SA soldate in DRK in hegtenis geneem

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Agt lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat deel is van die Verenigde Nasies (VN) se vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), is in hegtenis geneem in verband met beweerde seksuele misbruik.

Die VN het ook dié soldate geskors.

Stephane Dujarric, woordvoerder van die VN se sekretaris-generaal, het gesê die liggaam het dadelik opgetree ná bewerings dat die agt lede van die VN se vredesmag hulle aan ernstige wangedrag skuldig gemaak het.

Die VN se kantoor vir interne toesigdienste het intussen ’n ondersoek van stapel gestuur na die bewerings van seksuele uitbuiting en mishandeling.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê minister Thandi Modise behoort verantwoordelikheid te neem vir die beweerde wangedrag en gebrek aan dissipline wat die weermaglede in die DRK getoon het.

Marais sê dit is duidelik dat die minister nie haar portefeulje doeltreffend bestuur nie. “Daar is ook ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid vir die verbrokkeling in dissipline en skreiende leemtes in bevel en beheer.”

Die opposisieparty vra nou dat ’n volledige interne ondersoek van stapel gestuur word na die bewerings sowel as die optrede (of gebrek daaraan) van die SANW-offisiere in beheer van die sending.

“Die minister moet weet dat die verdedigingsportefeulje meer is as net ’n geleentheid om aan te trek en parades by te woon. Dit handel oor werklike kwessies van lewe en dood van militêre personeel en burgerlikes binne ons grense,” sê Marais.

“Die minister is dit verskuldig aan die dapper mans en vroue wat hul lewens in die verdediging van ons land en ons demokrasie waag om nie ons gewapende magte tot ’n internasionale verleentheid te reduseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Manie ·

Hulle het niks daar verloor nie, ons eie land is in ‘n warboel van anargie en boonop bankrot.

domheks ·

Al die mini-sters is net daar vir die ‘pay’ die kennis ontbreek geheel en al. Skandelik gedrag van die lede!

kragaap ·

Gaan lewe hul net hul daaglikse gewoontes in ‘n ander land uit……Glo die DRC tronke is nie die vyfster geriewe wat hier is nie. Sit maar lank.

Maria. M. ·

Is ons verbaas? Nee! dis realiteits bestaan vir sommige, hulle maak SANW se naam nog swakker.

Blikkies ·

Wat ‘n skande. En die minister gee nie ‘n duit om nie, sy gaan net ‘n briefie or die voorval lees wat vir haar geskryf is , en dit is waar dit gaan stop.

skurweberg ·

Skandalig om sulke skuim in die weermag toe te laat. Dissiplienlose, detensie-barakke-spul wat geen ander werk kan kry nie.

George ·

Dis n eeu oue probleem dat soldate verkrag en seksuele misdrywe pleeg. Hoop hul word swaar gevonnis en word daar aangehou.

Danie ·

Na n R10 wat vir elke slagoffer uitgedeel word is die klagtes geskiedenis.

Bolandse Nooi ·

Nes jy daar sê. Die Remington Tigers, van Australië het presies dieselfde gedoen met Boere-vroue en -dogters in die Anglo Boere Oorlog.

Mariana ·

Hoop hul kry wat hulle toekom. Hulle kort so bietjie van dit wat hulle uitdeel. Maar hierdie is nie die eerste nie en sal ook nie die laaste wees nie. Minister stel in elk geval nie belang in haar pos nie, slegs die lekker vet salaris en soustrein. Nog een wat haar pos nie verdien nie. So is hulle almal……skande op skande vir SA.

Papsak ·

Mooi man wat soek hulle daar niks as jy my vra nie lis uit kry vir julle

Delia ·

Oral ter wereld vir baie baie jare gebeur dit. Verseker ook in konsentrasiekampe ook gebeur. Dit bly n klad op SA se naam. GBV moet aangespreek word.
Die probleem is eintlik ook dat sekere mans dink hulle het eienaarskap oor n vrou se liggaam.

voor ek vergeet ... ·

Wat ʼn verleentheid vir ons nasie. Mens sou op ʼn manier kon aanvaar as een soldaat homself skuldig gemaak het aan seksuele misbruik. Maar agt soldate, skets egter ʼn heel ander prentjie, klink eerder of die DRK teen die SA vredesmagte beskerm moet word as die gewapende rebellegroepe. Wonder of Ramaphosa en sy minister van verdediging hieroor ook gaan stilbly.

Elsie ·

En al hierdie gemors gebeur onder die wapperende SA vlag…..kotsend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.