SA se skuldlas vreet hulpbronne

(Argieffoto: Unsplash)

Suid-Afrika is besig om enorme staatskuld gaandeweg te verminder – sonder om belasting te verhoog of besnoeiings aan maatskaplike toelae en infrastruktuur te doen – maar Enoch Godongwana, die minister van finansies, maan dat die land ʼn verstandige fiskale beleid moet handhaaf.

Die minister het Woensdag sy begrotingsrede gelewer.

In die algemeen is regeringskuld hoog: bruto skuld sal na verwagting van R4,73 biljoen in 2022-’22 tot R5,84 biljoen in 2025-’26 toeneem. En omdat die skuld so baie is, is die koste om dit te diens net so hoog.

Boonop vorder die regering jaarliks minder as R1,7 biljoen se belasting in en hoër as verwagte inkomste word verdeel tussen regeringsbesteding en die vermindering van skuld.

Die terugbetaling van rente sal na verwagting gemiddeld R366,8 miljard per jaar op mediumtermyn beloop en sal teen 2025’-26 tot R397,1 miljard toeneem.

“Hierdie is hulpbronne wat andersins gebruik kon word om dringende maatskaplike behoeftes te pak of in ons toekoms te belê,” sê Godongwana.

Die minister waarsku ook indien risiko’s, soos ʼn verslegtende ekonomiese vooruitsig, verdere verswakking van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) en ʼn onbekostigbare loonooreenkoms vir staatsamptenare ʼn werklikheid word, taai besluite geneem sal moet word.

“Om hierdie rede moet ons voortgaan om fiskale selfbeheersing toe te pas.”

Die gekonsolideerde begrotingstekort sal van 4,6% van BBP in die 2021-’22-boekjaar daal tot 4,2% van BBP in 2022-’23 en sal teen 2025-’26 op 3,2% van BBP te staan kom.

Eskom het ʼn reuse-reddingsboei ontvang en weens dié skuldverligting, sal die regering se skuld op ʼn hoër vlak – 73,6% van BBP – in 2025-’26 te staan kom.

Die terugbetaling van skuld neem ʼn enorme hap uit die regering se beskikbare hulpbronne en rente sal van 18% in 2022-’23 tot 19,8% in 2025-’26 styg – en op mediumtermyn gemiddeld R366,8 miljard kos.

“Gesonde openbare finansies kan ons help om ʼn voorspoedige toekoms te bou. Tog bestee Suid-Afrika vandag meer aan rente op skuld as aan gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, of vrede en veiligheid,” lui die begrotingshersiening.

“Mettertyd sal sterker openbare finansies die regering toelaat om minder aan skuld te bestee – wat 18c van elke rand wat ingevorder word, opvreet – en meer aan ontwikkelingsprioriteite soos openbare infrastruktuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Elke Suid Afrikaner dra nou R76,000 se staatskuld. Die 5.1 miljoen betekenisvolle belating betalers dra elk nou R931,000 se staatskuld. Ons sink weg en word eintlik armer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.