Saamgroeiende tweeling van Limpopo sterf

(Argieffoto: Unsplash)

Die saamgroeiende tweeling wat verlede week in Limpopo gebore is, is Donderdagoggend in die vroeë oggendure dood.

Die tweeling was maar net ʼn week oud ten tyde van hul dood.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, sê al die betrokkenes was hoopvol dat die tweeling dit sal maak, veral nadat ʼn span spesialiste van verskeie hospitale besluit het om saam te span om die tweeling te red.

“Ons was hoopvol dat die samewerking van spesialiste van die Mankweng Tersiêre Akademiese-hospitaal en die George Mukhari Sentrale Akademiese-hospitaal die gewenste resultate vir die toekoms van die tweeling sou bring,” sê Ramathuba.

“Ongelukkig het die tweeling dit nie gemaak nie.”

ʼn 41-jarige ma is verlede week in die Jane Furse-hospitaal op Burgersfort opgeneem waar sy geboorte deur middel van ʼn keisersnee gegee het.

Die prosedure is aanvanklik as ʼn normale tweelinggeboorte gesien, maar daar is spoedig vasgestel dat die babas by hul bors en maag met mekaar verbind is.

Die ma en die twee babas is daarna in die Mankweng Tersiêre Akademiese-hospitaal se neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem.

Die tweeling se toestand het Woensdagaand erg begin versleg. Hulle is Donderdagoggend dood verklaar.

Ramathuba het haar meegevoel met die tweeling se geliefdes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.