte aan suksesvolle opkomende boere, nadat boere uit verskeie provinsies (wat Zigana en Matomane insluit) probleme met kontrakte onder die aandag van die organisasies gebring het. In die brief word die uitdagings van John Mabasa van die plaas Goedehoop naby Amersfoort in Mpumalanga en Johannes Bezuidenhout van Nuveld Farming Empowerment Enterprise in die omgewing van Beaufort-Wes, Wes-Kaap, as voorbeelde genoem.

Die organisasies het ’n dringende beroep op die minister gedoen om in te gryp om sekerheid oor die benutting van staatsgrond deur suksesvolle opkomende boere te verseker aangesien die omstandighede, waar opkomende boere in drie verskillende provinsies soortgelyke probleme met die departement ervaar, twyfel skep oor die vermoë van die departement om behoorlik en regverdig te funksioneer. Daar is steeds geen antwoord van die minister ontvang nie.

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê Suid-Afrika as sentralistiese bestel is op vele terreine ’n mislukking – hierdie gebrekkige regsoptrede en bestuur deur die departement is maar net nog ’n voorbeeld daarvan. “Die enigste oplossing lê in gemeenskapsfederalisme. Daarom is ons besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat in wedersydse erkenning en respek met mekaar saamwerk om vir ons gemeenskappe se kinders ’n mooi toekoms moontlik te maak. Dit is vir ons ’n voorreg om met ’n hoof tradisionele leier van die AmaMpondomise-kultuurgemeenskap saam te werk om geregtigheid en regverdigheid te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Wil of kan hul nie besef dat hul nie opgewasse is vir sekere take nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.