SA vra Amerikaners om Agoa vroeër te verleng

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Suid-Afrika se ooreenkoms met die Amerikaners ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, beter bekend as die Agoa-ooreenkoms, verval in 2025.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het die Amerikaanse regering gevra om dit vroeër te verleng.

Patel in ’n onderhoud met Business Day bevestig dat hy tydens sy besoek aan die VSA vroeër vandeesmaand vir die Withuis gevra het om dit te oorweeg om die ooreenkoms vroeër te verleng aangesien dit vertroue onder beleggers sal inboesem en hulle sal aanmoedig om bykomende beleggings op die vasteland te doen.

“Ons het verbeterings geïdentifiseer wat in die bepalings van Agoa gemaak kan word, maar het ook die punt gemaak dat ’n spoedige hernuwing van Agoa in sy huidige vorm beter is as ’n verbeterde weergawe wat dalk ’n lang proses sal verg om af te handel,” het Patel tydens die onderhoud gesê.

“Indien ons Agoa grootliks in sy huidige vorm uitbrei, kan ons die bepalings oor die volgende paar jaar stapsgewys verbeter. Baie Afrikalande is gretig om vroegtydig uit te brei, want dit gee beleggers sekerheid om hulle vroeër tot bykomende beleggings op die vasteland te verbind.”

Patel, Enoch Godongwana, minister van finansies, en Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het tydens die besoek vroeg vandeesmaand ook met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger Katherine Tai vergader.

Patel het aan Business Day toegegee dat die VSA se kommer oor SA se verhouding met Rusland tydens hul vergaderings met Tai en ander Amerikaanse wetgewers en sakelui geopper is.

“Ons het SA se standpunt verduidelik en die geleentheid benut om te praat oor die verskillende bekommernisse wat geopper is; ons het uitgewys wat gedoen word om aandag aan van die kwessies wat deur die Suid-Afrikaanse regering oorweeg is, te gee en ek hoop ons het die gaping kleiner gemaak wat veroorsaak is weens die gebrekkige oordra van inligting,” het die minister verduidelik.

Volgens Patel het die afvaardiging tydens hul besoek ook die waarde van Suid-Afrika se ekonomiese verhouding met die VSA benadruk.

Agoa bied aan kwalifiserende Afrika-lande suid van die Sahara belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir meer as 1 800 produkte. Dit is benewens die meer as 5 000 produkte wat in aanmerking kom vir belastingvrye toegang onder die algemene stelsel van die voorkeurprogram.

Maroela Media het vroeër berig niks minder nie as 66 000 mense in Suid-Afrika het vandag regstreeks werk danksy die Agoa-ooreenkoms. Die ooreenkoms is ook indirek verantwoordelik vir 425 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika. Dit sluit in werksgeleenthede in die landboubedryf.

Daar word al maande lank gevrees dat die ooreenkoms in gedrang is weens Suid-Afrika se knus verhouding met Rusland.

Amerikaanse wetgewers het in Junie vanjaar in soveel woorde gesê dat Suid-Afrika behoort gestraf te word vir sy volgehoue steun aan Rusland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Suid Afrika steun dan vir Rusland, hoekom sal die VSA enige iets met die bakhand bedelaars te doen wil hê.

Cassie Carstens ·

Wat ‘n dom idee. Amerika gaan nie dat die kommuniste hom laat voorskryf nie. Patel is arrogant en moet ook waai.

annie ·

Patel is nie eintlik die skerpste potlood in die pakkie nie. Sy tydsberekening werk nog volgens Mandela-standaard. Nou wil hy begin voorbok speel oor krag ook. Hierdie ou was laas nog besig om ‘n covid-entstofresep af te bedel en nou wil hy nog bedel. Eskom soek om nog vir sy goue bakkie. Spaar ons uit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika begin swak vertoon. Liggewigte bepaal nou die agenda.

JohanR ·

My gooiste is dit die selfde ou met sy pantoffels, kort kouse, T-hemp en oorhemp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.