Rompslomp met dranklisensies gaan werkskepping knou

(Argieffoto: Pascale Beroujon/AFP)

Die besluit om die uitreik van dranklisensies in Gauteng op te skort gaan werkskepping in die provinsie knou en boonop tot ʼn verhoging in onwettige handel lei, sê Patrick Atkinson, die DA se provinsiale woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling.

Atkinson se opmerkings volg nadat Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, vandeesweek gesê het die uitreik van alle dranklisensies sal gestaak word in die stryd teen dwelmmiddels en die verkope van onwettige goedere.

Atkinson meen die besluit sal entrepreneurs verhoed om nuwe ondernemings in die dranksektor te begin, wat ʼn belangrike rol in die skep van werksgeleenthede vir baie werklose inwoners speel.

“Dit is nou belangriker as ooit dat entrepreneurs deur die regering ondersteun word deur dranklisensies uit te reik om handel te dryf, aangesien daar meer as 2,5 miljoen werklose inwoners en meer as 600 000 ontmoedigde werksoekers [in Gauteng] is.

“Deur geen nuwe dranklisensies toe te staan nie, word die formele ekonomie van enige kans op groei ontneem. Dít sal ʼn daling in die bruto binnelandse produk (BBP) in die provinsie tot gevolg hê.”

Atkinson sê dit sal verder ook onwettige handel in alkohol aanvuur, asook die oopmaak van onwettige kroeë en tavernes wat weer wetsgehoorsame drankhandelaars benadeel.

Hy meen onwettige tavernes kan boonop verreikende gevolge hê, insluitend die bevordering van georganiseerde misdaad en die aanhitsing van alkoholgebruik onder minderjariges. Dit sal ook pogings om dwelmmisbruik te stuit, in die wiele ry.

Die DA eis nou ʼn verduideliking van Lesufi en die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Tasneem Motara, oor waarom ʼn besluit geneem is om die uitreik van dranklisensies op te skort, en of hulle enigsins die uitwerking daarvan op plaaslike entrepreneurs oorweeg het.

Lesufi het vroeër aangevoer dat ʼn vergadering belê is met alle Gautengse drankorganisasies in die bedryf en dat dié bedryf hom geloof het vir sy besluit om die uitreiking van lisensies op te skort. Dié stelling is egter deur die Gautengse drankhandelaarsvereniging (GLTA), wat meer as 35 000 drankhandelaars in Gauteng verteenwoordig, weerlê.

GLTA het nietemin aangedui dat hy voortaan steeds met die regering, gemeenskappe, geloofsgemeenskappe en ander belanghebbendes sal saamwerk om “ʼn vriendskaplike en volhoubare oplossing te vind vir dié betreurenswaardige en irrasionele besluit om die uitreiking van dranklisensies op te skort”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Karoo ·

so…. 2.5 miljoen mense het nie werk nie, maar hulle moet drank lesenaies gee dat ‘n paae kan week en die res kan drink??????

Delia ·

En SASSA uitgedrink kan word, kinders verwaarloos word en gemolesteer word en mense op ons paaie doodgery kan word. Mmmm n goeie redenasie…

Truman Burbank ·

Vir elke lisensie wat uitgereik word, word ten minste 1000 huwelike en verhoudings gekelder

Delia ·

Verseker. Daar is amper niks op sekere klein dorpies, maar daar is wel n drankwinkel

skurweberg ·

As dit gaan oor moreel-etiese waardes, maar ek is bevrees dit is iets waarvan daar min tot geen bestaan in die lewe van besluitnemers.

Jacobus ·

Hierdie is weer n foefie van die ANC om net weer voor die verkiesing volgende jaar lisensies uit te reik aan elke jan raap en sy maat.

Waarom ·

Vir my part kan hulle ‘n totale vebod op alkoholiese drank plaas. Het baie lewens en gesinne al verwoes

Rudolf ·

Net soos wettige vuurwapens, is wettige dranklisensies nie die probleem nie. As die lisensies nie meer uitgereik word nie, sal die sjebeens net meer word. Het hulle nie geleer uit Amerika se poging met Prohibition nie ?

Truman Burbank ·

Kroeë met wettige lisensies laat nog steeds toe dat mense daar dronk word en huistoe gaan.

Delia ·

Atkinson en dink jy by al die wettige drankplekke is daar geen misdaad en onwettighede.

Andrew ·

Die “lock-down” het bewys dat sulke toertjies nie werk nie, mense maak hul eie of koop uit n ander se garage.

capie ·

As die geld wat op drank spandeer word gebruik word om kinders van vroeg voorskool tyd te stimuleer om te kan leer, kinders die regte gebalanseerde voedsel te gee en uitvoer bedrywe tot stand te bring, gaan die land se ekonomie en lewens standaard baie vinnig deur die dak skiet. My standpunt is dat as jy geld het om elke naweek op drank uit te gee, verdien jy te veel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.