SA se saak in VSA-komitee bepleit

Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Katherine Tai, en die Suid-Afrikaanse minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel (Foto: Verskaf)

Die Amerikaanse buitelandse sake-komitee van die huis van verteenwoordigers se subkomitee vir  Afrika het Woensdag argumente aangehoor oor waarom Suid-Afrika nog deel van die Afrika-groei-en-geleenthedewet – bekend as Agoa – behoort te wees.

Tydens die vergadering het ʼn reeks kenners hulle uitgelaat oor die huidige ekonomiese en politieke toestande binne Suid-Afrika. Ondanks toenemende kommer oor die “ondemokratiese beleidstellings” van die ANC, asook groeiende verhoudinge met kommunistiese China en Rusland, is daar aangevoer dat ʼn goeie handelsvennootskap tussen Suid-Afrika en die VSA tot albei lande se voordeel strek.

Die gesprek is gevoer in die lig van die Agoa-beraad wat in November in Johannesburg plaasvind. Die Amerikaanse regering is klaarblyklik ingestel daarop om sy handelsbande met Suid-Afrika te heroorweeg, in die lig van etlike omstrede besluite en uitlatings wat die Suid-Afrikaanse regering die afgelope tyd gemaak het.

“Die Suid-Afrikaanse storie is een van hoop, versoening en vasberadenheid. Dit het egter die afgelope tyd duidelik geword dat die ANC van vandag nie meer die party van [oudpres.] Nelson Mandela is nie. Die ANC word aangedryf deur elitekaping van die staat en is gebou op korrupsie en toenemende afhanklikheid van die staat,” het die voorsitter, John James, in sy openingstoespraak gesê.

Hy het gesê Suid-Afrika se verhouding met “kommunistiese” Rusland en China is “problematies” en dat Suid-Afrikaners nou, 30 jaar ná demokrasie, meer afhanklik van die staat is as ooit tevore, terwyl die staat misluk om die mees basiese dienste te lewer.

Hy het ook verwys na kommerwekkende beleidstellings soos swart ekonomiese bemagtiging, wat volgens hom gekniehalter word deur korrupsie en nepotisme.

Voorsitter van die Amerikaanse komitee vir buitelandse sake, John James. (Foto: Facebook/ John James)

“Meer as 18 miljoen Suid-Afrikaners is afhanklik van staatsubsidies, grotendeels omdat die regering daarin misluk om werk te skep. Die ANC probeer ook meedoënloos om grondonteiening sonder vergoeding in die wet in te skryf, wat ʼn einde aan eiendomsregte sal bring. Ek weet van geen land wie se demokrasie dit oorleef het nadat burgers hul eiendomsregte verloor het nie,” het James gesê.

Hy het verder verwys na Suid-Afrika se militêre oefeninge met Rusland en die feit dat die ANC steeds versuim om Rusland se inval van Oekraïne openlik te verdoem.

“Suid-Afrika het ʼn keuse oor watter handelsverhoudinge hy prioritiseer, net soos die VSA ook die reg het om belangrike handelsvennote te ondersoek. Die Suid-Afrikaanse regering se optrede die volgende paar maande sal deurslaggewend wees om te bepaal of hulle ons belangrike vennootskap weer op koers kan kry.”

Die komiteelid Sara Jacobs het hierop gereageer deur uit te wys dat Suid-Afrika en Amerika se verhouding binne ʼn geskiedkundige konteks gesien moet word. “Amerika het die apartheidsregering ondersteun omdat dié teen kommunisme gekant was. Amerika het die ANC soms selfs as terroriste uitgekryt, terwyl die Sowjetunie [Rusland] die ANC ondersteun het. Daar bestaan dus ʼn geregverdigde wrok teenoor Amerika.”

Sy het ook daarop gewys dat Amerika geen land sal dwing om tussen hom en Rusland te kies nie. “ʼn Goeie vennootskap beteken dat vennote ʼn manier vind om rondom uitdagings – soos korrupsie en die Lady R-voorval – te werk. Ons moet ook seker maak dat ons beleidstellings (soos om Suid-Afrika uit Agoa te skop) nie ʼn negatiewe uitwerking op die mense van Suid-Afrika het nie.”

Anthony Carroll, professor by die skool vir gevorderde internasionale studies aan die Johns Hopkins Universiteit in Maryland, is een van die kenners wat gevra is om die komitee hieroor toe te spreek. Hy het gesê Suid-Afrika is ʼn belangrike handelsvennoot, aangesien dit een van die mees gevorderde ekonomieë in Afrika is, met die mees stabiele geldeenhede. “Die regering plaas ook geen beperking op vryheid van spraak of geloof nie en het ʼn sterk burgerlike samelewing.”

Wat Suid-Afrika se verhouding met China betref, meen hy China het tot dusver misluk om werklik sy wil op die Suid-Afrikaanse regering af te dwing en dat baie Suid-Afrikaners bang is dat Brics as voertuig vir Chinese invloed gebruik sal word. “Rusland se ekonomiese invloed op die land is ook minimaal en ʼn onlangse peiling het gewys die meeste Suid-Afrikaners steun nie Rusland se inval van Oekraïne nie.”

Hy sê hoewel hy ook bekommerd is oor die rigting wat Suid-Afrika se verhouding met Amerika inslaan, is hy gekant daarteen om Suid-Afrika uit die Agoa-ooreenkoms te sluit. “Ek glo eerstens nie dat Suid-Afrika se omarming van Rusland enigsins ʼn bedreiging vir Amerika inhou nie. Tweedens is die uitvoer van goedere na Amerika kritiek vir werkskepping in Suid-Afrika en laastens sal Amerika se uitsluiting van Suid-Afrika uit Agoa net in die hande speel van dié binne die regering wat teen Amerika gekant is.”

Die Suid-Afrikaanse joernalis Redi Tlhabi, wat tans in Amerika woon, het vir die komitee gesê dit is van sleutelbelang dat Suid-Afrika se demokrasie beskerm word, aangesien Rusland se invloed sterk is in lande waar demokrasie kwesbaar is. Sy het ook daarop gewys dat Rusland nog nie daarin geslaag het om die Suid-Afrikaanse regering binne te dring nie. Sy het gevolglik by die komitee gepleit om eerder betrokke te raak by inisiatiewe wat demokrasie in Suid-Afrika sal bevorder, as om bande met Suid-Afrika te verbreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Karoo ·

Amerika sal geen land dwing om tussen hom en Rusland te kies nie. Staak net alle hulp aan Afrika, dalk dink hulle weer daaroor.

Hendrik ·

As burger van beide die VSA en RSA glo ek die regte ding vir die VSA om te doen om SA in AGOA te hou, ter wille van RSA burgers en die ekonomie. Maar, dan moet die VSA sterk diplomatieke druk op die SA regering toepas om korrupsie uit te roei, om die Nasionale Gesondheidsplan te staak, om eiendomsreg in stand te hou en te verbeter en laastens om misdaad vas te vat.

Alex ·

Wag… wag… wat?! Die Wes kaap wil pleit om by Agoa te bly en nou spring die ANC op en hardloop VSA toe om te pleit, en dit terwyl hulle kommunistiese idiologie nastreef.

Jaco ·

Selfs party Amerikaanse politici glo Rusland is nog steeds kommunisties, nes BAIE kommentare hier op maroelamedia.
Wanneer gaan dié nonsens kommentare dat Rusland kommunisties is nou endkry? Kommunisme het reeds einde 1991 tot ‘n einde gekom in Rusland. Toe het die kommunistiese Sowjetunie, waarvan Rusland die grootste deelstaat was, ook ontbind. Die Russiese Kommunistiese Party is sedert einde 1991 ‘n opposisie party in die Russiese parlement. Dit regeer nie Rusland nie. Putin was wel in die KGB in die 1980’s en hy was toe kommunisties, maar hy het ook verander. Hy het selfs later by die Russies Ortodokse Kerk aangesluit – VER verwyder van die ateïsme wat die kommuniste verkondig. Rusland het vandag ‘n vrye kapitalistiese ekonomie wat selfs miljoenêrs oplewer. Kan maroelamedia.co.za asseblief ietsplaas oor Rusland wat nie meer kommunisties is nie?

Gaitsigubib ·

Ek stem nie altyd saam met jou nie, maar verduidelik ten minste, dan word my kommentaar so 1 uit ‘n 100 maal geplaas. Ek wonder of die afmerker sy definsisie van kommunisme gestuur het en toe maar uit moedeloosheid net die afmerk gedruk het? Dit sou interesant wees want mens kry sulke uiteenlopende antwoorde oor die betekenis van kommunisme en tog beskou die meeste mense dit as n “common enemy”. Ons sien maar of my skrywe gemuilband word of nie.

Fanie ·

Miskien moet SA op hou om by die muishondberaad – aka BRICS gat te kruip. Dit is die begin van nuwe Warskouverdrag.. en dit is slegte nuus.

Republikein in die Wes Kaap ·

BRICS wentel om besigheid. Dis nie ‘n verdedigingsooreenkoms nie. Daar is gedurig ‘n skietery tussen China en Indië oor ‘n gedeelte landsgrens.

Gaitsigubib ·

Korrek soos gewoonlik Rep, en Nato aan die ander kant het n sterk militere inslag. Mens moet dit eintlik as normaal beskou as daar n konflik ontsaan wanneer n Nato alliansie wapens begin versamel op jou grens. Of mens Rusland steun of nie maak vir my nie saak nie, wat my bekommer is dat mense n ander optrede van Rusland verwag het. Ek kry nie die kloutjie by die oor nie.

Carolina ·

John James , hoe lagwekkend dat jy nog dink Rusland is ‘n kommunistiese land, julle boelies moet julle maar hou by julle eie patetiese liegbekke in Washington !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.