Riaan Benadé maak musiekgeskiedenis saam met Nashville-sanger

Riaan Benadé. (Foto: Hendri Viljoen)

Die Suid-Afrikaanse musikant en liedjieskrywer Riaan Benadé het kragte saam met die bekende Amerikaanse countrysanger Ian Munsick gesnoer om nuwe lewe in ‘n ikoniese rock-treffer te blaas.

Riaan en Ian het vir die Bruce Springsteen-treffer, “I’m on Fire”, ’n splinternuwe baadjie aangetrek.

Dié snit is vandag (Woensdag) wêreldwyd deur die stromingsdiens Spotify as ‘n sogenaamde Spotify Single uitgereik.

Dit is ‘n groot mylpaal vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, aangesien Riaan die heel eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar is wat gekies is om ‘n Spotify Single uit te reik sedert dié inisiatief in 2016 van stapel gestuur is.

Dié enkelsnituitreiking is deel van ‘n internasionale veldtog wat gelei word deur Spotify Africa in samewerking met die Coleske Groep in Suid-Afrika en Warner Music in Nashville [in die VSA].

Die samewerking tussen Riaan en Ian oor twee verskillende kontinente heen stel die mag van tegnologie ten toon, aangesien Riaan sy gedeelte in Pretoria opgeneem het terwyl Ian sy deel in Nashville voltooi het.

Ian Munsick. (Foto: C. Douglas/Verskaf)

“Ek en Ian is albei lief vir Bruce Springsteen se musiek. Ons albei het dadelik gehou van die idee om ’n country-weergawe van die liedjie te doen en ons hoop Bruce hou van wat ons met die liedjie gedoen het,” verduidelik Riaan.

“Ek voel baie nederig en dankbaar vir Spotify vir die geleentheid. Ek weet nie hoe dit my te beurt geval het nie, maar ek gryp dit graag met albei hande aan.”

Volgens Riaan is dit ’n voorreg om saam met iemand van Ian se kaliber te werk. “Hy is ’n ongelooflike skrywer en sanger en hy is ’n storieverteller van formaat.”

Hy stel egter sy aanhangers gerusn dat hy lank nie klaar is met Afrikaanse musiek nie.

“Ek is ’n Boertjie in my hart en ek sal nog lank nie wegbeweeg van Afrikaanse musiek nie. Ek is hard aan die werk aan my nuwe Afrikaanse album, wat in Maart volgende jaar beskikbaar sal wees.”

Volgens Johan C Venter, bemarking- en handelsmerkbestuurder van die Coleske Groep, is die uitreiking van “I’m on Fire” belyn met die globale oplewing van countrymusiek.

“Die uitreiking posisioneer ook Suid-Afrika as ’n pionier op die globale countrymusiektoneel en doen baanbrekerswerk as ’n Spotify Single. Die samewerking dien ook as ’n bewys van die mag wat musiek het om mense te verenig en geografiese en kulturele grense te oorskry.”

Luister hier na Riaan Benadé en Ian Munsick se weergawe van “I’m on Fire”.

Wie sou kon raai?!

WIE SOU KON RAAI??

Posted by Riaan Benade on Tuesday, November 21, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nou wat nou ·

Bitter mooi. Ek moet se Riaan, jy maak ons trots! Jou stem is by verre die beter een in die verwerking (wel volgens my)!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.