Jan Taks sê ‘jammer’ vir Pillay en kie

Ivan Pillay en Johan van Loggerenberg. (Argieffoto: ANA)

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het vandeesweek om verskoning gevra aan voormalige werknemers wie se lewensbestaan in gedrang gebring is tydens die kaping van die inkomstediens.

Die voormalige werknemers sluit in die drie voormalige uitvoerende hoofde Ivan Pillay, Andries Janse van Rensburg en Johann van Loggerenberg. Dié drie is aanvanklik aangekla vir hul beweerde betrokkendhied by ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid in die SAID, maar die klagte is in 2020 teruggetrek.

Die SAID het ook op aanbeveling van die Nugent-kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en -bestuur “regverdig en redelike” skadevergoeding aan die voormalige werkgewers aangebied vir die skade wat hulle tussen 2014 en 2018 onder die roekelose wanbestuur van voormalige kommissaris Tom Moyane gely het.

“Kommissaris Kieswetter bied namens die SAID ʼn opregte openbare verskoning aan sy voormalige werknemers vir die organisasie se optrede wat so ʼn verwoestende en diepgaande impak op hul lewens gehad het.

“Die SAID is diep spyt oor die seer, pyn en lyding wat hulle in hierdie tydperk moes deurmaak as gevolg van sekere van die SAID se aksies,” lui ’n verklaring deur die inkomstediens.

(Foto: ANA)

Moyane is in September 2014 as SAID-kommissaris aangestel en in 2018 deur die president afgedank, na aanleiding van die verdoemende Nugent-verslag, wat verskeie ongerymdhede in SAID se bestuur uitgewys het.

SAID se boeke het in April 2019 ʼn tekort van R14 miljard getoon.

Luidens die verklaring het Kieswetter met sy aanstelling in Mei 2019 bevind dat die situasie by die SAID baie erger is as wat selfs in die Nugent-kommissie se verslag weerspieël word. Kieswetter het gevolglik ʼn magdom maatreëls ingestel om die arbeidsmag te stabiliseer, personeelmoraal te herstel en werknemers se vertroue terug te wen.

Die maatreëls sluit in ʼn veldtog wat daarop gemik is om personeel ʼn geleentheid te gee om hul ervarings te deel en daaroor na te dink sowel as ʼn hersiening van eksterne en interne ondersoeke, dissiplinêre en ander indiensnemingsverwante aksies wat moontlik ongeregverdig was.

“Ek erken die skade wat aan die organisasie en voormalige werknemers sowel as hul gesinne aangerig is.  Ek hoop van harte dat die individue en hul gesinne met die afhandeling van hierdie prosedure ʼn mate van berusting kan ervaar en hul eie reis na genesing en herstel kan voortsit,” sê Kieswetter.

Die SAID vra om verskoning aan Ivan Pillay, Peter Richer, Andries Janse van Rensburg, Johann van Loggerenberg, Adrian Lackay, Pieter de Bod, Gilbert Gunn, Nkele Pitsi, Siobhan Wilson, Telita Snyckers, Charl Fourie, Gene Ravele en Marika Muller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sobymykoolkop ·

En weereens betaal die BELASTINGBETALERS vir die ” seer ,
pyn en lyding.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek voek vere vir hul “pyn en lyding.”

Johann ·

En wat van Tom? En sy tjomma wat nou nog in die howe pakslae kry maar te dikvellig is om te tatta?

Vrijburger ·

Geregtigheid!
Maar net soms, en net gedeeltelik.

Watse straf aksies gaan daar wees teen oa. KPMG wat nou hul verslag terug getrek het, Sunday Times wat die ‘rogue unit’ naratief gedryf het ens?

Koos 100 ·

Jammer sê help, maar die oplossing is kriminele klagtes teen die spul wat vir alles verantoordelik was. Dit alles net om Zuma se skelm planne deur te kan voer.

Perdeby ·

Geregtigheid sal wees wanneer hier die oud werknemers hulle dagvaar vir alles wat hulle moes deur gaan.

Danie ·

Ja ja hulle bedoel dit nie is net uitgevang dat hulle onskuldige mense en families se lewens verwoes het. Skaamte

Nie Verbaas ·

En is Moyane agter tralies en is op sy bates en pensioen beslag gelê of is die R14 miljard verkies maar net aanvaarbaar en word afgedkryf as net nog n ou lessie?

domheks ·

tom moyane en jz moet die mense vergoed vir ‘pyn en lyding’ nie die belastingbetalers nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.