SA’ner se Oekraïense gesin by lughawe weggewys

Roan en Marta Lindsay by Marta se driejarige seuntjie, Marat. (Foto: Verskaf)

Toe die Russiese oorlog in Februarie in Oekraïne uitgebreek het, het Roan Lindsay (28) geweet dat hy sy Oekraïense vrou, Marta (27), en haar kleuterseuntjie, Marat (3), so gou moontlik daar moet uitkry.

Lindsay, wat in Rustenburg woon en werk, het altesaam 41 000 km oor Oekraïne, Oos-Europa, Hongarye, Denemarke en die Tjeggiese Republiek teen ʼn koste van R150 000 gereis om sy gesin eindelik tot in Suid-Afrika te bring, net om op 2 April by die Oliver Tambo-lughawe weggewys te word weens ʼn probleem met Marat se visum.

“Ek het nie geweet wat om vir haar te sê nie. Ons het met almal gepraat aan wie ons kon dink, maar niemand kon ons help nie. Nadat die beamptes by die lughawe gesê het Marta en Marat mag nie die land binnekom nie – het ek vir ʼn rukkie net daar gesit – ek wou nie die nuus aan haar meedeel nie,” het Lindsay vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Lindsay sê ʼn mens kan sirenes en bomme hoor van waar Marta en haar seuntjie in Oekraïne woon en dat hulle bang is om daar te bly.

Marta het reeds voor die oorlog ʼn afspraak met Oekraïense owerhede gehad om vir Marat se paspoort aansoek te doen, maar dié afspraak is gekanselleer nadat die oorlog uitgebreek het.

Die owerhede het egter aangedui dat hulle ná die paartjie se troue ʼn visum vir Marat in Marta se paspoort sal bekragtig – wat gegewe die oorlog internasionaal aanvaar sal word. Lindsay en Marta was in dié stadium nog verloof en sou in April vanjaar trou.

Die Oekraïense ambassade in Suid-Afrika het glo ook ʼn brief met dié tydelike reëling – wat vir kinders onder drie geld – aan die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gestuur. Die ambassade het na bewering geen terugvoer van Dirco ontvang nie. Die brief is ook aan Lindsay gestuur.

Roan en Marta Lindsay by Marta se driejarige seuntjie, Marat. (Foto: Verskaf)

Nadat Marta en Marat toegang tot Suid-Afrika geweier is, moes Lindsay inderhaas nuwe vliegkaartjies koop en Marta en Marat tot by die Roemeense grens vergesel van waar hulle na hul oorloggeteisterde tuisland moes terugkeer. Marta en Marat woon sowat twee uur se reis van dié grens af.

Lindsay is tans in Suid-Afrika, terwyl Marta en Marat nou opnuut probeer om toeristevisums in Oekraïne te bekom.

Oorlog ry trouplanne in die wiele

Volgens Lindsay was dit nog altyd deel van die plan dat Marta en Marat na Suid-Afrika toe kom sodat die jong gesin hul lewe hier kan vestig – ʼn plan wat eers deur Covid-19 en toe die oorlog omvergewerp is.

“Jy beplan jou lewe saam, maar dit kan in een oomblik verander. Nou staan alles stil.”

Lindsay het Marta in 2020 deur ʼn vriend ontmoet, toe hy vir dié vriend in Oekraïne gaan kuier het. Die twee het beplan om in April vanjaar in Marta se tuisdorp, Kamianets-Podilskyi, te trou. Lindsay se vriende en familie sou ook van Suid-Afrika reis om die troue by te woon.

Marta en haar seun sou hulle daarna by Lindsay in Suid-Afrika aansluit.

Kort ná Rusland Oekraïne ingeval het, het Lindsay eers na Oostenryk en toe na Roemenië gereis om Marta en Marat te gaan haal.

Marta se pa het haar en haar seuntjie uit Oekraïne oor die Roemeense grens help vlug waar hulle in Sucueva vir Lindsay gewag het. Volgens Lindsay moes hulle na Boedapest in Hongarye reis – wat glo die beste plek sou wees om aansoek vir die nodige visums te doen.

Ná 18 uur op ʼn bus het hulle in Boedapest aangekom waar die ambassade hul visums goedgekeur het.

Intussen het Lindsay en Marta in Kopenhagen in Denemarke getrou, aangesien dit die enigste land was wat die huwelik sou waarneem en bekragtig met die dokumente wat Lindsay en sy gesin tot hul beskikking gehad het.

Ná ʼn vlugtige seremonie is die gesin terug na Boedapest om hul visums af te haal.

Ná ʼn 16 uur lange vlug het die gesin in Johannesburg geland waar Marta en Marat toegang tot die land weens “emigrasiewetgewing” geweier is.

Die twee is beveel om terug te keer Oekraïne toe om hul visums uit te sorteer voordat hulle na Suid-Afrika mag terugkeer.

Lindsay is saam en het weer na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy Marta en Marat by die Roemeense grens afgesien het.

Volgens Lindsay het hulle Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, genader en kyk dié departement nou hoe hulle die gesin kan bystaan.

Maroela Media het ʼn navraag aan Dirco gestuur en wag tans op terugvoer.

“Dis moeilik, maar ons weet dis nie in ons hande nie. Ons vat dit maar dag vir dag en probeer heeltyd nuwe planne maak om te doen wat ons kan.”

Marta hoop om ʼn loopbaan in rekeningkunde voort te sit wanneer sy wel in Suid-Afrika aankom. Lindsay werk by sy ouers se grondverskuiwingsonderneming.

Enigiemand wat ʼn finansiële bydrae aan Lindsay en sy gesin wil maak om hulle met dié stryd by te staan, kan met hom by 071 682 6963 kontak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ettienne ·

Nou wat sê ‘n mens. Die vrou kan by iemand gaan bly en sal versorg word. Sy kan selfs hier werk, en sou maklik opgespoor kan word deur binnelandse sake om die administrasie uit te sorteer sodat sy wettig hier kan wees. Maar nee, die regstellendes by binnelandse sake en customs besluit anders. Hoekom, seker maar omdat sy blank is? Intussen sypel 1000de “ander” ons land binne en moet verdorg word ….

Christine ·

Daar wys ons 30%ters amptenare presies waar hul lojaliteite lê. Misdadigers vlieg in en uit, maar nie onskuldige vlugtelinge nie.

Realis Thailand ·

Hy moet hulle maa rna Zimbabwe neem en dan oor die grens loop soos vele miljoene ander deur die jare doen

Jack ·

Wys jou maar weereens waar die land se sentiment le. Skielik is grensbeheer absoluut bekwaam terwyl grensdrade platle en korrupte amptenare floreer by grensposte. Wat kan die kleuter nou aan die land se veiligheid doen. So belaglik Dirco!!

Nierkie ·

Daar is ‘n geteerde highway van Zimbabwe af oor die grens, gebruik dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.