SA’ners in heli wat in Australië bots

Elmarie en Riaan Steenberg. (Foto: Facebook)

Vier Suid-Afrikaners is onder dié wat beseer is toe die helikopter waarin hulle gevlieg het Maandag aan Australië se Goue Kus teen ʼn helikopter van Sea World gebots het. Vier mense aan boord van die Sea World-helikopter is in die ongeluk dood, terwyl drie ander kritiek beseer is. Twee van die beseerdes is kinders.

Die vyf passasiers, onder wie die Suid-Afrikaners, en vlieënier in die ander helikopter, het geringe beserings opgedoen.

7News in Australië berig dat Elmarie en Riaan Steenberg saam met Marle en Edward Swart aan boord van een van die helikopters was, asook die vlieënier Michael James en nog ʼn passasier wie se naam nie bekend is nie. Almal wat in dié helikopter was, het oorleef nadat die vlieënier die beskadigde helikopter veilig geland het.

Elmarie het Woensdag op Facebook bevestig dat hulle in die ongeluk betrokke was, en dat sy tans in ʼn hospitaal aansterk.

“Ek is nog steeds in die hospitaal aan die Goue Kus, waar ek van beserings herstel.

“Al wat ek kan sê, is dankie aan God dat Hy ons almal gespaar het.”

Die Steenberg- en Swart-egpare is oorspronklik van Suid-Afrika, maar woon saam met hul gesinne in Auckland in Nieu-Seeland. Die paartjies was ten tyde van die ongeluk met vakansie in Australië en het ʼn kort helikopterpretrit onderneem.

Edward en Marle Swart. (Foto: Facebook)

Die helikopter was reeds besig om te land toe ʼn Sea World-helikopter, wat besig was om op te styg, daarteen vasgevlieg het. Die oorledenes wat in die Sea World-helikopter was, is die vlieënier Ash Jenkinson (40) wat onlangs pa geword het, ʼn pasgetroude paartjie van Brittanje, Ron (65) en Diane (57) Hughes, en ʼn 36-jarige ma van Sydney, Vanessa Tadros. Tadros se seun, Nicholas (10), is een van die kinders wat kritiek beseer is, saam met Winnie de Silva (33) en haar seun, Leon (9).

Angus Mitchell, hoofkommissaris van die Australiese Vervoerveiligheidsburo, het aan 7News gesê dit is “merkwaardig” dat James die helikopter tot landing kon bring – veral gegewe die skade wat aan die linkervoorkant aangerig is waar James gesit het. Die nuusinstansie het beeldmateriaal vrygestel wat enkele sekondes voor die botsing geneem is, en die trefslag van die Sea World-helikopter vasgelê het.

Die Steenberg- en Swart-egpare het intussen hul stilte in ʼn gesamentlike verklaring verbreek en hul medelye met die slagoffers in die Sea World-helikopter betuig.

“ʼn Vyfminute-pretrit met vakansie in Australië het in ʼn nagmerrie ontaard,” lui die verklaring volgens Daily Mail in die Verenigde Koninkryk.

“Ons is dankbaar en geseënd om gespaar te wees, maar ongelooflik hartseer vir die mense wat geliefdes verloor het, en die kinders en ma wat om hul lewe in ʼn hospitaal veg. Ons harte voel so swaar vir hulle.

Die ongelukstoneel. (Foto: Facebook / Gold Coast Community)

“Ons innige simpatie en opregte medelye gaan uit aan die beseerdes, oorledenes en hul families.”

Die egpare sê verder dat hulle meer inligting sal deel sodra hulle gereed is, maar vra intussen vir privaatheid terwyl hulle die voorval verwerk.

Hulle het ook hul dankbaarheid uitgespreek aan omstanders op die toneel, die polisie en nooddienswerkers wat hulle vinnig te hulp gesnel het, asook kalm en gemaklik gehou het. Die egpare het die vlieënier as ’n held geloof.

Australië se vervoerveiligheidsburo het gesê hy het reeds ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur. ʼn Voorlopige verslag oor die voorval word oor ses tot agt weke verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.