SAL-transaksie van meet af gedoem

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Die ooreenkoms waarvolgens Takatso 51% van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sou koop, het talle rooi vlae laat opgaan en dit is dus geen verrassing dat dit van die baan is nie.

“Min. Pravin Gordhan se hardnekkige aandrang om besonderhede van die transaksie geheim te hou en die Takatso-konsortium se aandrang op meer belastingbetalersgeld voordat die transaksie voltrek kon word, was duidelike rooi vlae,” sê die DA LP’s Mimmy Gondwe en Alf Lees.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, sê dit was vanaf die eerste aankondiging duidelik dat daar geen werklike politieke wil was om die transaksie deur te voer en die verliese wat die fiskus al dekades lank teister, te versag nie.

“Dit is duidelik dat die ooreenkoms meer as drie jaar sedert die aankondiging uitmekaar geval het weens die gebruiklike interne teenkanting binne die drieparty-alliansie teen die aangekondigde maatreëls om die nasionale lugdiens te privatiseer,” sê Beaumont.

Gondwe en Lees meen Gordhan en pres. Cyril Ramaphoa se kabinet, wat die transaksie gesamentlik goedgekeur het, behoort aanspreeklik gehou te word vir die versuim om behoorlike omsigtigheid aan die dag te lê voordat verkoopsonderhandelinge met Takatso aangegaan is.

“Hulle het almal hul fidusiêre pligte as bewaarders van ʼn staatsbate versuim en behoort verantwoordelikheid te dra vir enige moontlike verliese wat belastingbetalers gely het gedurende die tydperk toe die ooreenkoms vermoedelik van krag was.”

Die LP’s wys daarop dat die belastingbetaler die SAL se massiewe aanspreeklikhede van sowat R15 miljard opgeneem het. Dit het die lugdiens skuldvry gelaat met aansienlike bates, “waaronder ʼn gerespekteerde handelsmerk” wat ʼn waarskynlike waarde van meer as R7 miljard gehad het.

“Vir 51% van hierdie skuldvrye SAL om vir R51 verkoop te word, was verregaande en ʼn klap in die gesig van belastingbetalers,” sê Gondwe en Lees.

Die DA gaan nou versoek dat Gordhan die betrokke kontrakbeëindigingsdokumente openbaar moet maak.

“Nadat hulle jare lank geweier het om die koopooreenkoms vry te stel, verdien Suid-Afrikaners ten minste om te weet wat die redes agter die beëindiging van die mislukte SAL/Takatso-transaksie is.”

ActionSA het van die geleentheid gebruik gemaak om te benadruk dat Suid-Afrika nie langer sukkelende entiteite in staatsbesit kan bekostig nie.

“Die SAL is boaan die lys van entiteite in staatsbesit wat onmiddellik verkoop moet word om ʼn einde te bring aan geld wat in die water gegooi word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Een of ander kader is nog honger, die trog moet gevul word …

Sobymykoolkop ·

Die kommunis pravin wou met ń vet winsie uitstap. Toe die opposisie aandring op die ooreekoms wat pravin ten alle koste geheim wou hou, val die ooreenkoms gerieflik deur die mat. Nou gaam die belastingbetaler weer reddingsboeie vir die anc uberdiens betaal.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Transformeer SAL/SAA se naam na Mzansibabwe Airline

Jacobus ·

Die anc se persoonlike private lugdiens. Dit moet instand gehou word sodat hulle met hulle die anc se persoonlike taxidiens die SAL landuit kan vlug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.