RSG sluit nie, sê stasiebestuurder

Magdaleen Krüger. Foto: RSG

RSG gaan nie sy deur sluit nie, maar gaan eerder uitbrei en daar is nie ’n aanval op Afrikaans van stapel gestuur nie.

Só het Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG, gesê oor berigte dat RSG sy deure gaan moet sluit weens die afleggings by die SAUK.

“RSG, of dan die Afrikaanse radiostasie van die SAUK, gaan nie toegemaak word of ophou bestaan nie. Dit is fopnuus en dit is kwaadwillig,” het Krüger op die stasie se nuus- en aktualiteitsprogram Spektrum gesê.

“Dit is nie net RSG wat deur die afleggings geraak word nie. Die hele SAUK word geraak en dit is nie ook net ’n negatiewe ding nie.”

Dit is wel bevestig dat die vyf vaste omroepers, Johan Rademan, Martelize Brink, Haidee Muller, Jacqui January en Fritz Klaaste, en nog permanente RSG-werknemers afleggingsbriewe ontvang het.

“Wat betref die vyf vaste omroepers – hulle gaan steeds gehoor word op RSG. Ons gaan met hulle gesels oor ʼn vryskutkontrak.” Krüger meen daar is niks vreemd hieraan nie en dat RSG een van die min radiostasies is wat nog vaste omroepers het.

“Die mense het nou afleggingsbriewe gekry, maar dieselfde mense gaan nou kans kry om aansoek te doen vir die nuwe poste in die nuwe struktuur wat die stasie nog verder in ’n nuwe bedeling kan invat.”

Krüger meen daar is opportuniste wat die situasie uitbuit terwyl die feit is dat die SAUK ernstige finansiële uitdagings het wat hy moet afweer. “Hier is ʼn groot personeelkorps en die salarisrekening is buitensporig hoog en dis nie ’n volhoubare situasie nie. Dit sal onverantwoordelik wees van die SAUK as hulle nie iets hieraan doen nie.”

Wat RSG betref, meen Krüger ’n mooi toekoms lê vir die stasie voor. “Ons gaan eintlik ’n voorspoedige tyd binne.” Die SAUK het volgens haar vir RSG as ’n strategiese radiostasie bestempel. “Dit is regtig ʼn pluimpie vir RSG en Afrikaans dat die SAUK dink dat RSG vir hulle van strategiese belang is. Dit is alles ʼn aanduiding dat die SAUK erns het met Afrikaans en erns het met RSG.”

Die SAUK het vroeër aangekondig dat 400 van sy werkers afgelê moet word. Dit sluit diegene by sy nuuskantoor in. Daar is in hierdie stadium 170 vakante poste waarvoor werkers kan aansoek doen, wat die getal geraakte poste tot 230 verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sarel ·

Wat al die Miljoene wat vermors wzs deur swak Bestuur en nou moet die verbruiker en diecgewone werker weer opdok

annie ·

Die Krùger-tea-party se boem-boem-susters & kie wat hulself al vir dekades vermaak met hul eie doef-doef-musieksmaak en futlose programme kan nie nou al huistoe gestuur word nie want wie sal dan die lae kultuurvlak handhaaf en heeldag en aldag, van Sondag tot Sabat, hul kwinkslae en gekwetter kan nadoen. Nog 200 jaar seblief!

Johan ·

Die unieke Afrika taal,nl Afrikaans,is vir die ANC ń verleentheid omdat dit behoorlik funksioeneer. Maak die RSG los,bevry dit,Solidariteit sal sekerlik help. Wes Kaap Provinsie,sal julle hlerdie juweel-radiostasie huisves indien nodig?

MakersMark ·

Jare terug het ‘n bekende komediant gepraat oor “radio sonder mense”.

Casper ·

400 poste word vakant en daar is 170 poste waarvoor daar aansoek gedoen kan word en wie gaan aangestel word……..

Cecilia ·

Hoekom besnoei d SAUK nie d TOP bestuur se salarisse nie en besnoei ook sommer op al d gemors wat hulle uitsaai.
Dankie tog RSG julle bly d beste.

Martie Smartie ·

Vreemd hoe Magdaleen Kruger en Amore Bekker die septer swaai by daardie plek. Die tweetjies klap die sweep al jare lank en miskien moet Amore bietjie vertel watse kommissie sy uit die kookboeke gemaak het. En waarom word sy nie afgele nie? Of Kruger nie? Daar is iets fishy aan die gang met daai twee

Piet ·

Amore is vryskut, geen vryskutters word afgele nie. Jy klink jaloers op die twee.

Androclus ·

Ag wat sy en sue pyler of wat is baie kinderagtig kort net man.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis hoogtyd dat ALLE radiostasies en TV-kanale privatiseer. Die SAUK sal dan slegs die diens om uit te saai verskaf. So sal elke stasie en kanaal op hul eie winsgewend wees. Advertensies sal genoeg inkomste skep om uitgawes te dek.

Francois Le Cochon ·

Sedert 1992 word alle uitsensings, radio en TV, deur Sentech gedoen.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ten spyte van dat daar gesê is dat daar nie ‘n aanval op Afrikaans is nie, glo ek weer dat hierdie regering Afrikaans op alle vlakke wil verwyder.

Toby ·

Hoekom het RSG dan sy uitsaai via selfoon gestop? Baie mense regoor die wereld het geluister. Ek self ook het van daardie diens gebruik gemaak vir baie lank via ‘n goeie radio app.

Francois Le Cochon ·

jy kan nogsteeds RSG stroom reg oor die wereld vanaf verskeie webtuistes. Google net “RSG streaming”

Piet ·

Uitstekende radiostasie. Ek luister minstens 6 ure daagliks na RSG.

Francois Le Cochon ·

Stem saam, net jammer hul speel net musiek vir die jong generasie. Ons ouergarde wat in die 60’s en 70’s grootgeword het wil graag luister na Led Zeplin, Deep Purple, Uriah Heep, Grand Funk, Golden Earing, Kansas, Black Sabbath, Judas Priest, Slade, Genesis, Pink Floyd, Rolling Stones, Budgie, Blues Magoos, Emerson Lake and Palmer, en dies meer.

Dries ·

Wow okay. As ek ‘n afleggingsbrief ontvang, en daar vir my gese word ek mag nog ‘vryskut’ werk en dat ek nou moet aansoek doen vir ‘n ander pos (wat ek dalk nie mag kry nie), sal die eerste woorde wat in my kop kom seker ook “mooi toekoms” wees. NOT!

Jaco ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar maar meestal ook ‘n vuurtjie. Daars net 1 ding wat ek nie verstaan nie: sensussyfers wys dat die meerderheid Afrikaanssprekendes kleurlinge is; met ander woorde, slagoffers en afstammelinge van slagoffers van apartheid. So waarom nou diskrimineer teen mede-slagoffers van apartheid net omdat hulle toevallig die taal van apartheid en van onderdrukking praat?
Net so terloops, dwarsoor die ou British empire {1 derde van die wêreld se grondoppervlak) was Engels die taal van die onderdrukker. As daar nie onderdrukking was nie, waarom dan al die liberation struggles in o.a. Indië, Zimbabwe Kenia?

Stof ·

Terwyl ek saam bid vir ‘n werkbare oplossing vir ons gewaardeerde RSG, is ek hartseer omdat sosiale media nou ander stasies probeer inkrimineer deur te beweer dat hulle hulself probeer verryk in die proses om hulself as alternatiewe voor te stel. Hierdie beweerde stellings is egter verbeeldingsvlugte van kreatiewe soaiale media-gebruikers. Dié stasies wat genoem is, is van hoë integriteit en sal nie waar hulle kollegas elders swaartrek, teen hulle opstaan nie. Kreatiewe mense is medemenslik en sal nie, hul eie beeld so benadeel nie.
Dus: Laat ons alle omroepers en ander kreatiewe mense, eer vir die besondere wyse waarop hulle ons lewens elke dag so mooi inkleur, en hulle nie teen mekaar afspeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.