SA vs. Israel: Baie op spel in internasionale hofstryd

Die Internasionale Geregshof in Den Haag. Suid-Afrika se betoë word volgende week aangehoor. (Foto: Internasionale Geregshof)

Suid-Afrika se klag van volksmoord teen Israel word eersdaags in die Internasionale Geregshof in Den Haag aangehoor, met heelwat vrae oor of daar wel meriete in die regering se saak is en of die Suid-Afrikaanse regering ʼn kans op sukses in die Verenigde Nasies (VN) se hoogste hof het.

Sommige kritici van die besluit voer aan die regering saal die verkeerde perd op.

Die Suid-Afrikaanse regering voer aan daar is deurlopende berigte van internasionale misdade, soos misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade wat gepleeg word, sowel as berigte dat dade wat aan volksmoord grens, al gepleeg is of gepleeg kan word.

Die Suid-Afrikaanse regering sê ook dat hy as ondertekenaar van die Konvensie oor die Voorkoming en Straf vir Volksmoord, verplig is om te verhoed dat volksmoord plaasvind.

Israel, wat nog nie sy teenaansoek ingedien het nie, het met hewige ontsteltenis op Suid-Afrika se klag gereageer en gesê dié land verwerp “met minagting die bloedlaster wat Suid-Afrika en sy aansoek versprei”.

Prof. Hennie Strydom, ʼn professor in internasionale reg aan die Universiteit van Johannesburg, meen egter daar is beslis gronde vir Suid-Afrika se aansoek – wat uit twee dele bestaan – in die hof.

Die eerste is dat Suid-Afrika ʼn bevinding van die hof wil hê wat daarop dui dat die militêre offensief, veral die wyse waarop dit nou geïmplementeer word, en die gevolge daarvan neerkom op ʼn oortreding van die Volksmoordkonvensie van 1948 waarvan Suid-Afrika sowel as Israel ondertekenaars is.

Om ʼn beslissing in dié verband te maak, sal die hof soos met enige ander saak na die bewyse voor hom kyk en dan tot ʼn bevinding kom.

Die tweede aspek, en ook die belangrikste vir nou, is die aansoek om tussentydse maatreëls in te stel ten einde die burgerlike bevolking te beskerm.

“Dit is ʼn normale proses wat in sulke sake afspeel. Een van die bevele wat hulle [Suid-Afrika] vir die hof vra, is dat Israel sy militêre optrede staak en alle moontlike maatreëls sal tref om te verhoed dat volksmoord plaasvind.

“Wat dié aspek van die saak betref, is die bewyslas eintlik baie laag. Al wat Suid-Afrika moet aantoon, is dat daar ʼn redelike moontlikheid bestaan dat, indien die tussentydse maatreëls nie toegestaan word nie, dit daarop kan neerkom dat die Palestynse bevolking hulle ernstig blootstel aan verdere gevare wat hul veiligheid betref, insluitend die nood waarin hulle verkeer weens die vernietiging van hul infrastruktuur.

“Op daardie punt dink ek Suid-Afrika het wel ʼn baie goeie kans om ʼn bevel van die hof in hierdie verband te kry,” het Strydom aan Maroela Media verduidelik.

Hy sê dit sal wel beteken dat die hof daarop dui dat daar in dié stadium voldoende bewyse is dat volksmoord gepleeg word of gepleeg kan word indien die konflik op die huidige trant voortduur.

‘n Vuurbal ontplof na ‘n Israelse lugaanval op Gazastad. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Beslissing raak ook ander lede

So ʼn besluit kan verreikende gevolge vir ander lede van die Volksmoordkonvensie hê, wat dan stappe teen Israel sal moet doen om tussentydse maatreëls te steun. Dit sluit die VSA in, wat Israel tot dusver ondersteun het en hom sterk oor Suid-Afrika se klagte uitgelaat het.

“Die VSA sal in so ʼn geval ʼn sterker standpunt moet inneem en byvoorbeeld sy wapenhandel met Israel moet stopsit.”

Dit kan selfs daartoe lei dat die VSA sy finansiële hulp aan Israel staak indien hy nie gehoor aan die maatreëls gee nie. Strydom is egter onseker of die VSA wel só ʼn besluit sal neem.

Hy sê dit kom daarop neer dat ander lede van die Volksmoordkonvensie duidelik moet aandui dat daar gevolge sal wees indien Israel nie sy optrede stop nie – iets wat tot dusver nog nie gebeur het nie.

“Hierdie interimmaatreëls is natuurlik hangende die besluit van die hof op die meriete van die saak, wat die tweede fase van die aansoek is.

“Die eerste fase is egter ʼn dringende aangeleentheid, so ons behoort gou ʼn bevinding in daardie verband te sien.”

Pres, Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Strydom gee toe dat Suid-Afrika se stap om Israel te verkla wel ʼn ingrypende een is, maar sê dat die argumente in hul aansoek goed saamgevat is en dat daar wel steun vir Suid-Afrika se saak is.

“Daar is beslis gronde vir hierdie saak en Suid-Afrika tree ingevolge artikel 9 van die Volksmoordkonvensie op. Enige lid van die Volksmoordkonvensie kon hierdie aansoek ingedien het.”

Hy benadruk dat daar ook onderskeid getref moet word tussen die regering se steun vir die Palestynse gemeenskap en sy beweerde steun vir Hamas.

“Suid-Afrika het ʼn sterk geskiedenis van ondersteuning vir die Palestyne en daar moet ʼn skeiding wees tussen Hamas en die Palestynse bevolking. Suid-Afrika het Hamas se aanval op 7 Oktober – ook in sy aansoek – sterk veroordeel. Ek dink dit is regverdig om te sê Suid-Afrika het ʼn sentiment teenoor die Palestyne, maar ek dink nie dis regverdig om te sê Suid-Afrika is ʼn ondersteuner van Hamas nie en ek dink nie die aansoek is daarop gegrond nie.”

Strydom sê Israel se teengetuienis sal natuurlik ʼn beduidende invloed op die meriete van die saak hê, en dat ʼn mens eers dan met sekerheid sal kan sê of dit Suid-Afrika se saak versterk of ondergrawe.

‘Israel se bewyse beduidend’

Prof. Koos Malan, regskenner, is van mening dat Israel wel voldoende bewyse in sy teenargument sal kan lewer om te wys dat daar nie ʼn bedoeling is om volksmoord te pleeg nie.

Daarbenewens is hy nie oortuig dat Suid-Afrika se pogings om die teendeel te bewys sal slaag nie.

Malan sê Suid-Afrika steun onder meer sterk op vurige uitlatings deur sommige Israeliese regering- en politieke woordvoerders dat Gaza as’t ware platgevee moet word.

Hy meen dié woordvoerders – nie die kabinet self nie – het wel verwoestende uitlatings gemaak wat die hele Gaza-bevolking insluit. Dit kan inderwaarheid daarop dui dat Israel ten doel het om Gaza te vernietig, ongeag die implikasie vir burgerlikes.

Dis egter belangrik om kennis te neem dat dit slegs uitsprake deur sommige woordvoerders is, sê Malan.

Hy verwys ook na die meer as 22 000 mense wat reeds in die oorlog dood is – wat ook deel van die Suid-Afrikaanse regering se bewyslas vorm. Daarmee saam is derduisende mense beseer terwyl meer as 1,9 miljoen Gaza-inwoners op een of ander wyse ontheem is.

“Die getuienis van die Israeliese regering gaan waarskynlik die volgende wees: Hulle gaan sê ‘luister, as ons Gaza wou platmaak met die aarde, sou daar nie 22 000 mense dood gewees nie, maar 200 000. Dit getuig daarvan dat ons nie die sogenaamde bedoeling het om almal uit die weg te ruim en volksmoord te pleeg nie’.

“Dan het die Israeliese regering en weermag herhaaldelik gesê dat hy 70 000 telefoonoproepe gemaak het na mense in Gaza om te sê ‘ons gaan jul gebied binnekort aanval, gee pad’. Hulle het miljoene WhatsApp-boodskappe gestuur en iets soos sewe miljoen pamflette versprei voordat hulle op ʼn bepaalde gebied toegeslaan het.

“Só hulle het mense gewaarsku. Op grond daarvan kan jy sê dat ʼn bedoeling om volksmoord te pleeg, ontbreek, omdat die weermag klaarblyklik voorsorgmaatreëls probeer tref het om dit te vermy.”

Dit is volgens Malan hoe die tweede kant van die saak waarskynlik voor die meer as 17 regters in die Geregshof sal lyk.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van buitelandse betrekkinge en samewerking, het intussen aangedui dat Suid-Afrikaanse regter Dikgang Moseneke ook op die regbank sal sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elméne ·

Ek wonder maar net, wat anders as blatante volksmoord is aan die ORDE van die dag vir die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika??? Wie en wat gee vir rama-pinocchio enigsins die reg om sy mond uit te spoel teenoor Israel, terwyl hy elke liewe dag die volksmoord in sy eie land ignoreer, wat beteken, hy keur dit goed??

minnie muis ·

maar anc laat help vlug vir bushiri na die internatianale hof ggese het hul moet nie, wat van putin…. het die tak van die spesie waarvan ons almal deel is enige brein?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.