SAL-transaksie van die baan

SAL-SAA-Airbus-A330-243

Drie van SAL se Airbus A330-243 vliegtuie staan by Heathrow-lughawe in Engeland in 2012. (Foto: Alex Beltyukov/RuSpotters Team/Commons.wikimedia.org)

Die ooreenkoms waarvolgens Takatso Aviation 51% van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sou koop, is van die baan. Gevolglik sal die lugredery nou weer 100% aan die staat behoort.

Takatso Consortium en die departement van openbare werke het Woensdagaand in aparte verklarings gesê hulle het saam ooreengekom dat onderhandelinge oor die transaksie beëindig word, aangesien hulle nie kon ooreenkom oor die “hersiende struktuur” van die transaksie nie.

Die partye probeer al drie jaar lank om ʼn ooreenkoms te bereik. Takatso Aviation sou 51% van SAL se belange hou en die departement van openbare ondernemings 49%. Die konsortium het onderneem om kapitaal van R3 miljard na die lugdiens te bring.

Luidens Takatso Aviation se verklaring is die transaksie, soos aanvanklik ooreengekom, nie meer in die beste belang van die maatskappy se aandeelhouers nie en is die risiko wat die maatskappy loop met die transaksie nou aansienlik groter as wat dit drie jaar gelede was.

“Deur hierdie transaksie was Takatso vasberade om ʼn suksesvolle lugredery te bou wat finansieel volhoubaar sou wees en sou bydra tot die land se ekonomie (..) eerder as om afhanklik te wees van reddingsboeie van die staat,” lui die verklaring.

Die maatskappy sê egter nou dat die “geleentheidsvenster” wat meer as twee jaar gelede bestaan het om dit reg te kry, intussen “toegeskuif” het.

Die departement het gesê dit was vir hom belangrik dat SAL as ʼn bate van die regering beskou moet word, waarvan die waarde tussen 2019 en 2024 toegeneem het. “Enige verkoop van die aandele van hierdie bate moet teen regverdige markwaarde geskied.”

Volgens die departement is die lugdiens se waarde in 2019 teen R2,4 miljard geraam, maar dat die waarde sedertdien met R3,1 miljard toegeneem het, weens verandering in die markte en groei in die ekonomie sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

Die partye het ses maande gelede besluit om die transaksie te hersien, aangesien ʼn aantal faktore sedert die aanvang van die ooreenkoms verander het. Dit sluit in, volgens Takatso, die feit dat die lugdiens nie meer in sakeredding is nie. Takatso is ook nie tevrede met bepaalde voorwaardes wat die mededingingskommissie gestel het voordat die transaksie kan voortgaan nie. Dit sluit in dat Takatso se minderheidsaandeelhouers hul belang in die maatskappy verkoop en daar ʼn moratorium op enige afleggings geplaas word.

Nie een van die partye sal ʼn beëindigingsfooi aan die ander verskuldig wees nie, aangesien die partye saam besluit het om die ooreenkoms te beëindig.

“Ons het volle vertroue dat die SAL sal aanhou vlieg en groei ten opsigte van die getal roetes en die vliegtuie wat hy sal kan huur,” het die departement gesê. “Ons ondersoek ook ʼn nuwe manier om fondse in te win, deur gebruik te maak van die finansiële bates van die lugredery. Die personeel sal Vrydag toegespreek word ten einde hulle ten volle hieroor in te lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Henk ·

Daar was seker nie enige finansieele voordele vir sekere individue nie.

Lesly ·

So die belasting betaler sal moet aanhou hoes en korrupsie kan nou weer met mening toeneem. Die gans wat die goue eiers le is nou weer gesond

domheks ·

Die trog kan nou weer vol raak! Ghordan het seker klaar ge-eet!

Nie Verbaas ·

Enige maatskappy wat kapitaal moet belê met n ooreenkoms met die ANC regering moet van sy kop af wees. Geld sal net weer verdwyn soos mis voor die son.

christo ·

Die Namibiese regering het die besluit geneem dat daar nie geld is om hulle bankrot lugdiens finansieel te help nie en dit summier op te ophou om te vlieg. Hoekom wil die Ramaphosa so graag die dooie gans laat aanhou vlieg.
Laat die departe van vervoer ‘n straler ‘lease’ en dit SA ANCadre Air Taxi noem. Dit sal goedkoper wees as om die SA belastingbetaler verder te laat hoes vir die SA(NC)A .
NEEM KENNIS: Die SA Lugmag sy grootste gedeelte van sy begroting aan BBP eskader spandeer.

Co ·

“Ons soek nou nuwe maniere in fondse in te win” se die departement, daai nuwe maniere gaan nie nuut wees nie, die belastingbetalers gaan weer moet uithaal en wys, ongeag wat Gordham se!

Anel ·

Nou het hulle ‘n rede om ons pensioenfonds te plunder!!! As jy nie geld het vir iets nie verkoop dit teen die prys wst aangebied word. Sal nooit die spul verstaan nie. Net soos Multichoise. Wil meer hê as wat dit werd is!!!!

SjN ·

Geen regdenkende mens sal saam met so n bodemlose put vereenselwig wil word nie, wat nog van geld daarin bele.

Oudste ·

Hoekom nou skielik, nadat Gordhan geweier het om volle openbaarmaking van die transaksie te doen en die DA baie druk op hom geplaas het om dit te doen? Ek ruik vrot vis.

Helen ·

Gordhan deel van die kaders en hulle kon nie genoeg kry vir die gatsak nie.

Tubac ·

Nie n manier wat ek hulle sal gebruik nie. Skuld my nog geld wat hulle nie betaal het nie. Ek gebruik slegs lugrederye wat ek kan vertrou en ook vir veiligheids redes.

Cassie Carstens ·

Die minister van finansies se begroting is in sy kanon, en die belastingbetaler sal maar net weer die tekorte moet finansier sodat staats amptenare in weelde kan vlieg. Nog ‘n wit olifant standbeeld van ‘n powere minister Pravin Gordhan. Skande!

JohanR ·

Asseblief tog verkoop SAL aan Safair vir R1. Binne 12-24 maande is ons weer trots op SAL. Hulle sal mense daar sit wat nie ANC kaders is nie, maar mense met kennis. Safair bedruif hulle besigheid reg.

Andre ·

….natuurlik nuwe maniere uitgedink om meer kommissie te verdien uit die transaksie, of dalk moet daar skielik meer outjies eet by díe trog!

Chris ·

Ek is nie een wat gou kla en kerm nie. Ek luister graag eerder na anders se kommentare as wat ek self iets bydra. Ek is seker van die wa af maar my kop is so plat dat ek nie kan verstaan hoe ‘n funksionele staat so tot in die grond in gedryf is nie. Die SAL en SA Lugmag was van die oudste ondernemimgs ter wereld wat funksioneer het. Die SA Lugmag was in 1997 ‘n hele 75 jaar oud. Ek is plat stom en dom geslaan oor die totale verwoesting wat die afgelope jare plaasgevind het. Tye verander, en dit gaan seker in ander lande dieselfde, maar dit laat net ‘n wrang smaak in die mond. Een ding is verseker, uit die ashoop en berg van verwoesting gaan daar weer iets herrys waarop ons weer kan trots wees. Daar is goeie en minder goeie tye. Niks kan verder verniel en vernietig word nie want daar is niks oor nie. Ons moet net bek hou en aanhou. Die geel speek sal wer bo uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.