SANParke se verblyf maak dán oop

Sonsopkoms in die Krugerwildtuin. Foto: SANParke

SANParke het aangekondig dat die verblyf in die meerderheid van sy nasionale parke van 14 Augustus af sal oop wees.

Begeleide safarivoertuie sal eers toegelaat word wanneer die regulasies daaroor in die Staatskoerant gepubliseer is.

Oornagverblyf sal slegs toegelaat word vir inwoners van die verskillende provinsies waarin die onderskeie nasionale parke geleë is. Interprovinsiale besoekers sal toegang tot die parke verbied word.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het einde verlede maand aangekondig dat Suid-Afrikaners wel nou weer vir ontspanningsdoeleindes hul huise mag verlaat en by gastehuise en hotelle oorbly mits dit in hul betrokke provinsie gebeur.

Volgens SANParke sal die Addo-, Kamdeboo- en Karoo- Nasionale Park se verblyf eers op 17 Augustus heropen en in die Bergsebra- Nasionale Park op 20 Augustus.

“Ons is besig om seker te maak dat die opening van verblyf in ons nasionale parke onder die strengste gesondheidsprotokolle gedoen word om ons personeel en gaste veilig te hou,” het Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, gesê.

“Al die akkommodasiegeriewe sal nie onmiddellik op volle kapasiteit beskikbaar wees nie, aangesien ons ’n geleidelike benadering tot die heropening daarvan sal volg. Ons lojale gaste kan dus beperkte beskikbaarheid verwag in van die parke in die beginfase van heropening, met ʼn geleidelike toename in beskikbaarheid oor die volgende paar weke.”

SANParke het bykomende prosedures ingestel om besoekers te hanteer om die risiko van die verspreiding van die koronavirus verder te verminder. Daar sal van oornaggaste verwag word om ’n bewys van adres te lewer wanneer hulle verblyf in die parke bespreek en wanneer hulle by hul verblyf aankom. ʼn Munisipale rekening of enige soortgelyke wettig aanvaarde vorm van verifiëring van adres sal aanvaar word.

Nie meer as twee mense word per akkommodasie-eenheid toegelaat nie, behalwe in die geval van ouers en kinders. Die heropening van aktiwiteite en toeriste-aantreklikhede in die parke sal gedoen word in ooreenstemming met die afsonderingsregulasies en die uiteengesette openingsdatums.

“Ons sien uit daarna om al ons lojale gaste terug te verwelkom, maar doen ’n beroep op ons kollegas, toeriste en hul vriende en gesinne om verantwoordelik te reis. Geniet die parke en sorg dat julle aan alle gesondheid- en veiligheidsprotokolle voldoen,” het Mketeni afgesluit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Baie goeie nuus. Die KNP wag. Wonder net hoe het hul dit vermag om die nuwe bewoners van talle huisies in Skukuza te oorreed om pad te gee?

marius ·

Wat het dit nou ewe skielik laat verander ? Die grootste liegspul op aarde om mense soos skape te beheer . Een vet klug !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.