SAL: Krediteure stem ten gunste van sakereddingsplan

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Krediteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Dinsdag ten gunste van ʼn sakereddingsplan vir die sukkelende lugdiens gestem.

Volgens die SAL se sakereddingspraktisyns, Les Matuson en Siviwe Dongwana, is die sakereddingsplan vroeër vandag goedgekeur met 86 % stemme.

“Die praktisyns verwelkom die goedkeuring van die sakereddingsplan met ’n oorweldigende meerderheid van diegene wat gestem het …  Dit is ’n belangrike stap vorentoe vir die lugdiens en bied die broodnodige sekerheid vir ’n herstruktureerde SAL,” het Dongwana in reaksie op die uitslag gesê.

Die departement van openbare ondernemings het op sy beurt ook die uitslag verwelkom. Dit volg nadat die departement, personeel, vakbonde en krediteure van die SAL vroeër teen die likwidering van die SAL gewaarsku het. Die departement het volgehou dat likwidasie tot finansiële swaarkry en die onderwaardering van bates sou lei.

“Die departement van openbare ondernemings is van mening dat [die goedkeur van die sakereddingsplan] ’n baie beter uitkoms vir krediteure en werknemers is as likwidasie. Die regering is vol vertroue dat die implementering van die plan die regte en belange van alle partye sal balanseer,” het die departement gesê.

Die DA is egter nie ten gunste van die sakereddingsplan nie aangesien dit ten koste van die belastingbetaler kom. “Ondanks hul roekelose uitleen aan die SAL die afgelope dekade, met die volle wete dat die lugredery bankrot was en nie sy skuld kon betaal nie, kan die krediteure nou voordeel trek uit Suid-Afrikaners sonder enige aanspreeklikheid vir hul optrede,” het Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge, gesê.

Die ontwikkeling van die betrokke sakereddingsplan het meer as vyf maande geneem en Matuson en Dongwana is gedurende dié tyd gekritiseer oor al ewige vertragings.

Volgens ʼn woordvoerder van Matuson en Dongwana sal die departement en die nasionale tesourie na verwagting Woensdag aandui of die regering R10,3 miljard gaan bewillig vir die herstrukturering van die SAL.

Maroela Media het vroeër berig ongeveer 2 700 personeel van die SAL sal gedurende die herstrukturering afgelê word. Die koste van afleggings en voordele sal sowat R2,2 miljard beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Daniel ·

Sluit die spul en kry klaar. Hoekom sou hulle nou enigsins verander en winsgewend raak, dis belaglik verby!!

JohanR ·

Julle keuse vir ‘n nuwe lugdiens naam gebou en herhou met belastingbetalers se geld….weer. Kom ek begin….1. Opstanding Lugdiens/Resurrection Airways – OL/RL 2. Lazarus Lugdiens/Airways -LL/LA.

Okmardom ·

Naam van die lugdiens moet in een of ander taal wees wat afwaarts grond toe beteken en moet iets soos Winnie insluit. ..grond toe!

Kokerboom ·

Die DA is absoluut reg. Veto die besluit
Verkoop die ding , dra finale koste en as jy dan so behep is met lugdiens se voortbestaan maak die gebruik van SAL logo as voorvereiste vir nuwe koper. Geen skande aan die eens trotse naam.
Dis net weereens onverstaanbaar dat regering so roekeloos met geld omgaan in tye dat mense sterf van honger

Die Wolf ·

Hulle gaan in elk geval weer tot gronde gaan. Ek sal beslis nie hulle ondersteun nie. Daar is ander meer professionele rederye wat my besigheid sal kry.

gatgogga ·

Ongelukkig gaan jy hulle ondersteun, Wolf, deur middel van jou belasting. Whether you like it or not.

Mallie ·

Baie dankie daarvoor. Ons het alreeds soveel werklose burgers, kan nie nog bekostig nie. Kies net die regte mense vir die werk ASSEBLIEF.

SwartBees ·

So, die 11de plaag, wat te erg is om in die bybel te noem, gaan net n ander baadjie vir SAL aantrek en ons belasting betaalers verder leeg tap.

gatgogga ·

Ek stem 100% saam met die DA se kommentaar.
Die krediteure besluit namens my dat die regering my belasting moet aanwend on te sorg dat hulle eie besigheidsrisiko nie vir hulle persoonlik skade berokken nie.

Jack ·

Alles net ten doel om die kaders en hul meelopers te bevoordeel. Almal met n greintjie grysstof weet dit en ek wonder op die punt oor die grysstof.

Jack ·

Wonder ook wie die krediteure is want die aanbod wat hulle gekry het het hul stem tgv redding geswaai. Wat sou jy doen?

gehasie ·

Dit is hoe die ANC (Kartel) hul eie persoonlike lugredery bekom! By gesê met Belastingbetalers se geld!

Nick ·

Al wat gaan help vir ons is belasting wat weerhou word,wie het die guts om so iets aan te pak ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.