‘Sakelui moet standpunt inneem teen #NationalShutdown’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: EFF/Twitter)EFF

Die Pretoria Sakekamer sê sakelui moet nie ag slaan op die EFF se dreigemente oor die nasionale betoging wat vir môre (Maandag) beplan word nie en bloot standpunt inneem deur Maandag met hul bedrywighede voort te gaan.

“Die heil van ons stad en die land lê nié in politieke partye nie, maar in entrepreneurs wat uitdagings in geleenthede omskep en verantwoordelikheid neem vir die uitdagings in ons omgewing,” sê Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer.

“Ons kort nie ʼn beter staat of regering nie. Ons moet werk aan ʼn beter sakeomgewing. As ons dít doen, sal politici selfs meer irrelevant raak as wat hul reeds is.

“Dit is sakelui wat hierdie land laat werk. Sakelui moet hulle bates, belange en personeel se inkomste beskerm. Doen dit deur jou besigheid te bedryf en risiko’s wat ontstaan te bestuur.”

Die EFF beplan al vir ʼn geruime tyd ʼn nasionale staking, met die oog daarop om ʼn einde aan beurtkrag te bring, terwyl pres. Cyril Ramaphosa se bedanking ook geëis word.

Suid-Afrikaners regoor die land het die naweek reeds gesien hoe buitebande in woongebiede en ander strategiese gebiede in onder meer Kaapstad en Pretoria geplaas is ter voorbereiding van die betoging.

Die Stad Kaapstad het reeds van dié buitebande begin verwyder en die EFF ʼn stewige boete gegee vir die plakkate wat die party regoor die metro opgeplak het om die betoging te bemark.

Die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad het reeds ʼn interdik teen die EFF se beplande nasionale betoging bekom.

Die Johannesburgse hooggeregshof het ook ʼn interdik aan die DA toegestaan wat die EFF verbied om skole, winkels, sakeondernemings en openbare paaie Maandag te sluit. Die EFF word ook verbied om geweld aan te hits.

Terwyl Suid-Afrikaners regoor die land hulself staal vir die beplande nasionale staking, is nog interdikte teen die EFF bekom in ʼn poging om eiendomme te beskerm en die ekonomie aan die gang te hou.

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir eiendomseienaars (Sapoa) het op sy beurt ʼn soortgelyke interdik bekom.

Luidens die hofbevel mag die EFF nie lede van die publiek, huurders, besoekers, kontrakteurs, werknemers of enige ander persoon weerhou, teister, intimideer, dreig of aanrand terwyl dié probeer om ʼn kommersiële winkelsentrum te betree wat normaalweg vir die publiek oop is nie.

Die interdik is voor, tydens en onmiddellik ná die betoging van krag.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds gewaarsku dat wetstoepassingsagentskappe die land teen “wanorde en anargie” sal beskerm tydens die EFF se landwye betoging.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het vroeër vandeesweek gesê dat troepe op strategiese punte regoor die land ontplooi sal word om die polisie Maandag by te staan.

Die SANW het egter die mediaverklaring waarin dié aankondiging gemaak is intussen teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.