Replika van Estcourt-mosaïek by monument onthul

Barry Müller saam met Marina Giovitto Ehlers en Vera Giovitto tydens die onthulling van die replika van die Bloukrans-mosaïek. (Foto verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydag ʼn replika van die mosaïek wat die Bloukransmoorde uitbeeld in die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument onthul.

Vera Giovitto het die oorspronklike in 1988 gemaak wat by Estcourt in KwaZulu-Natal staan. Sy en haar dogter, Marina Giovitto Ehlers van Mosaic Arts, het die onthullingseremonie saam bygewoon.

Die FAK het langer as twee jaar probeer om dié erfenisskat vanuit Estcourt in bewaring te neem, maar is telkens deur die plaaslike munisipaliteit verhoed om dit te doen. Dit is toe wat die FAK besluit het om ʼn replika te laat maak, wat nou in die tuin pryk.

Marina het die replika vir die FAK gemaak. Sy het nog ’n replika geskep van die mosaïek wat in die Louis Trichardt-gedenktuin in Maputo aangetref kan word. Hierdie mosaïek is in 2021 in die Trekroetetuin onthul.

Vera is in Venesië, Italië, gebore en het in 1967 na Suid-Afrika verhuis. Hier het sy met haar man, ook van Italiaanse afkoms, sommer voor die magistraat getrou. Byna 60 jaar later is Giovitto steeds in Suid-Afrika en tans woonagtig in Pretoria. Saam met haar dogter Marina en haar man, wat reeds oorlede is, het hulle ’n onmiskenbare bydrae tot Suid-Afrika se erfenis gemaak en verskeie mosaïekprojekte reg oor die land en selfs in die buiteland aangepak. Op 82 is sy steeds besig om nuwe kuns te skep.

Die replika van die mosaïek in Estcourt. (Foto verskaf)

Vera meen sy is meer Afrikaner as wat sy Italianer is omdat sy die meeste van haar lewe in Suid-Afrika deurgebring het. Sy vertel hoe belangrik dit is om emosie behoorlik uit te beeld en hoe dit soms dae kan neem net om ’n gesig van ’n figuur klaar te kry.

“Met historiese gebeurtenisse soos dié word ons net weer herinner aan wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons word ook daaraan herinner dat ons moet trots wees op ons herkoms. Ons moet opstaan en ons moet saamstaan om ’n beter toekoms te bewerkstellig. Ons skryf vandag aan die geskiedenisboeke van môre, so dit wat jy vandag doen, moet saak maak,” het Barry Müller, hoof van nasionale projekte, gesê.

Akademia se erfenisklub het ook die onthullingseremonie bygewoon wat deel was van die Voortrekkermonument se herdenking van die gebeure by Bloukrans.

Na afloop van hierdie spesiale oomblik het die Akademia-studente meer oor die Groot Trek, en in besonder oor die Bloukransmoorde, geleer en ’n spesiale nagtoer deur die Voortrekkermonument gedoen. Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke, het die toer deur die Voortrekkermonument aangebied.

Die studente van Akademia se erfenisklub kuier saam met die talentvolle kunstenaars van hierdie mosaïek. (Foto verskaf)

“Dit is ’n groot voorreg om húlle eie Afrikanergeskiedenis aan hulle oor te dra en hulle te help om hul identiteit in hul Afrikanerskap te kan ontdek. Soos ’n vuur word die liefde vir erfenis en geskiedenis versprei. Hierdie geskiedenis is nie net ietsie klein nie en kan jongmense inspireer om nie te voel of hulle impak te gering is nie, maar juis dat ’n klein heldedaad ’n groot impak kan maak,” het Charles gesê.

Louisa Visser, voorsitter van Akademia se studenteraadvereniging, sê sy is “kinderlik opgewonde oor ons Afrikanerkultuur en -erfenis”.

“Ek het nog altyd so ʼn bietjie geweet, maar ek besef net hoe ʼn kultuurryke geskiedenis ons het. Die vuur om trots te wees op ons kultuur is beslis aangesteek. Ek sien ook uit om meer te leer,” gaan Visser voort.

Die FAK is by verskeie kultuur-, erfenis- en geskiedenisprojekte betrokke. Skakel in by soortgelyke projekte deur aan te sluit by jou plaaslike kultuurnetwerk. Besoek Fak.org.za/kultuurnetwerke/ vir meer inligting.

‘n Replika van die Bloukransmonument staan ook in die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.