Sanger, mede-kerkmanne sterf in botsing

James Nee is saam met nog twee lidmate van die Enlightened Christian Gathering-kerk in Pretoria op slag dood. Foto: Facebook

Drie lidmate van ’n Pretoriase kerk, onder wie ’n gospelsanger, is op slag dood in ʼn trompop botsing tussen ʼn motor en ʼn vragmotor op die N1 by Louis Trichardt.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het Dinsdag omstreeks 04:00 noord van die weegbrug buite die dorp in die Limpopo-provinsie gebeur.

“Na bewering was die vragmotor in ʼn noordelike rigting onderweg toe die trompop botsing met ʼn sedanvoertuig plaasgevind het,” sê Ngoepe. “Al drie insittendes van die passasiersvoertuig is op slag dood en niemand in die vragmotor is beseer nie.”

Al drie oorledenes, tussen 22 en 30 jaar oud, was lidmate van ʼn kerk in Pretoria, sê hy.

Hul naasbestaandes moes nog in kennis gestel word en daarom kon hy nie die oorledenes se name bekendmaak nie. Ngoepe het egter bevestig een van die drie is ʼn internasionale opnamekunstenaar.

“Die oorsaak van die ongeluk is tans onbekend, maar die polisie sal dit tydens hul ondersoek vasstel,” sê Ngoepe.

Dit het intussen in die sosiale media aan die lig gekom die opnamekunstenaar is die sanger, liedjieskrywer, vervaardiger en sakeman James Owen Nee, oorspronklik van Malawi. Sy liedjie “Turning Around” is reeds 120 000 keer op Facebook gekyk.

“Dis met groot hartseer dat ek van die skielike heengaan van een van ons groot aanbidders, James Nee, vroeg vanoggend in ʼn motorongeluk verneem het,” het “die profeet” Shepherd Bushiri, hoof van die Enlightened Christian Gathering-kerk, op Facebook geskryf.

“Ek is in kennis gestel dat James en my twee ander [geestelike] seuns Beston Khamba en Brain Glant [sic] onderweg was in ʼn voertuig wat gebots het met ʼn vragmotor en in die proses omgeslaan het, wat die lewe van al drie geëis het.”

Die “profeet” Shepherd Bushiri het die oorledenes op Facebook vir hul evangelisasiewerk geloof. Foto: Facebook

Hy sê die drie oorledenes het soveel harte in hul leeftyd aangeraak. “Julle het God sonder ophou aanbid en die wêreld platgereis met die doel om Jesus te verkondig. Julle het ruim daartoe bygedra dat siele vir Christus gewen word.”

Shepherd Bushiri, wie se gemeente saamtrekke in Pretoria-Wes hou, het in 2015 van Malawi na Suid-Afrika verhuis. Hy woon in ʼn weelderige woning op die Waterfall-landgoed in Midrand, het die Mail & Guardian in April verlede jaar berig.

Luidens die berig het die “profeet” destyds bouwerk aan ʼn kerk met 10 000 sitplekke in Kyalami gestaak en ʼn entjie daarvandaan begin bou nadat die onwettige bouwerk aan die lig gekom het. Destyds is die kerk gehuisves in ʼn “wonderwerktent” in Pretoria-Wes met sitplek vir 20 000 kerkgangers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

My hart gaan uit na hierdie jong mense se families. Dis hartseer.

Gawie ·

Mag die Here vir hule geliefdes beterskap bring. Baie hartseer dat sulke goeie mense weggeruk word op so ‘n wyse.

Carol ·

Ek love Prophet Shepherd Bushiri. Hy is n ware man van God wat die wereld skud met die Evangelie.
En ek love James Nee se worship musiek..

peanut ·

daardie snelweg was nog altyd doodsgevaarlik. Sterkte aan die oorledenes se families en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.