Roerende tonele buite vermoorde Tazné se huis

Inwoners was emosioneel én kwaad nadat die nuus bekend geword het dat klein Tazné van Wyk (8) se liggaam gevind is. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Emosionele én woedende inwoners het Donderdag buite die huis van die vermoorde Tazné van Wyk (8) saamgedrom nadat haar lyk Woensdagnag in ʼn stormwaterpyp buite Worcester in die Wes-Kaap gevind is.

Tazné het net minder as twee weke gelede verdwyn toe sy na ʼn winkel oorkant hul huis in Clarestraat in Ravensmead in die Wes-Kaap gestap het.

Moehydien Pangaker (54) het die liggaam aan die polisie uitgewys nadat hy vroeër vandeesweek in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is in verband met Tazné se verdwyning. Daar was in daardie stadium geen spoor van die meisie nie.

Tazné van Wyk (8).

Pangaker het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering. Hy is ná sy verskyning na Kaapstad geneem en het die polisie vandaar na die kind se liggaam gelei.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Donderdag sy medelye met Tazné se familie betuig. “Hulle is deur ʼn stormagtige tydperk van onsekerheid, verwarring en pyn. Geen ouer moet die verlies van hul kind hoef te verduur nie.”

Fritz het gesê ʼn maatskaplike werker sal die familie in dié tyd bystaan.

Sommige inwoners was woedend oor die polisie se hantering van die saak. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Intussen het talle inwoners na die Van Wyks se huis gestroom waar hulle hul woede jeens die polisie se hantering van die saak te kenne gegee het. Sommige inwoners het aangevoer die polisie se soektog na die meisie was ondoeltreffend.

Pangaker verskyn Vrydag weer in die landdroshof, dié keer in Goodwood. Hy staan nou ook tereg op ʼn aanklag van moord. Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het gesê nog aanklagte kan later bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chantel ·

Dit is so bitter hartseer. Ek wens die familie en gesin net sterkte toe.
Ek onthou vandag weer die kleine lyfie wat ook so vermoor is en in ‘n stormwaterpyp gevind is.
Dit was vriende van ons se suters-kind.

marius ·

Waarom woedend wees vir die polisie ? Hulle moet woedend wees vir die patetiese regstelsel !

Magda ·

Ja dit is waar ONS GROOTSTE PROBLEEM LE – Tronk toe is soos n GRATIS VAKANSIE – Niks skrik hulle af daar nie. Ons REGSTELSEL IS VROT NET SOOS DIE REGERING.

ES ·

Onthou net een ding marius, die staatsaanklaer en die regter kan slegs optree binne die perke van wat die strafregwet toelaat.

Hulle moet staat maak op die polisie se getuienis wat aangebied word. Mense blameer altyd die regter – maar hy maak nie sy eie reels nie, hy/sy moet volgens die strafregwet besluite neem oor vonnisse, boetes, gevangenisstraf ens.

Dis te maklik om die strafregstelsel te blameer wanneer die eintlike probleem by die polisie en ondersoekbeamptes le wat veronderstel is om die staat te help om ‘n waterdigte saak aan die hof voor te le.

PrettyMolly ·

As Regtersklerk stem ek saam… veral die Regters se hande is partykeer stomp afgekap, wat hulle soms wil doen (want hulle is ook net mense) en wat hulle mág doen, verskil hemelsbreed!

Magda ·

Hy was al voorheen ook aangekla – ONS WET moet baie dringend verander, met verkragtig en Moord – NET LEWENSLANK SONDER PAROOL. Hulle verdien nie weer om buite te wandel nie.

kolonel ·

Ek reken AS jy hulle uitlaat hang jy ‘n onverwyderbare, reuse klok om hulle nekke dat jy ten minste weet hulle is in die omtrek…

Cherokee ·

Lewenslange tronkstraf en die DA het gesê as gevangenes hande arbeid moet verrig, sal dit teen hul ‘lewensregte wees’. Dìt DA lede, is wat jul party se siening is by monde Glynnis Breytenbach. So, as jy DA stem het jy nie die reg om kritiek uit te spreek teenoor prisoniers se ‘gratis huisvesting met voordele’ nie.

Phil ·

Dit sal maar aanhou gebeur, totdat die publiek genoeg gehad en daadwerklike aksie neem om wette te verander

Jakes ·

Kinders word daagliks in SA vermoor of verkrag. Die reg op lewe word hierdie kinders ontneem deur gewetenlose skobbejakke wat geen respek vir lewe het nie. Handig in sulke gevalle die beskuldigdes oor aan die publiek sodat hulle flink kan optree en hofsake kan spaar.

Miskruier ·

Kastrasie, nie chemiese kastrasie. Die verwydering van die orgaan, hy moet sit soos n vrou.

Irene ·

Hoe verskriklik. Hierdie kind se reg om te lewe is van haar weggevat. Haar hele toekoms is weg. Haar ouers is ontneem om hulle kind te sien groot word en hulle kleinkinders te sien. Sterkte aan die familie.

Jax ·

Sit ek nou en Lees dat die vent sowaar kla dat die polisie hom aangerand het. Hy kan dankbaar wees die polisie het hom gekry voordat die gemeenskap hom gevind het.
Wat my betref het so n persoon sy reg op menslikheid verloor. In n donker sel, sonder klere en een keer per dag ou, droë brood (as daar is). Geen genade en geen regte. As jy dit aan n kind kan doen, het jy jou regte as mens verloor.
Hy moet liewer maar net stilbly en sy regsverteenwoordigers moet Mooi dink voor hulle hom verteenwoordig. Sou hulle hom verteenwoordig het as dit hulle kind was wat so tot haar einde moes Kom.
Familie van die kleine poplap – julle is konstant in my gedagtes en gebede. Mag ons Hemelse Vader julle troos en vashou. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.