Ondanks talle ekonomiese uitdagings blyk dit dat Suid-Afrikaners optimisties oor hul geldsake is, met baie mense wat ’n styging in hul inkomste oor die volgende 12 maande verwag.
Luidens die Consumer Pulse-verslag van die kredietburo TransUnion, het 74% van huishoudings in die vierde kwartaal van 2023 aangedui dat hulle ʼn stewiger bankbalans in die volgende jaar verwag. Net 6% van respondente wat aan die peiling deelgeneem het, vermoed dat hul beursies waarskynlik al hoe dunner gaan word.
Sowat 20% verwag dat hul inkomste dieselfde sal bly.
TransUnion het verder bevind dat millenniërs (80%) en generasie Z (77%) die positiefste oor hul finansies is.
“Hierdie optimisme, wat veerkragtigheid in die lig van heersende ekonomiese uitdagings weerspieël, toon die potensiaal vir herstel en groei,” lui die verslag.
Skuld skets donkerder prentjie
Die prentjie lyk egter heel anders wat wanneer dit by die terugbetaling van skuld kom.
“Slegs 59% [van huishoudings] verwag om hul huidige rekening- en skuldverpligtinge na te kom, terwyl 34% van generasie Z en 42% van millenniërs vermoedelik nie hul rekeninge of skuld sal kan betaal nie.”
TransUnion sê huishoudings se inkomste het op verskeie interessante maniere verander, met nuwe ondernemings (16%) en hoër salarisse (14%) as die hoofredes vir ʼn finansiële hupstoot.
Afnames in inkomste word onder meer toegeskryf aan werksverliese (23%) en laer lone (17%).
“Hierdie faktore beklemtoom die brose balans tussen loopbaanvooruitgang, ekonomiese sekerheid en die rol van entrepreneurskap om finansiële welstand te bevorder.”
Begrotings lyk anders
Die verslag dui verder aan dat verbruikers hul begrotingstrategieë oor die afgelope drie maande aangepas het, met 29% wat hul huidige skuld vinniger afbetaal het. Altesame 25% het meer geld in noodspaarfondse of stokvelle geplaas, terwyl 18% meer geld vir aftrede weggesit het.
Byna helfte (47%) van alle respondente wil oor die volgende drie maande hokaai met hul spandering – veral aan nie-noodsaaklike items.
Altesame 38% beplan om remme aan te slaan met kleinhandelaankope. Hulle wil ook groot aankope vermy.
Dit blyk dat veral generasie X (51%) en die baby boomers (56%) geld konserwatief gaan uitgee.
Wat die betaling van rekeninge en ander skuld betref, het 34% van respondente aangedui dat hulle in hul spaarrekeninge gaan delf, terwyl 31% beplan om net gedeeltelike betalings binne hul vermoë te maak om skuld te delg.
Volgens TransUnion is dié begrotingstrategieë positief en tekenend van “proaktiewe skuldbestuur”.
Huishoudelike besteding lyk egter anders onder al die verskillende generasies.
Waar 41% van baby boomers en generasie X ʼn toename in rekeninge en lenings verwag, voorspel generasie Z-verbruikers dat hul besteding aan kleinhandelaankope gaan toeneem.
“Wat interessant is, is dat beide millenniërs (40%) en generasie Z (44%) bydraes vir aftrede en beleggings wil verhoog.”
Hulle wil dit doen deur groot aankope te vermy. Luidens die verslag sal groot aankope deur dié twee generasies na verwagting met 40% en 35% onderskeidelik afneem.
“Hierdie verwagtinge weërspieël ʼn generasie-omkeerpunt om finansiële stabiliteit oor die lang termyn te verseker, veral in die lig van heersende ekonomiese onsekerheid.”
Baby Boomers | Mense wat tussen 1946 en 1964 gebore is. |
Generasie X | Mense wat tussen die middel 1960’s en laat 1970’s gebore is. |
Millenniërs | Mense wat tussen 1981 en 1996 gebore is. |
Generasie Z | Mense wat tussen die middel 1990’s en middel 2010 gebore is. |
Ek dink ons gaan nog baie swaar kry als al klaar so duur
Indien jou belasbare inkomste meer as R1miljoen behoort dit goed te gaan
Twak tov van witmense en veral Afrikaners. Armoede en werkloosheid is hul voorland soos tydens die Depressiejare. Dit het nog nooit so goed gegaan met swart-Afrika nie vandaar die hulp en raat aan die sg Palestyne om dieselfde resep te volg.
Die opname is seker gemaak net onder BEE’S en korrupte kaders.