Alan Bright, Abigail Bright se oom, het bevestig sy is Dinsdagmiddag ontslaan en sterk nou tuis aan. “Nou lê ses weke se rus in die bed voor,” het hy gesê. Abigail is nou tuis by haar pa, Eugene en babasussie, Martinique (1).
Maroela Media het vroeër berig Marilize Bright (34) het Vrydagmiddag kort voor 15:00 vir Abigail en haar jonger boetie, Damian (7), by Laerskool Horison in Roodepoort gaan oplaai in haar blou Hyundai i20. Sy het toe gery om vir Martinique by haar kleuterskool daar naby op te laai, toe hulle deur drie mans gekaap is. Die verdagte wat bestuur het, het sowat 5 km verder op ʼn skerp draai beheer oor die motor verloor en is oor ʼn randsteen voordat die motor teen ʼn bakkie, wat ʼn woonwa gesleep het, gebots het.
Almal, behalwe Martinique, het ernstige beserings in die botsing opgedoen. Volgens Alan, Eugene se broer, is Marilize en Damian se toestand steeds kritiek, maar stabiel. “Tydens Eugene se besoek aan Marilize Dinsdag het sy regop gesit, met hom gesels en iets geëet. Die dokters is tevrede met haar en Damian se vordering. Die dokters wil Damian later vandeesweek van die ventilator afhaal.”
Die drie vermeende kapers is ook ernstig in die botsing beseer. Maroela Media het vroeër berig die verdagtes was veronderstel om Maandag in die Roodepoort-landdroshof te verskyn, maar die saak is uitgestel, aangesien twee van die verdagtes steeds in die hospitaal is.
Lees alle vorige berigte oor die Bright-gesin op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Baie bly dat nog n kind ontslaan is. Bid nog vir die ma en boetie. Hou ons asb op hoogte.
Ag ek is so bly.. nou moet Mamma en Boettie ook net gou beter word, sodat hul ook kan huistoe kom, Mag jul almal weer gou op die been wees… Sterkte
Wonderlike nuus, so bly dit gaan so goed met almal van hulle.
wonderlike nuus!!! Heer hou U hand oor die seuntjie en moeder ook!
Baie bly dit gaan al stuk-stuk beter. Hoe gaan dit met die mense wat in die bakkie was? Hulle is ook slagoffers van hierdie kaping.