Rusland plaas Internasionale Strafhof-aanklaer op gesoekte lys

Karim Khan (Foto: JOHN THYS/AFP)

Russiese owerhede het die Internasionale Strafhof-aanklaer Karim Khan op ’n “gesoekte” lys geplaas nadat die hof in Maart ’n lasbrief vir president Wladimir Poetin se inhegtenisneming uitgereik het.

Khan se foto het Vrydag in die Russiese ministerie van binnelandse sake se databasis verskyn. Die kennisgewing beskryf hom as ’n man wat op 30 Maart 1970 in Edinburgh, Skotland, gebore is, maar spesifiseer nie sy oortreding nie.

Rusland het in Maart ’n kriminele ondersoek na Khan ingestel nadat die Internasionale Strafhof die lasbrief vir Poetin aangekondig het.

Rusland se ondersoekkomitee het in Maart gesê dat Khan ondersoek word vir die “kriminele vervolging van ’n persoon wat onskuldig is”. Rusland, wat nie ’n lid van die Internasionale Strafhof is nie, het gesê die lasbrief is “ongeldig”.

Oekraïne se pres. Wolodimir Zelenski het die lasbrief as ’n “historiese besluit” bestempel. Amerika se president Joe Biden het gesê die lasbrief vir Poetin se inhegtenisneming is “geregverdig”.

SA gaan ‘nie kant kies’

Pres. Cyril Ramaphosa het die week opnuut bevestig dat Suid-Afrika nie kant gaan kies in die voortslepende oorlog tussen Rusland en Oekraïne, wat in wese “ʼn stryd tussen Rusland en die Weste” is nie.

Dit ondanks “voortgesette druk” wat op hom en ander Afrika-lande geplaas word om dit te doen.

Die Amerikaanse ambassadeur na Suid-Afrika, Reuben Brigety, het verlede week beweer dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het.

Suid-Afrika sal in Augustus gasheer wees vir die Brics-beraad waar die leiers van Brasilië, Indië, China en Rusland byeen sal kom.

Daar was onlangs groot verwarring oor of Poetin in hegtenis geneem sou word, sou hy in Suid-Afrika aankom vir die beraad. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het onlangs aangekondig dat Suid-Afrika die Internasionale Strafhof moet verlaat, maar Ramaphosa het kort daarna teruggekrabbel en gesê dit was bloot ʼn “kommunikasiefout”.

Dit is egter steeds onduidelik wat die regering se hantering van die situasie gaan behels, sou Poetin wél vir die beraad na Suid-Afrika reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

SARegering weet blukbaar nie wat ” Neutraal” beteken nie…
Hulle het reeds duidelik kant gekoed

andre ·

Ek steun nie die DA of ANC nie ,maar ondersteun die keer Rhamaposa se besluit .

Johann ·

Klink soos ‘n OPRAH show…jy kry ‘n lasbrief….jy kry’n lasbrief…almal kry ‘n lasbrief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.