SA se Bryoni gaan Mej. Heelal toe

Bryoni Govender. (Foto: Katlego Mokubyane)

Bryoni Govender sal in November vanjaar die tweede persoon van Indiese herkoms wees wat Suid-Afrika tydens die gesogte Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig.

Kerishnie Naiker, wat in 1997 die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het, het in 1998 die toptien van die Mej. Heelal-kompetisie gehaal.

Govender is verlede maand as eerste naaswenner in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys.

Sy sal op 18 November die land in El Salvador in Sentraal-Amerika tydens die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig. Die kompetisie is in 1975 laas in dié land aangebied.

Hoewel die Mej. SA-kroon tans op Natasha Joubert se kop rus, het dié skoonheid reeds vantevore aan die internasionale kompetisie deelgeneem aangesien sy in 2020 as naaswenner van die Mej. SA-kompetisie aangewys is, en kan sy dus nie weer in aanmerking kom om aan Mej. Heelal deel te neem nie.

“Om slegs die tweede Suid-Afrikaner van Indiese herkoms te wees wat ons pragtige land op hierdie internasionale platform gaan verteenwoordig, is ʼn getuienis daarvan dat dit kragtig is om anders te wees,” sê Govender oor haar deelname.

“Ek kan nie beskryf hoe opgewonde ek is om my reis na Mej. Heelal af te skop nie, en soos wat hierdie nuwe hoofstuk ontvou is ek heeltemal toegewyd aan my ondersteuning van gelykheid vir alle vroue in Suid-Afrika.

“Ek takel graag die gapings in die prosesse van vrouebemagtiging deur mentorskapprogramme aan te bied wat fokus op sake en leierskapskursusse, entrepreneurs- en werksopleiding en vaardigheidsontwikkeling op sekondêre en post-tersiêre vlak van opvoeding vir dogters en vroue.”

Govender het ʼn regsgraad van die Universiteit van Johannesburg en is in Julie vanjaar as prokureur toegelaat terwyl sy aan die Mej. SA-kompetisie deelgeneem het.

Haar pa, Deven, is ʼn sake-eienaar in die nywerheidsbedryf terwyl haar ma, Shireen, ʼn skoonheidsalon besit. Sy het ook ʼn ouer broer wat as ʼn organiese boer in Duitsland werksaam is.

Meer oor vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie

Rikkie Kollé van Nederland is slegs die tweede transgender vrou wat vanjaar aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem ná Ángela Ponce van Spanje se deelname in 2018.

Camila Avella van Colombië en Michelle Cohn van Guatemala is ook vanjaar die eerste getroude moeders wat aan die kompetisie gaan deelneem nadat die Mej. Heelal-organisasie die reël wat ma’s se deelname verhoed, geskrap het.

Pakistan maak vanjaar haar debuut op die Mej. Heelal-verhoog, terwyl Bangladesj, Denemarke, Egipte, Guyana, Hongarye, Ierland, Kasakstan, Latvia, Mongolië, Nieu-Seeland en Noorweë terugkeer na die kompetisie.

Zimbabwe, wat in 2001 laas deelgeneem het, sal ook vanjaar weer deelneem aan die kompetisie.

Suid-Afrika is een van die wêreld se toplande wat skoonheidskompetisies betref en behou ʼn indrukwekkende rekord van voormalige Mej. Heelal-wenners, insluitend Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) (2017) en Zozibini Tunzi (2019), asook naaswenners Tamaryn Green-Nxumalo (2018) en Lalela Mswane (2021).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

miche ·

Sy was my( en baie ander) se gunsteling by Mej.SA kroning . Só bly sy gaan Mej. Heelal toe.
Absoluut beeldskoon en sy het die vrae by Mej.SA foutloos beantwoord. You go girl!

Mieke ·

Baie geluk! Jy is pragtig… sterkte vir die mej Heelal!! Ons kyk uit vir jou.

Karoo ·

Bryoni, jy neem veel meer saam met jou as jou skoonheid. Alles van die beste.

JohanR ·

Onthou die dae toe net nommer EEN, die EEN wat op die troon sit, en die EEN wat die KROON dra SA gaan tenwoordig het. N

Marina ·

Beeldskoon en natuurlik! So moeg vir al die pruike en meter lange oogwimpers in hierdie skoonheidskompetisies. You go girl!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.